Nuuskommentaar: Die kous is klere vir Zuma – of is dit?

Net meer as tien dae is oor voor die ANC se nasionale kongres, bekend as die Mangaungkongres, in Bloemfontein plaasvind.
Belangrike sake is op die agenda; sake wat vroeër vanjaar met die beleidskongres nie oortuigend besleg is nie. Min waarnemers fokus nog hierop. In die gedagtes van menige Suid-Afrikaner is dit die kongres waar die lot van Suid-Afrika as suksesvolle of mislukte staat rondom een kwessie wentel – gaan pres. Jacob Zuma politiek oorleef, of gaan hy nie?

Daar is redelike konsensus dat Zuma, tot die ongeloof van waarskynlik meer as die helfte van die land se inwoners, herkies gaan word. Selfs vroeg in die jaar toe dit onwaarskynlik gelyk het dat hy sou oorleef, het kenners gewaarsku dat Zuma se vernuf om te oorleef, nie onderskat moet word nie.

Sedertdien het byna alles wat vir Zuma verkeerd kon gaan, wel verkeerd gegaan. Marikana het gebeur, die skoolboekkrisis het gebeur, munisipaliteite het opnuut hul eksamen by die ouditeur-generaal op indrukwekkende skaal met lof gepluk. Nkandlagate het gebeur. Daar was lekkasies uit die Nasionale Vervolgingsgesag oor die besluit om aanklagte van onder meer korrupsie teen Zuma terug te trek wat haas enige demokraties-verkose president in vlamme sou laat neerstort, juis terwyl die stort van onwelriekendheid oor hom hang, Suid-Afrika het in een jaar met tien plekke op die korrupsiepersepsieindeks agteruit geboer en op die meeste saakmakende indekse, waaronder die piesangrepubliekindeks, agteruit geboer.

Maar teen alle logika in nomineer die een provinsiale struktuur van die ANC na die ander Zuma as president. Drie provinsies waar Zuma se teenstanders skynbaar die oorhand het, se nominasiekonferensies het in wanorde uiteengespat. Gauteng is al provinsie waar adjunk-president Kgalema Motlanthe die voorkeurkandidaat is. In verskeie provinsies is daar bewerings van knoeiery, en die Vrystaatse kwessie het in die grondwetlike hof beland. In die Noord-Kaap is die ANC-stuurman en Zuma-ondersteuner, John Block, (al weer) op aanklagte van korrupsie aangekeer. Dit raak nie sy posisie in die ANC nie, en hy bly onverstoord as LUR aan.

So erg is die openbare kritiek teen Zuma dat een van sy sterkste ondersteuners, dr. Blade Nzimande, vir wetgewing gevra het om dit strafbaar te maak om die president te beledig. Daar was selfs dreigemente van rassegeweld, en dat die nasionale vredesakkoord waarop die grondwetlike bedeling gebou is – of dan dit wat die ANC daarvan nog respekteer, in die slag kan bly.

Ranjeni Munusamy skryf onder meer soos volg in die Daily Maverick oor Cyril Ramaphosa se toetrede as adjunk-presidentskandidaat ter ondersteuning van Zuma: “CYRIL Ramaphosa would make a better president than Jacob Zuma and he would be a better deputy president than Kgalema Motlanthe. He’d make a good prime minister if the African National Congress ever comes to its senses and insists someone other than Zuma run the government. But if he accepts the nominations for deputy president of the party in Mangaung, he will align himself forever with what Zuma has done to this country. The institutions and values laid to waste, the lying and cheating. The freeloading. He’d be Zuma’s Get Out of Jail Free card, a man to bring credibility where it was destroyed, to calm foreign investors nervous about spending a cent more in a country with no leadership, consensus or direction. Thank God, we’ll say when he gets any top job, with the prospect of better times when Zuma finally goes.

Waarnemers is dit eens dat die gehawende vyeblaar wat die ANC-strukture opper as rede vir Zuma se hernominasie op ‘n lomp georkestreerdheid dui. Die “rede” is dat die kontinuïteit groter stabiliteit sal bring, en is so belaglik dat dit die ANC skaad, en die beeld knou van almal wat met die pro-Zumakamp geassosieer word. Daar is sekondêre praatjies soos dat Zuma nou geleer het en ondervinding opgedoen het, en dat sake nou sal verbeter.

Die rede takel die geloofwaardigheid van die Zuma en almal wat hom steun net verder af, en elkeen staan onder verdenking van ‘n skeppie uit die pot neem.

‘n Deel van die duidelike georkestreerdheid is dat provinsies en strukture wat Zuma steun, Motlanthe nou straf deur hom glad nie vir een van die leiersposisies te nomineer nie, en Ramaphosa in sy plek nomineer.

Bespiegelings oor hoekom Ramaphosa moontlik as deel van die verkiesingsveldtog toetree, klaarblyklik ter ondersteuning van Zuma, is volop. Van die bespiegelings is wild, soos dat Ramaphosa eintlik sy oog op die presidentskap het en weet van genoeg geraamtes in die Zumakas om hom binnekort finaal te sink. Ander is hoopvol, soos Munusamy, wat meen die ANC sal hopelik tot hul sinne kom en iemand, soos Ramaphosa, as de facto eerste minister laat optree, en Zuma in die proses soos ‘n seremoniële staatshoof sy tweede termyn te laat uitdien. Trouens, Maroela Media het dié soort opsie reeds vroeër in die Groot Debat aan die orde gestel.

Nog ‘n bespiegeling is dat Zuma se teenstanders oor genoeg skietgoed beskik om deur dit bietjies, bietjies vir die media te voer, Zuma oor twee weke reeds heeltemal onverkiesbaar te hê. Die probleem met dié strooihalm is dat dit die ANC is waaroor kopgekrap word – Zuma is lank reeds onverkiesbaar, maar is steeds sterk op koers. Presies wat sal vir die ANC so erg wees dat hy vir die ANC onverkiesbaar sal wees? Owerspel en kinders buite die eg was nie, ‘n bevinding van die grondwetlike hof dat hy nie sy werk gedoen het met die aanstelling van ‘n direkteur van nasionale vervolging was nie, Nkandlagate was dit nog nie. Dit lyk of omtrent net ‘n onthulling met onomstootlike bewyse dat iemand ‘n spioen van die vorige bedeling teen die ANC was, genoeg sal wees om iemand te sink.

Intussen bly Ramaphosa se motiewe duister, en die tyd vir ‘n behoorlike ontplooiing van gebeure wat die land se toekoms voor ‘n kruispad van hoop of van swartgalligheid gaan plaas raak nou baie min. Dié swartgalligheid is ongelukkig nie sonder meriete nie. In ‘n Media 24-artikel word die knyptang-effek van vinniger as inflasie-stygings in veral munisipale dienste aan die hand van ekonome soos Dawie Roodt en Mike Schüssler aan die orde gestel.

Maar … in die politiek kan een dag ‘n baie lang tyd wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae