Nuuskommentaar: Die inhoudelike van minderheidsregte

Die term, minderheidsregte, word nou baie gebruik, en ook in verband met die status wat die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika volgens die internasionale reg behoort te geniet.

Maar verstaan elkeen presies dieselfde wat daaronder verstaan word? Die kanse hiervoor is uiters skraal omdat dit ‘n baie komplekse en wydlopende begrip behels. Die Internasionale Reg hieroor is nog aan die ontwikkel, soos ‘n onlangse uitspraak deur die wêreldhof getuig dat Kosovo die reg tot eensydige onafhanklikheidsverklaring het, maar dat ‘n beduidende aantal state die onafhanklikheid moet erken. Die VN se Deklarasie vir die regte van persone wat lid is van nasionale, of etniese, godsdienstige and taalminderhede, wat op 18 Desember 1992 aanvaar is verwys in hoofsaak na nie-staatkundige regte. Die regte wat genoem word is hoofsaaklik die reg om, sonder om die status van die staat aan te tas, taal- , godsdienstige en kultuurregte sonder vrees vir diskriminasie te kan gebruik en selfs bevorder.

Oor die jare het state baie verdrae hieroor onderteken, maar weinig pas dit met erns toe.

Max van der Stoel

Hierdie beskouing van minderheidsregte sluit aan by die gedagte dat menseregte uit twee bene bestaan, naamlik individuele regte, en groepregte. Dit word goed gedemonstreer deur die lewe van Max van der Stoel. ‘n Bekende uit die Joop den Uyl-era, Max van der Stoel, is verlede jaar op 86-jarige ouderdom oorlede.

Van der Stoel het onder meer twee termyne as minister van Buitelandse Sake gedien – van 1973 tot 1977 en van 1981 tot 1982. As sodanig het sy naam vanselfsprekend sinoniem geword met die destydse veldtog teen apartheid, en veral dié van Nederland daarteen. Van der Stoel was egter geen politieke opportunis of mens van sy era nie. Hierdie oud-Partij van de Arbeid-lojalis was eerder bekend vir sy lewenslange veldtog vir minderheidsregte. Trouens, die Max van der Stoel-prys word elke tweede jaar deur die Europese Organisasie vir Veiligheid en Sekuriteit se Hoë Kommissaris vir Nasionale Minderhede toegeken aan persone en instansies wat besonder baie vir minderheidsregte gedoen het.

Die Suid-Afrikaanse grondwet is eerder op individuele regte as groepregte, en dus minderheidsregte, geskoei. Ingevolge ‘n later wysiging, maak die grondwet voorsiening vir die bestaan van ‘n Kommissie vir die bevorderings en die beskerming van die regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe. Terwyl uit die naam afgelei kan word dat dit oor meer regte handel as net taal, godsdiens en kultuur, beperk regeringswoordvoerders in hul verwysing na die kommissie na hierdie drie regte. Dit is egter van akademiese belang, want die kommissie is deur aanstellings, wetgewing en befondsing in ieder geval min of meer irrelevant.

Artikel 235 van die grondwet maak egter voorsiening daarvoor dat gemeenskappe met ‘n eie kulturele of taalidentiteit selfbeskikking kan kry, maar as deel van die nasionale staat. Voorts word ras as norm vir die identifikasie van so ‘n groep uitgesluit, in ooreenstemming met die internasionale reg. Dit beteken nie dat ras nie as groepreg in die grondwet manifesteer nie, maar altyd as sogenaamde “negatiewe reg,” maw dat daar nie onbillik teen sulke groepe gediskrimineer mag word nie en nie haatspraak teen hulle aangehef mag word nie. Dit manifesteer egter nie as positiewe reg, maw wat so ‘n groep staatkundig mag doen, nie.

Presies hoe kompleks dit is, is dat die VN se Deklarasie van 1992 spesifiek ekonomiese diskriminasie teen minderhede belet, terwyl dit moeilik is om te sien hoe die SEB-wetgewing  en sekere affirmative action (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie) maatreëls in Suid-Afrika nie daarmee in stryd is nie.

Dit is nie vreemd dat minderheidsregte, waar dit neerslag vind, in Sud-Afrika teenspoed kry as dit staatkundige uitdrukking kry nie. Die apartheidsalbatros trek moderne denke hier te lande steeds skeef, of anders word olie apartheid as strooipop opgedis om as weerligafleier vir magsvergryp te dien.

Elders ter wêreld is dit egter algemeen.

Die handves van die Europese Unie bepaal byvoorbeeld dat sulke groepe die reg van staatkundige selfbeskikking moet hê, anders mag die betrokke staat – soos Turkye – nie ‘n lidland word nie. Onder die voorbeelde is dat die Baske en Kataloniërs in Spanje ‘n tipe selfregerende status verkry het, en die Skotte ‘n eie parlement.

In België het die Vlaamse N-VA besluit om met die 2014-verkiesing formeel die gedagte van ‘n Belgiese konfederasie op die tafel te plaas. België het die afgelope aantal jare in ‘n etniese federasie ontwikkel, maar die kompleksiteite rondom die hoofstadgebied moes eers staatkundig uitgepluis word alvorens ‘n konfederasie oorweeg kon word. In ‘n konfederasie, anders as in ‘n federasie, geld die internasionale reg eerder as ‘n nasionale reg in die verhouding van die deelstate – min  of meer soos nou die geval met die Europese Unie is.

In baie gevalle neem die verskillende vertolkings van wat minderheidsregte behels, hebridevorme aan. In Indië het die pre-Indiese minderheid ‘n aantal gewaarborgde setel in die nasionale parlement, terwyl die Maori’s in Nieu-Seeland se aantal toegewysde setels geleidelik tot swe uitgebrei is, en boonop deur ‘n Maori-kongres aangevul word.

Die Franstalige inwoners van Kanada se Quebecprovinsie se selfbeskikking is deels geografies, waar hulle dié regte met die Engelstalige minderheid in die provinsie deel, en deels korporatief waar veral in die siviele regswese ‘n tipe korporatiewe selfbeskikking (regeer oor mense eerder as grondgebied) het.

Voorts word daar internasionaal by minderheidsregte ‘n spesiale subkategorie erken, naamlik die subkategorie van inheemse minderhede. In Suid-Afrika word daar uiters traag ontwikkel om sinvolle regte aan die enigste werklike inheemse bevolking, die Koisan, toe te ken. ‘n Onlangse verwysing van dr. Pieter Mulder in die parlement oor eerste besetting, het woede uit ANC en verwante kringe ontlok, en het dit enersyds geblyk die vestigingsgeskiedenis van Suid-Afrika is post 1994 herskryf, of dat dit andersyds uiters politiek inkorrek is om na die Koisan se posisie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te verwys.

Ons kyk vervolgens in bietjie meer detail na ‘n aantal meer spesifieke voorbeelde.

Die Afrikaner kan ruim uit die internasionale gemeenskap voorbeelde van regmatige minderheidsregte, met en sonder staatkundige implikasies navors.

In die volledige verslag word na ‘n paar internasionale voorbeelde gekyk. Dit kan hier gelees word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae