Nuuskommentaar: Die kuberruim as nuusbron

Met die Amerikaanse presidentsverkiesing voor die deur fokus die wêreld al hoe meer op wat die peilings sê. Byna al die peilings gee aan pres. Barack Obama ‘n voorsprong bo sy Republikeinse uitdager, Mitt Romney, maar een instansie, Rasmussen, gee aan Romney ‘n geringe voorsprong.

Maar dis nie al wat Rasmussen doen nie. Rasmussen gee ook daagliks ‘n e-pos-nuusbrief uit waarin nie net die peilings van die Amerikaanse presidentsverkiesing daagliks bygehou word nie, maar ook oor ander sake verslag gedoen word.

In vanoggend se nuusbrief kom Amerikaners se voorkeur vir nuusbronne ook aan die beurt. Veertig persent van die volwasse Amerikaners dink die kuberruim is die beste plek om daagliks oor nuus en ander sake ingelig te word. Altesaam 37 % meen die TV is die beste manier, 9 % die radio en net 7 % sê hulle wend hulle tot gedrukte koerante.

Die feit dat mense ‘n spesifieke medium verkies vir nuus, beteken nie noodwendig dat hulle hul uitsluitlik tot daardie medium wend nie.

‘n Tweede, hartseer, saak is dat ‘n groter keuse van nuusbronne nie noodwendig beteken dat mense beter ingelig is nie. Watter huishouding ken dit nie dat die telefoon juis sal begin lui as die TV-nuus begin, terwyl dit tydens die sepies nie gepiep het nie? Of mense wat om ‘n verskeidenheid redes sekere inligting eenvoudig uitblok nie? Met die Woolies-debakel is daar talle voorbeelde waar lesers onderaan berigte kommentaar gelaat het wat duidelik uitgewys het dat hulle nie hul opinies baseer op inligting wat in die berig self genoem is nie – inligting wat van onkreukbare bronne afkomstig was.

In nog ‘n verslag meld Rasmussen dat meer as 2300 000 mense nou sy daaglikse verslae op Twitter volg nadat die getal die afgelope 16 maande verdubbel het.

Die verskuiwing van die nuusontvangers se voorkeur hou uiteraard nie tred met sekere realiteite nie, soos dat ‘n baie groot deel van die nuus oorspronklik afkomstig is van koerante wie se verslaggewers en betaalde korrespondente die nuus ingesamel het. Al hoe meer koerante het nou ook internetweergawes, en span ‘n groot verskeidenheid metodes in om roofjoernalistiek te probeer fnuik. Dit kan immers nie in die praktyk werk nie dat ‘n koerant al die koste het om die nuus te produseer, die nuus te sindikateer met die hoop om daaruit ‘n inkomste te kry, en dan te ervaar hoe ander die nuus gebruik deur die inligting sonder kompensasie oor te neem.

En dan boonop te ervaar dat lesers presies dieselfde nuus meer geloofwaardig vind omdat dit in die kuberruim raakgeloop is.

Die moderne samelewing en die tegnologie beteken egter nie dat nuus wat op die internet verskyn, noodwendig elders “geroof” is nie. Bykans geen politieke party, landbou-organisasie, kultuurbeweging en ander instansies sal vandag droom om nié gereeld nuusverklarings uit te reik nie. ‘n Beduidende deel van instansies se begroting gaan in ‘n vermoë om relevante nuus te versprei, wat dit moontlik gemaak het vir baie media-instansies om tot stand te kom wat glad nie meer ‘n kapasiteit het om voetwerk te doen om nuus in te samel nie. Hulle is geheel afhanklik van nuus wat na hulle gestuur word, of wat hulle uit die kuberruim kan haal. Een so ‘n instansie voorsien gemeenskapsradiostasies met ‘n gesamentlike luistertal van ‘n miljoen van nuusbulletins.

Nog ‘n perspektief is dat druk op die konvensionele nuusmedia, daardie media dwing om minder ervare joernaliste in te span, wat beteken dat al hoe meer ervare nuuspraktisyns hulle tot die internet wend, en van die beste aktualiteitsbydaes dus in die kuberruim is. In Suid-Afrika het raskwotas soms ook ‘n impak.

In Suid-Afrika is dit egter nog ‘n rariteit dat ‘n internetjoernalis in aanmerking kom vir kompetisies om die beste joernaliste vir hul prestasies te bekroon. In baie kompetisies is sulke joernaliste gewoon uitgesluit, uiteraard tot die nadeel van die borge van daardie kompetisies. Die borg wil immers nie net baie blootstelling hê nie, maar ook blootstelling in ‘n medium wat geloofwaardigheid geniet. Uitsluiting skree dus teen Rasmussen se bevindings.

Oor watter nuusbron as die mees betroubare ervaar word, sal van land tot land verskil word. In die voor-1994-Suid-Afrika is in ‘n stadium bevind dat die publiek die TV met vermaak assosieer, en daarom die radio as meer geloofwaardig beskou. Koerante was toe meestal politiek verbonde en het geloofwaardigheid daaroor ingeboet. Deesdae word die SABC deur baie as ANC-mondstuk ervaar en beskou, en dit het ‘n impak op geloofwaardigheid.

Verskillende gemeenskappe ervaar ook die afwesigheid of aanwesigheid van advertensies, en die hoeveelhede advertensies as aanduiders van geloofwaardigheid.

Die meeste nuusbronne sal minstens periodiek hul lesers van hul akkuraatheid probeer oortuig. ‘n Koerant het byvoorbeeld reeds in 1998 sy lesers gemaan teen die geloofwaardigheid van inligting uit die kuberruim, en onder meer aangedui dat die koerant besef hoe maklik dit ook vir die media is om hul inligting daar goedkoop te kan tap. Maar weens die feit dat baie van daardie inligting ongeloofwaardig is, kan die koerant die gevaar loop om self geloofwaardigheid in te boet.

Teenstanders van die betrokke koerant se politieke agenda voer weer deurlopend aan dat hulle juis die kuberruim aandurf om geloofwaardige inligting te bekom…

Die publiek is egter ook ‘n taai kwessie op sy eie om van geloofwaardige inligting voorsien te word. Al hoe meer instansies wat strategies-belangrike inligting by die publiek moet kry soos koende sensusse werk nou al daardie inligting in TV-sepies se storielyne in.

‘n Oningeligte publiek is ook kwesbaar vir die grootste klomp snert. Onlangs het ‘n SMS die rondte gedoen dat die ganse land op ‘n bepaalde dag ‘n kragonderbreking sou ervaar. Lank na die regte inligting oor al wat beskikbare media versprei is, het die SMS steeds soos ‘n veldbrand versprei. ‘n Ruk later was daar wel ‘n geskeduleerde kragonderbreking in ‘n area wat met die riemtelegram in paniek was, maar die streek se kragvoorsiener kon nie daarin slaag om genoeg van die inwoners betyds daarvan ingelig te kry nie. Dat die betrokke kragvoorsiener soos gebruiklik nie sy telefone beantwoord het toe die nuus wel ‘n paar ore begin bereik het nie, het darem ook tot die verwarring bygedra.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae