Nuuskommentaar: Die groot leuen

‘n Ou grappie lui: “Hoe weet jy wanneer ‘n politikus lieg?” Die antwoord: “Wanneer hy sy mond oopmaak.”

Dit is nie ‘n tipiese Suid-Afrikaanse persepsie nie. ‘n Aantal jare gelede het ‘n Europese beweging tot stand gekom om moraliteit onder politici en die media te bevorder. Die media het egter gou geblyk ‘n bondgenoot te wees toe die wêreldekonomiese krisis aangebreek het, en die media ‘n belangrike rol gespeel het om inhaligheid in groot, privaat instellings aan die kaak te stel.

Die persepsies oor politici het egter nie veel verander nie, en is skynbaar ondersteun deur verslae deur Transparency International om bedenklike praktyke waarby politici betrek word aan die kaak te stel.

Tog vaar die meeste Europese lande beter as Suid-Afrika op die einste Transparency International se korrupsie-persepsie-indeks.

Die persepsie dat sommige Suid-Afrikaanse politici nie net in wat gesê word nie, maar ook wat verswyg word, wyd met die waarheid omgaan, loop wyd.

Môre vind ‘n beraad plaas wat deur die ad hoc-komitee oor eiendomsreg aangebied word. Die titel is veelbetekend: Grondbesit in Suid-Afrika (Die Groot leuen)

AfriForum gaan vandag, saam met ʼn slagoffer wie se man onlangs in ʼn plaasaanval vermoor is, ʼn klagtebundel by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) indien en versoek dat die kommissie ʼn formele openbare verhoor oor plaasmoorde inisieer, met spesifieke fokus op die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se traak-my-nieagtige houding oor hierdie misdaadverskynsel.

AfriForum gaan spesifiek versoek dat die kommissie die minister dagvaar om voor die kommissie te getuig oor sy versuim om teen hierdie soort misdaad op te tree. Die klagtebundel sal bestaan uit die klagtes van nege persone wat geliefdes aan plaasmoorde afgestaan het.

In die parlement se portefeuljekomitee vir onderwys het die departement die suksesse van die Funza Lushaka-projek verdedig, en syfers aangehaal oor hoe die plasing van die afgestudeerdes verbeter het. Uit opposisiegeledere is gemeld dat die onderwys jaarliks tussen 20 000 en 30 000 leerkragte verloor, en net 10 000 nuwe leerkragte jaarliks afstudeer. Groot tekorte bestaan in veral die landelike gebiede, en oorweging word daaraan geskenk om nuwe onderwysers as deel van hul opleiding eers ‘n ruk op die platteland te laat skoolhou.

Verskeie regeringsverslae het die jongste tyd die lig gesien, soos die ondersoek na die Waterklooflanding van die Gupta-straler, en die Nkandla-ondersoek. Na die verslae bekend gemaak is, is daar meer vrae as antwoorde.

Uit die Waterkloofverslag lyk dit of regstappe kan volg na ‘n persoon skynbaar ‘n sondebok gemaak is om iemand anders te beskerm, terwyl ‘n regsgeleerde wie se naam in die Glynnis Breytenbach-saak betrek is, ook regstappe aangekondig het omdat sy naam in ‘n beweerde onbehoorlike verhouding betrek en wêreldkundig gemaak is.

Minister Jeff Radebe gebruik die syfer van Suid-Afrika se oorvol tronke as bewys dat die Nasionale Vervolgingsgesag goed werk na dit in die Breytenbach-uitspraak goed moes riemspring. Radebe verswyg gerieflik dat van die 162 000 mense in die tronke 50 000 verhoorafwagtend is. Die aantal mense wat uiteindelik vir verkragting veroordeel word in vergelyking met die aantal verkragtings wat plaasvind is ook skrikwekkend laag.

Môre se konferensie oor grondbesit dui egter op ‘n probleem wat meer behels as dat politici, of sommiges altans, wyd met die waarheid omgaan. Dit handel oor persepsies wat verskillende groepe oor dieselfde saak navolg. In sy navorsing vir sy meestersverhandeling het die Matie, Charl Swart syfers aangehaal dat sowat 80% van die swart bevolking glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Veral blankes, maar ook bruin mense en Indiërs, is nié die mening toegedaan nie. Toe dr. Pieter Mulder in die parlement ‘n geskiedenisles oor grondbesit gegee het, is hy hewig gekritiseer, van pres. Jacob Zuma tot ‘n swart DA-LP wat ‘n mediaverklaring uitgereik het.

Julius Malema het lank op die kruin van populisme gery dat swart mense Suid-Afrika se oorspronklike inheemse bevolking is, terwyl die Koi-San die swart mense met tienduisende jare voorgespring het.

Zuma het onlangs in ‘n toespraak wat deels in SABC se TV-nuus uitgesaai is, gesê tradisionele swart grond is hoofsaaklik in die droër dele van die land geleë. ‘n Vergelyking van die land se reënvalkaart en die ou tuislande toon duidelik dit is ‘n kluitjie, maar sy geloofwaardigheid is slegs by daardie deel van die bevolking geskaad wat oor die objektiewe feite beskik.

En die mens reageer op sy persepsie van die waarheid, eerder as die waarheid self.

Daar is selfs ‘n nuwe geskiedenisboek saamgestel om Suid-Afrika se ware geskiedenis weer te gee, omdat baie van die ouer bronne nie heeltemal objektief was nie, en ‘n gans ander geskiedenis na 1994 vir die waarheid opgedis is. Wat die ouer bronne betref, is dit onder meer interessant om te sien hoe die aantal swart en bruin mense in die laer by Bloedrivier algaande minder geword het van meer as 400 aanvanklik, tot heeltemal niemand nie later.

Hierdie verskillende persepsies maak dit uiteraard baie moeilik vir enige politieke party wat volgende jaar se verkiesing wil aandurf, om werklik nie-rassig te wees.

Die DA-jeug se protes by Kleinfontein demonstreer die neteligheid, omdat beskikbare inligting daarop dui dat die meerderheid van Kleinfontein se inwoners in die vorige algemene verkiesing waarskynlik vir die DA gestem het.

Ook ander nie-rassige partye soos die ACDP moet fyn trap om oor kwessies soos plaasaanvalle nie op tone te trap nie. Met die groot uittog van lede was dit opmerklik dat swart LP’s wat oorgeloop het, by die ANC gaan aangesluit het, terwyl wit raadslede wat geloop het, hoofsaaklik by die DA, en voorheen ook by die destydse Vryheidsfront gaan aansluit het.

Kritiek op Kleinfontein en die Bruin Belangebeweging van Peter Marais, het ook aan die lig gebring oor hoe onkundig baie mense is oor wat in die grondwet staan. Terwyl sommige mense moeite doen om binne die grondwet op te tree word hulle vir hul “ongrondwetlike optrede” veroordeel.

In Engels word gereeld gewys op die wêreldwye gespartel om die “uncomfortable truth” in die oë te kyk. Om die werklikheid te verdraai om dié neteligheid te oorkom, is in ‘n plurale land soos Suid-Afrika gevaarlik. Eers wanneer daar ‘n algemene waarheid vasgestel en gevestig het, gaan politieke modelle se doeltreffendheid beproef word.

Môre se beraad is nie net belangrik in sy funksie om die ware feit oor grondbesit op die tafel te plaas nie, maar die manier waarop die waarheid algemeen inslag gaan vind is net so belangrik. Dieselfde geld vir sou daar inderdaad ‘n openbare verhoor oor plaasaanvalle plaasvind.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae