Nuuskommentaar: Die donkie in die pot is nie ‘n wonderlike ding

Terwyl Afrikaners kook oor minister Lawwe Lulu se stelling op ‘n Australiese TV-stasie dat dit die Afrikanerman se Calvinistiese opvoeding is wat hom sy vrou en kinders as sy eiendom laat beskou, en daarom hul lewe kan neem, is Suid-Afrika om ‘n ander rede weer hier en oorsee in die nuus.

Kort op die hakke van die nuus dat verskeie Europese lande, waaronder Brittanje waar die bom aanvanklik gebars het, perdevleis verorber het wat as “100% bief” bemark is, tref die nuus Suid-Afrika dat Suid-Afrikaners onwetend aan ou Langoor gesmul  het.

Jare gelede het ‘n koshuis by Maties ‘n Franse kok gehad, wat die allerverskriklikste slegte kos gemaak het, maar as “sjef” was hy baie trots op sy werk. By geleentheid loop die studente hom by oor frikkadelle wat haas oneetbaar was, en wou weet wat hy alles daarin gesit het. Die sjef, wat sy kookgeheime wou beskerm, se Engels laat hom in die steek, en in plaas van “secret” sê dis ‘n “mystery.”

Vandaar die Matie-uitdrukking van “mysteryballs.”

En steeds, so lyk dit, is die inhoud van wors, droëwors, hamburgerfrikkadelle, maalvleis en verskeie ander vleisprodukte in Suid-Afrika, ‘n “mystery.”

Dit is nie nuut aan Suid-Afrika nie. In die laat 70-gerjare het die WNNR vasgestel dat van die “boerewors” wat in Pretoria bemark is, nie net long, kraakbeen en ander afvalmateriaal bevat het nie, maar ook ‘n persentasie “onidentifiseerbare” materiaal.

As die WNNR iets nie kon identifiseer nie, dan ís dit ‘n “mystery.”

Die perdevleis wat in verskeie Europese lande as “100% bief” opgeduik het, het nie oral om dieselfde rede ‘n vieste veroorsaak nie. Sekere nasies, soos die Britte, eet uit ‘n kultuurhistoriese perspektief nie perdevleis nie, terwyl perdevleis eet by ander, soos die Belge, nie so ongewoon is nie. Maar perdevleis is veel goedkoper as beesvleis, en iemand wat die sak skud vir 100% bief, word bedrieg as hy dan ‘n persentasie perdevleis kry.

Godsdiens speel ook ‘n rol. Een van die persone wat nou geïmpliseer word, ‘n Nederlandse vleisverspreider, is verlede jaar gevonnis omdat hy Suid-Afrikaanse perdevleis ingevoer het en as halaal-bief verkoop het. Nou erken hy dat hy perdevleis aan ‘n Franse verwerker verkoop het – as perdevleis. Die Franse verwerker hou egter vol die vleis wat by hom afgelewer is was duidelik as beesvleis gemerk.

Die Britse se afkeer aan perdevleis eet kom van ver af. ‘n Nuwe studie in die Oxford Journal of Archaeology het aangetoon dat oorblyfsels van geslagte perde taamlik algemeen gevind is by terreine wat voor die sesde eeu na Christus deur die Angele en Saksers bewoon is. Dié mense is tussen die sesde en agste eeu geleidelik gekersten en daarna was tekens dat perde geëet is feitlik afwesig.

Die navorsers meen die gekerstende Angel-Saksers het die eet van perdevleis as heidense rituele beskou na aanleiding van praktyke in Noordwes-Europa, waarvandaan hulle self oorspronklik gekom het.

Pous Gregorius III, pous van 713 tot 741, het die eet van perdevleis as ‘n afskuwelike daad en gruwel beskryf.

Hoewel ander heidense praktyke as reste in die vroeë Christelike godsdiens vasgevang gebly het, het die eet van perdevleis in Brittanje die wyk geneem.

Intussen het die bohaai oor die perdevleis in bevrore kitsgaargeregte dwars oor Europa opslae gemaak, ook in lande waar die eet van perdevleis nie ongewoon is nie.

Suid-Afrikaners, soos die Amerikaners, se afkeer aan perdevleis eet, dateer waarskynlik uit dae toe die perd die mens se belangrikste vervoermiddel en geselskap was. Om getroue ou Poon na sy aftrede te verorber sou min of meer so ondenkbaar wees om Wagter en Kiets vir die pot in gedagte te hou.

Daar is ook duidelike godsdienstige taboes, wat welbekend is, soos dat Jode geen varkvleis mag eet nie.

Tog is die eet van troeteldiere nie in alle kulture heeltemal vreemd nie. In die ou kulture het Indiane van Sentraal- en Suid-Amerika dikwels ‘n groot verskeidenheid troeteldiere aangehou, waaronder honde en ape, wat uiteindelik ook vir die pot bestem was.

In Sentraal-Afrika, waar sjimpansees, bonopo’s en gorillas erg bedreig word, is besoekers die naarheid in oor die “bush meat” wat oral langs die paaie, plate vlieë en al, verkoop word. Feitlik geen dier, hoe skaars ook al, word dié lot gespaar nie.

In Suid-Afrika is stedelinge soms ontsteld wanneer hulle onderweg werk toe, vir Vaaltuin, Violet, Servet en hul maats by die dieretuin sien en hartverskeurend hoor balk, en die middag op pad huis toe te sien hulle het ondertussen leeukos geword.

Vieste vir sekere soorte vleis het verskeie stories in omloop, soos dat baie van die skaapvleis wat in slaghuise gekoop word, eintlik bokvleis is. Of, dat Suid-Afrika se verbruik aan stokvis jaarliks veel groter as die vangste is, maar niemand weet wat word van die tonne baber wat jaarliks geoes word nie.

Doodgewone fiemies sal eenvoudig veroorsaak dat die versoeking groot bly om mense onbewustelik vleis in te jaag waarvan daar oorskotte is. Suid-Afrika het sowat 7 miljoen bokke, waaronder boerbokke.  Sowat 40% daarvan word op kommersiële plase aangehou. Maar gaan sê nou vir ‘n slagter jy wil boerbokvleis hê…

Die kwessie hou egter ook gesondheidsgevare in. As op die verpakking oor die inhoud gekierang word, kan iemand wat allergies vir soja is, dié gereg inkry.

Die Britse Voedsel- en produkte owerheid het sy kommer oor die teenwoordigheid van perdevleis in die honderdduisende pakke bevrore hamburgerpatties, kits spaghetti en lasagne uitgespreek omdat spore van die middel butazolid daarin aangetref word. Die oormatige inneem hiervan kan dodelike bloedsiektes veroorsaak.

Intussen, laat dit ‘n mens nie half na ‘n esel voel dat ons gedink het ons eet skoon bees- of skaapvleis nie? En is daar nie iewers ‘n paar donkie-ore om vir Lawwe Lulu op te sit nie?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae