Nuuskommentaar: Die lewe volgens Jim

Irvin Jim. Foto: Sapa

Baie Suid-Afrikaners se Sondagoggend voor kerk is goed omgekrap toe RSG op die sewe- en agtuur-nuusbulletins ‘n klankinsetsel gespeel het waarin die grootbaas van Numsa, Irvin Jim, onder die ANC, die nasionale ontwikkelingsplan, witmense en gematigdheid inseil.

Jim beleef dat die ontwikkelingsplan besig is om as die ANC se formele beleid vasgemessel te word, wat beteken dat hy en sy vakbond eintlik volledig buite die ANC-denke geplaas word. Hy kan hom nie eens op die SAKP beroep nie, want dié steun die plan ook – al is dit moeilik om te sien hoe die SAKP dit en kommunisme versoen.

Om weer die voet in die deur te kry moet hy hom met ander populistiese sentimente inverweef, en sy arsenaal is so bankrot dat hy eintlik niks verder kom as om die ontwikkelingsplan as ‘n witmensding en voortsetting van apartheid voor te hou, en dan af te skiet nie. Die plan word dan ook as ‘n kwalik verdoeselde stuk DA-beleid voorgehou. Hy gaan so ver om te sê die ontwikkelingsplan is strydig met die Vryheidsmanifes. Hierin is hy deels reg, maar baie van wat Jim bepleit is ook in stryd met die manifes – onder meer sy aandrang op neo-apartheid. Maar van die opstellers van die manifes het dit as ‘n goeie dokument vir sy era en nou ideologies uitgedien beskryf– wat ‘n onderwerp op sy eie is.

Dat hy slaag reflekteer eerder op ‘n swak ingeligte publiek as op Jim se briljantheid, of enige doelbewuste aandeel wat die DA daaraan het. Die DA-leier, Helen Zille, het juis nou weer bekommerd opgemerk hoeveel mense glo dat die DA weer apartheid sal herinstel as dié party aan bewind sou kom, en ook glo dat Helen Suzman ‘n ANC-lid was. Vir Zille, aktivis van die Black Sash en so ook die UDF, moet hierdie verbete persepsies frustrerend wees.

Om Jim af te lag is nie so maklik nie. Die NUM, die ruggraat van Cosatu, is erg suur vir Numsa wat heelwat van sy lede afgerokkel het. NUM is voorts aan die bloei weens die opkoms van AMCU wat nié deel van Cosatu is nie.

Ook ander Cosatu-vakbonde is nou in ‘n gespanne verhouding met die regering. Sadou (Sadtu) dring op die ontslag van die minister van onderwys aan – ‘n heel verdienstelike eis al is dit in hierdie geval om die verkeerde rede – en is met ‘n soort sloerstaking besig. Popcru is ongeveer so stil soos ‘n pantoffelmuis terwyl die Marikana-sitting aan die gang is, en Nehawu en die MWU se stakingseisoen lê nog voor.  En ja, Zuma is geen Margaret Thatcher wat in vakbondverhoudinge landsbelang ook iewers laat deurskemer nie.

En dit is in hierdie opgesweepte emosionele klimaat van stakings en rumoerige optogte waar Jim se retoriese geteem op vrugbare aarde val, en sy relevansie vir die regering in statuur soos ‘n ballon kan opblaas.

Die Bybelse sondebok was ‘n onskuldige bok wat gekies was om die sondes van ‘n gemeenskap simbolies op te laai, en is dan die wildernis ingestuur. So is die gemeenskap dan van straf vir hul sondes gevrywaar.

Dikwels word gesê apartheid word nou die sondebok gemaak. Maar is dit so? Na hierdie “sondebok” die wildernis in gejaag is, word die bepaalde gemeenskap steeds met allerlei wetlike maatreëls besoek – ‘n waarheids- en versoeningskommissie te spyt.

Nee, apartheid word ten regte of ten onregte, doodgewoon die vark in die verhaal gemaak, en moet maar die ewige slaansak bly, ook vir sondes waaraan dit geen aandeel het nie.

Van pres. Jacob Zuma ANC-president geword het, het hy sy magsposisie probeer verskans deur alles vir almal te wees. Hy is selfs op rekord dat hy die Afrikaner ‘n “eie geestelike Nkandla” gegun het (die land kan immers nie nog ‘n fisiese Nkandla bekostig nie), en so ook aan ander gemeenskappe en belangegroepe beloftes gemaak het, dikwels lynreg in stryd met mekaar.

Dit behoef geen profeet nie om te weet dat dit nie altyd volgehou kan word nie. Daar  was wel die maklike ontsnaproete – blameer apartheid en almal vergeet waaroor die oorspronklike twis gegaan het.

Kortom, as die klassieke ANC-kieser deurmekaarder raak as ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartie-boksie, sê net apartheid, en hy is weer swart en stem weer “reg.”

Verder was dit maklik om die kiesers weer in gelid te kry deur die DA as wit gevaar voor te hou – en waar dit nie so maklik was nie soos ‘n oorwegend swart DA-optog na Cosatu-huis, is die saak doodgewoon, soos ook met die IVP en die Shell House-skietery, buite-om die demokrasie in die slag van Braamfontein besleg. Maar dit word ook al hoe moeiliker omdat die ANC die party is wat op die pad van nie-rassigheid agtergelaat word.

Nou kook dit in die ANC, soos die Manuel-Zuma-presidensie-insident oor die blaam vir apartheid getuig. Manuel het oornag ‘n held geword sodat die DA-gesinde media ook moes begin uitroep: “Hokaai, hou perspektief. Manuel het ook maar goed geswyg oor kritieke goed soos Nkandla en die wapenskandaal.” Hulle kon net sowel bygevoeg het dat Ramaphosa ook nie juis sy top afblaas nie.

Ja, intussen word hard probeer om die kiesers te oortuig dat die ANC suksesvol regeer, “ten spyte van die allerverskriklike stremming wat apartheid.” Dié mededelings is nie altyd in eerbaarheid getooi nie. Die jongste was toe ook aartsbiskop Desmond Tutu gesê het mense het onder apartheid veiliger gevoel as nou. ‘n Kabinetswoordvoerder het gereageer deur te dis onwaar, navorsing toon dat mense nou veiliger voel, en voorts op polisiesuksesse rondom geweldsmisdade geroem.

Vir Jan Publiek is dit nie so maklik om polisiesuksesse die afgelope 22 jaar sedert die laaste apartheidswet geskrap is te meet nie. Dit word beaam deur dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies beaam dat syfers vir vergelykings onbekombaar is. Die polisiestatistiek op die polisie se webwerf dui slegs die afgelope agt jaar aan, en daarvolgens was daar in sommige kategorieë soos moord wel afnames, maar toenames in huisrooftogte – wat die persepsie van veiligheid by verskillende gemeenskappe beïnvloed. Twee en twintig jaar gelede was erwe nog nie so met duiwelsvurk afgekamp, en tronktralie-diefwering vir versekeringsdoeleindes nog nie verpligtend nie. Die private sekuriteitsbedryf was veel kleiner, en is nog selde gehoor van polisiestasies wat beroof word.

Instansies wat plaasaanval-statistieke byhou, hou dit gewoonlik van 1994 af by, omdat dit daarvoor nog uiters selde voorgekom het. Toe het die kommando’s boonop nog goed gefunksioneer – iets wat ondertussen afgeskaf is met die plaasvervangende strukture wat nog erg sonder hulpbronne sukkel.

Leserskommentaar op veral die internet dui daarop dat daar erge polarisasie bestaan, vertroetel en aangeblaas word deur roekelose uitlatings soos dié van Jim, maar ook deur ongeloofwaardige uitlatings soos dié van die kabinetswoordvoerder.

Moontlik is die rubriekskrywers reg dat die meer geloofwaardige senior ANC-lede soos Manuel en Ramaphosa nou meer gereeld hul sê moet sê om die ANC wat nou skynbaar ‘n besonder vloeibare tydperk beleef weens swak oorhoofse leierskap, in die regte rigting te dwing. Maar dit sal nie met die DNS  van die ANC van Zuma en sy dampkring strook nie.

As die regering hard probeer om die Afrikaner in sy eie land te vervreem, slaag hy skitterend in sy doel. In die jongste verlede het twee kwessies op rou tone getrap:

–       Die jongste voorstelle dat Afrikaans as hoftaal moet verdwyn, wat by die Regterlike Dienstekommissie te berde gebring word. Dit is veral sensitief omdat baie mense glo dat die meerderheid lede van dié kommissie bloot ontplooide ANC-kaders is. Van die oorspronklike beloofde wigte en teenwigte wat deur oud-president FW de Klerk beloof is, is dit eintlik nog net die howe wat hierin in hul doel slaag, en daar sal dus aansienlike weerstand wees om dit ook bloot in ‘n politieke verlengstuk van die ANC te laat ontwikkel. Die afgeskaalde posisie van Afrikaans lei reeds daartoe dat erkende Afrikaanse regsterme, soos “artikels” van wette, in die slag bly en selfs groot Afrikaanse koerante gereeld die foutiewe “seksies” uit Sapa-tekste oorneem. Beeld maan vanoggend in ‘n hoofartikel oor die vooruitsig dat Afrikaans weer tot kombuistaal gereduseer kan word.

–        ‘n Storm het voorts losgebars oor die rol van meriete versus velkleur (wie het gesê die ANC streef nie-rassigheid na soos die Vryheidsmanifes voorskryf?) onder andere met die aanstelling van regters, wat ook die hoofregter, Mogoeng Mogoeng betrek het. Hy word in ‘n rubriek van Tim du Plessis die kop gewas.  Oudregter Johan Kriegler van die Freedom under Law dreig om die RDK voor die hof te sleep hieroor.

Suid-Afrika het reeds ‘n lang lys van politieke leiers wat die land nie kan bekostig nie. En Irvin Jim en sy gedagtegang begin nou skrum vir die voorste gestoelte in hierdie geledere.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Bettie Slabbert ·

Ek wonder wanneer gaan die volgende waarhede uitkom. Suid-Afrika in die apartheids-era het die sterkste weermag gehad, ten spyte daarvan het, het die blankes gestem apartheid moet uit. Ons wou vorentoe, apartheid het volgens die meerderheid Suid-Afrikaners sy tyd uitgedien. Maar nou laat die huidige regering met al sy regstellende aksies en korrupsie ons terug verlang na die dae van apartheid. Suid-Afrika het die mense om van hierdie land n vooruitstrewende land te kon gemaak het. Terwyl ons almal en alles blameer, in plaas van ons moue op rol en saamwerk gaan ons land net agter uit. Dit terwyl baie lande hulle tande slyp vir ons minerale en grond. Word wakker Suid-Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.