Nuuskommentaar: Die Nkandla-spook gaan nou éérs loop

Zuma. Foto: GCIS

Die regering hoop dat die vrae oor die Nkandla-saak, wat in die handel en wandel as Nkandlagate bekend geword het, nou eens en vir altyd besweer is na enkele bevindings oor die saak pas na ‘n ondersoek deur die Departement van Openbare Werke bekend gemaak is.

Dat die regering hieroor in ‘n lugkasteel woon, blyk uit die stroom kritiek van politieke partye sedertdien. Dit wissel van duidelike beskuldigings dat die ondersoek ‘n poging is om die saak toe te smeer, tot dat dit nog meer vrae as antwoorde opgelewer het.

Boonop het die verslag wel ‘n duidelike aantal ongerymdhede bevind, maar die president se betrokkenheid by enige daarvan ontken.

Die groot vraag is steeds: Daar is ‘n groot kompleks waarvan die president die eienaar is, wat duidelik meer kos as wat die president met sy salaris kan bekostig, en waarvoor hy volgens wet nie ‘n verband behoort te kon kry nie omdat dit op trustgrond staan.

Boonop, soos ‘n skynbaar verdoemende verslag in die kuberruim lui, is die geboue by Nkandla maar die oortjies van die seekoei van omvattender ontwikkelings wat die koste van die Nkandla-hoofweg insluit. In dié verslag wat glo deur amateur-ondersoekers opgestel is, word met skynbare oortuigende gegewens ‘n netwerk van ongerymdhede soos ‘n dopmaatskappy en mense met dubbele belange by die naam genoem.

Die kort weergawe is dat die land vir die verslag van die Openbare Beskermer moet wag. En dan bly die vraag steeds bestaan hoeveel die land daarna sal weet omdat ‘n groot deel van die projek weens veiligheidsoorwegings in geheimhouding gehul sal bly.

Die jongste regeringsverslag val boonop saam met die nuus dat die regering, volgens die ouditeur-generaal, konsultante van die boekjaar 2008-’09 tot 2010-’11 R102 miljard betaal het. Volgens Beeld se hoofartikel is dit die gevolg van die regering wat met sy beleid van kader-ontplooiing oorboord gaan.

Die grondwet magtig wel dat die owerheid “tot ‘n mate” persone weens ideologiese oorwegings kan aanstel, maar die grondwet vereis deurgaans dat die staatsdiens doeltreffend moet wees en deur kundiges bedryf moet word. Dit is moeilik om te sien hoe die beleid van kaderontplooiing die toets van die grondwet sal kan deurstaan, en nog minder internasionale konvensie vir demokrasie waar daar ‘n duidelike skeiding tussen die staat se wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag moet wees.

Trouens, kundiges beskryf die enorme bedrag wat konsultante betaal word (wat nie munisipale vlak insluit nie) as so groot dat dit op ‘n staatsdiens binne die staatsdiens neerkom. Dit sou nog in ‘n mate geregverdig kon word as dit die gewenste uitwerking sou hê, maar dit het nie. ‘n Groot probleem blyk te wees dat diegene wat die konsultante moet aanstel dikwels nie die vermoë het om tussen die kaf en korrels te onderskei nie, en dan dikwels instansies aanstel wat beter daartoe in staat is om hulself te bemark as instansies wat die werk doeltreffend kan doen.

Die druk wat die ANC pas op ENB toegepas het oor ‘n advertensie gebaseer op navorsing, dui op ‘n regerende party wat min erg het aan die outonomie van instellings buite die staatsfeer, laat staan nog binne die staatsfeer.

In gisteraand se RSG-program, Kommentaar (wat op die program al deur paneellede as ‘n eiland van onafhanklikheid binne die SAUK beskryf is), is dit duidelik gestel dat die land ‘n ontsettende hoë prys betaal vir uitlatings van die president, soos die jongste tydens sy besoek aan Davos in Switserland waar ekonome vertel is dat die oproer in die land ‘n normale verskynsel van die demokrasie is.

Dit is algemene praktyk dat diktators alle staatsmiddele aanwend om ‘n ander weergawe van die werklikheid aan die burgers voor te hou. Dit is op die oomblik baie duidelik in Sirië waar die beleërde pres. Assad steeds ou geykte terminologie inspan om die situasie in sy land te beskryf; werklikheidvervreemde “feite” wat reeds van die bewind van sy pa af by die publiek ingeprent is. Noord-Korea en Kuba is nog opvolgdinastieë waar dit gedoen word.

In Suid-Afrika is dit moeilik om ‘n alternatiewe werklikheid volledig verkwansel te kry. Dat dit minstens ten dele moontlik is, blyk daaruit dat Zuma in Desember oorweldigend tot ANC-president herkies is. Ander gemeenskappe vind Zuma se herverkiesing ondenkbaar, en so ook die meeste saakmakende lande waar koerante selfs hoofartikels geplaas het om die ondenkbaarheid daarvan en die gevolge vir die land uit te spel. Instansies soos veral die SABC-TV wat volledig by die Zuma-doktrine ingebind is, verloor dan bloot hul geloofwaardigheid by die ander gemeenskappe. In ‘n sin verdiep dit die polarisasie in die land.

Daarom is die regering se versugting dat sy eie verslag oor Nkandla die wantroue oor die Nkandla-kwessie gaan opklaar  eenvoudig werklikheidsvervreemd. Dit gaan soos die wapenskandaal – wat ook reeds jare gelede deur ‘n soortgelyke ondersoek waarvan die Heath-ondersoekeenheid blatant weggelaat is en waar die kabinet flink aan die finale verslag geredigeer het – soos ‘n spook bly loop tot die kwessie eendag deur ‘n vir almal geloofwaardige proses in die reine gebring word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George Kersop ·

Soos vermeld deur MEC Nxesi was daar ongerymhede met die “supply chain”, graag wil ek weet hoeveel is aan die leweransiers vir hul kontrakte betaal en hoeveel moes hulle aan Lethulie huis betaal vir die kontrakte aan hulle toegeken. Sekerlik gaan die ANC ook hulle deel van die miljoene wil hê?

Raadop met ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.