Nuuskommentaar: Die handskoene af in die ANC-leierskapstryd?

Dit is nog ongeveer ‘n halwe jaar voor die lot oor die toekoms van pres. Jacob Zuma gewerp gaan word, en in die politiek kan ‘n enkele dag ‘n baie, baie lang tyd word.

Die ANC het die deksel op die pot probeer hou deur die openlike leierskap-uitdaging tot Oktober uit te stel, maar dit sou miskien gewerk het as die president hom self by hierdie beperking gehou het. Die feit is egter dat Zuma sy veldtog reeds op ‘n redelike onsubtiele manier voer, bo en behalwe dat hy reeds aangedui het dat hy vir herverkiesing beskikbaar is, en ook meen dat hy die presidentskap heel bekwaam behartig. Die onlangse kabinetherskommeling staan ook teen hierdie agtergrond.

In ‘n eenpartybedeling, hetsy ‘n de jure-bedeling, of de facto, is ‘n leieskapstryd net so fel soos ‘n algemene verkiesing in ‘n werklike plurale demokrasie. Die verskil is dat ‘n deel van die bevolking wat nie deel van daardie dominante party is nie, passief moet staan oor iets wat hul lot net so erg raak. Hoopvolle kiesers wat ‘n groep tot binne-in die ANC gelanseer het om, soos belowe is, hul stem daar te gaan wees, het bedroë daarvan afgekom. Daardie stem is so stil soos muise met pantoffels. Dus het almal in die land nou teen wil en dank ‘n besondere belang oor wat die einde van die jaar in die leierskapsverkiesing in die ANC gaan gebeur. Trouens, onder die oppervlak broei dit reeds.

Daar is nie net voordele vir Zuma om so lank die enigste sigbare kandidaat te wees nie, al is hy reeds baie goed ingelig oor wie hom gaan uitdaag, en wie daardie kandidaat of kandidate steun. Hy kan hulle knyp, soos wat hy onlangs met die mediasirkus in Lethuli-huis gemaak het, maar hy self bly die mees blootgestelde van almal.

Dit is daarom nie snaaks dat hy ook ‘n weerligafleier inspan nie – iemand wat soos die outydse sondebok die argwaan moet kry. Dit lyk asof Collins Chabane, minister in die presidensie, die ongelukkige persoon is wat moet gaan houe vat. Hy, in plaas van Zuma, het as spreker by ‘n Oos-Kaapse jeugdagsaamtrek opgedaag, en is uitgejou. Met die steun wat Julius Malema steeds onder die jeugligalede geniet, is dit ‘n byna uitgemaakte saak dat Zuma, as hy self sou opdaag, ook uitgejou sou wees.

Heel verstaanbaar het Zuma se gereedmaking vir die G-20—beraad “voorgeval” en het hy self nie sy afspraak nagekom nie. Hoekom hy die uitnodiging Oos-Kaap toe in die eerste plek aanvaar het, is nie duidelik nie aangesien die G-20 vandag reeds begin, weliswaar heelwat later vandag omdat die beraad aan Meksiko se weskus plaasvind.

Vanoggend berig Media 24 dat Gwede Mantashe, een van Zuma se getrouste lojaliste, by die SAKP se jeugkongres ‘n aanval op adjunk-president Kgalema Motlanthe geloods het, en dat dit die eerste skote in die leierskapsverkiesing verteenwoordig. Mantashe het naamlik onlangs die doel van die sogenaamde tweede oorgang wat nou in ANC-besprekingsdokumente voorkom, bevraagteken.

Dit sal waarskynlik vir die land ‘n verligting wees as die leierskapstryd nader aan die oppervlak gevoer kan word, sodat die land en sy ekonomie hom solank daarop kan voorberei. Dit beteken egter nie dat almal die regte boodskap gaan hoor  nie – in die Polokwane-aanloop het Zuma steun gemobiliseer deur alles aan almal te beloof, en omdat dit gewerk het sal dit moeilik vir aspirant-kandidate wees om nou onder die vaandel van doeltreffende regering te probeer steun werf. Mooi woordjies by internasionale byeenkomste soos die G-20 tel nie meer baie punte vir Suid-Afrika nie. Die internasionale gemeenskap het Suid-Afrika se regering lankal uitgekyk, en moniteer wat werklik hier aan die gang is, en dit laat die land op verskeie indekse terugsak. Suid-Afrika vaar selfs swakker as lande soos Mali, Rwanda, Egipte en Tunisië op die wêreldvredesindeks.

Dwars oor die land kom daar nou diensleweringsbetogings voor, en dit gaan dikwels met geweld gepaard. Loononderhandelinge verloop stram. Die eeufeesjaar van die ANC, wat vir die party ‘n opwellings van geesdrif moes bring, is nou in die loopgrawe ingesleep en ontaard vinnig in ‘n anti-klimaks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.