Nuuskommentaar: Die dorings van De Doorns

Die geweld by De Doorns het werklik nie nog nodig gehad dat ‘n adjunk-minister kom kwaad stook nie. Adjunk-minister Marius Fransman sit lank reeds by sy base met eier in die gesig omdat hy as Wes-Kaapse leier van die  ANC nie dié provinsie, soos die ANC dit stel, kan bevry nie. Een van die redes vir die kleitrappery is dat die ANC toenemend die bruin mense van die land stief behandel – en in die besonder in die Wes-Kaap waar die bruinmense ‘n meerderheid vorm.

Die ANC, veral deur sy vakbondvennoot, Cosatu, probeer dus lank ‘n persepsie lewend hou, naamlik dat die boere van die Wes-Kaap hul werkers swak behandel. Dié persepsie word gereeld doodeenvoudig as werklikheid aangebied met strome bewerings tydens onder meer grondberade, rubrieke in koerante, ‘n minister wat op Kerkplein ‘n siedende aanval op boere doen en vele meer. Syfers en data van die landbou-unies word doodgewoon geïgnoreer.

Dit alles geskied teen die agtergrond van Suid-Afrika se baie groot inkomstegaping wat volgens die Wêreldbank se ginikoëffisiënt  die grootste in die wêreld is.

Die minister van huisvesting, Tokyo Sexwale, het pas sy kommer uitgespreek  oor die groot toename in die aantal dienslweringsaksies, veral sedert Marikana. Volgens hom was daar vanjaar reeds meer as 12 000, vergeleke met die hele 2011 se 11 000 protesaksies.

Die Wes-Kaap boere, onder meer via Agri Wes-Kaap, is besonder gevoelig oor die beeld van landbou. ‘n Groot deel van die landbouprodukte van dié provinsie word uitgevoer, en moet in die buiteland dikwels meeding met produkte wat swaar deur die lande van hul herkoms gesubsidieer word. Dit is dikwels sagte vrugte wat nie onbepaald geberg kan word nie.

Inisiatiewe is byvoorbeeld geneem om produkte, soos wyn, wat op plase geproduseer is wat aan onder meer alle areidswetgewing voldoen, as sodanig te sertifiseer om dit ‘n morele voorsprong in die internasionale handel te bied.

In die ses maande voor die nasionale grondberaad wat in 2005 gehou is, het Agri Wes-Kaap saam met die Wes-Kaap se departement van Landbou, destyds onder die politieke beheer van Minister Cobus Dowrey, alle klagtes van swak behandeling en mishandeling van plaaswerkers self ook ondersoek. Meer as tagtig sake is ondersoek, waarna drie in die hof beland het. Die boere wat in die hof beland het, is egter almal vrygespreek nadat die howe bevind het dat die sake teen hulle gefabriseer was, terwyl al die ander sake geblyk het ongegrond te wees.

By die nasionale grondberaad kort hierna het ‘n streep Wes-Kaapse NRO’s egter doodgegewoon die geykte bewerings teen boere in die Wes-Kaap herhaal.

Dit is hierna in beraad op beraad herhaal, en Agri SA se afvaardiging het by ‘n latere beraad in Somerset-Wes uitgestap.

Intussen het minister Lulu Xinwana op Kerkplein ‘n siedende aanval op boere gedoen, en dit gebaseer op ‘n enkele Wes-Kaapse geval.  Dit het egter geblyk dat die Wes-Kaapse geval ‘n gefabriseerde geval was – die klaagster het tot inkeer gekom en die boer wat sy beskuldig het in die openbaar om verskoning gevra. Dit is ook in ‘n verslag van die Onafhanklike Klagtedirektoraat vervat, en dié verslag was toe reeds ses maande in ANC-politici se besit – maar het dit dig probeer hou. Dit het egter na die DA uitgelek wat dié geval aan die groot klok gehang het.

Cosatu wou die klaagster se onthullings nie aanvaar nie. Op die oog af kom dit voor of baie van die NRO’s wat in die Wes-Kaap bestaan om wantoestande op die plase te ondersoek, en uit die buiteland en deur Cosatu gefinansier word, se bestaan van wantoestande afhanklik is. Word geen wantoestande gevind of gefabriseer nie, droog die fondse op.

‘n Onlangse verslag van Human Rights Watch wat breedsprakig oor wantoestande in die Wes-Kaap was, het geblyk ‘n stukkie onverteenwoordigende brouwerk te wees.

Dit neem egter niks van die feit weg dat daar persepsies is wat ‘n gunstige klimaat vir die opvangs van sulke verslae bied nie. Die Burger se rubriekskryfster, Zelda Jongbloed, het ook reeds tot ergernis van die georganiseerde landbou oor haar persepsie van wantoestande geskryf, en na kritiek onthul op welke geval sy haar persepsie baseer.

Met die tipe looneise van tot R16 000 per maand na aftrekkings waaroor ‘n deel van die mynwerkers ballisties geraak het, is dit te verstane dat plaaswerkers, en veral seisoenale werkers, persepsies sal ontwikkel dat hulle erg ingedoen word.

In die era voor minimumlone het boere dikwels ‘n groot deel van hul vergoedingspakette in natura aangebied. Dit sluit in gratis behuising, water, krag en rantsoene. In dele van die Karoo, wat ook deel van die Wes-Kaap is en wat deur Agri Wes-Kaap bedien word, het boere hul plaaswerkers tot twee skape per week saam met hul kontantloon vergoed.  Omdat die regering die in natura-vergoeding egter nie as deel van die loon erken nie, het dit grootliks begin verval.

Plaaswerkers het dus nou meer kontant in die hand soos wat die regering as doelwit stel, maar het dikwels in die proses agteruit geboer.

Benewens die algemene konteks waarin De Doorns afspeel, is daar die spesifieke omstandighede van die Hexsriviervallei en onmiddellike omgewing. Dit het ‘n baie hoë voorkoms van fetale alkoholsindroom. Die voorkoms onder graad een leerders in die area is tussen 4,6 tot 10,3 persent, ongeveer tien keer hoër as hoë risiko landelike gebiede in die VSA.

Die Wes-Kaap dien lank reeds as migrasiebestemming van mense uit veral die Oos-Kaap, en die karakter van een Wes-Kaapse dorp na die ander verander – en dit geld ook De Doorns. By De Doorns is die probleem voorts kompleks dat onwettige immigrante uit Lesotho en Zimbabwe ook vir die werksgeleenthede probeer meeding. Zimbabwiese burgers mag ingevolge ‘n amnestie, maar onwettige immigrante uit Lesotho mag nie in diens geneem word nie, sit werkloos en neem nou ook aan die protesaksie deel.

Dit, ironies, is deel van Fransman se potefeuljeverantwoordelikheid as adjunk-minister van Internasionale Betrekkinge.

Toe dit blyk dat die meeste boere van De Doorns hul werkers meer as die minimumloon vir plaaswerkers betaal, het die kwessie eensklaps ‘n nasionale probleem geword. Vandag word op nasionale vlak samesprekings gevoer om die minimumloon van plaaswerkers te verhoog – van die huidige R69,39 tot R80 per dag.

Presies hoeveel so ‘n ooreenkoms vir De Doorns sal bied waar van die boere reeds meer as die minimum betaal, sal teen die agtergrond van die eis van R150 per dag gesien moet word. Die stakers, onder die aanvuring van Fransman wat gesê het hulle sal nie &^% vat nie, en Cosatu se Tony Ehrenreich, het reeds die aanbod van R80 per dag wat minister Tina Joemat-Pettersson vandag gaan probeer beding, as ‘n belediging verwerp.

Omdat bloed nie uit ‘n klip getap kan word nie, gaan ‘n ongeskeduleerde verhoging in minimum kontantlone waarskynlik nog meer boere landswyd dwing om werkers te verminder, en sal meer werkers ook vir hul huisvesting en dienste moet begin opdok.

Na berig word, is daar binne die ANC nou ongelukkigheid met Fransman en Eherenreich se rol.

Wingerde wat afgebrand word, intimidasie van werkers wat nie staak nie, die afbrand van hul huise, plundery en die bedreiging van die veiligheid van motoriste wat die N1-gebruik verg verantwoordelike optrede gerig op die vind van ‘n omvattende oplossing – nie heethoofdigheid wat ‘n verwoestende rimpeleffek soos ‘n tsunami deur die land jaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.