Nuuskommentaar: Die polisiekommissie en die swaardmag

Terwyl die polisie in die Wes-Kaap op verskeie Bolandse dorpe deur oproeriges aangeval is, en ‘n polisieman beseer is, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof ‘n belangrike uitspraak gelewer.

Die belangrikheid van die hof se beslissing oor die grondwetlikheid van ‘n kommissie van ondersoek na die doeltreffendheid van polisiëring in Khayelitsha, moet nog behoorlik insink. Elke wetsgehoorsame burger wil veilig voel, wil die polisie vertrou en doeltreffend sien, en dit is sleutelaspekte waaroor provinsies gesag het. Maar dis iets wat die minister van polisie skynbaar in die tande probeer skop, en dit is moeilik om ‘n ander motief daarin te lees as om te probeer keer dat ‘n provinsie wat nié deur die ANC beheer word nie, ondoeltreffende kaderontplooiing aan die kaak kan stel.

Terwyl daar al verskeie uitsprake vanuit ANC-geledere was om die Wes-Kaap “van die DA te bevry” en selfs om dit ondertussen onregeerbaar te maak, is die grondwetlike gesag wat die provinsie oor die polisie het, uiters belangrik. Slegs deur deeglike inspraak kan ‘n provinsie ‘n Marikana-herhaling op sy grondgebied probeer voorkom. Boonop is daar vanuit Cosatu-geledere gereelde oproepe dat landbouprodukte uit Suid-Afrika in die buiteland geboikot moet word, wat werkloosheid aan die hand sal werk.

Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het die kommissie aangestel na herhaalde klagtes uit die gemeenskap dat misdaad in hierdie woongebied hande uitruk en ernstige bewerings teen die polisie in hierdie gebied gemaak is.

Die nasionale minister van Polisie, Nathi Mthethwa, het aansoek gedoen dat die kommissie tersyde gestel word, onder meer omdat Zille haar mandaat sou oorskry. Hy het ook beweer dat hy nie in die aanstelling geken is nie. Zille het vervolgens onbeantwoorde korrespondensie ter insae gebied, en gesê die minister het eers gereageer na die kommissie aangestel is.

Die Hooggeregshof het bevind dat die aanstelling van die kommissie wél grondwetlik is, iets waaroor die minister appèl oorweeg.

Artikel 206 (5) van die grondwet, wat onder meer handel oor die provinsie se bevoegdheid om polisiedoeltreffendheid te moniteer en goeie kommunikasie tussen polisie en gemeenskappe te bevorder, magtig provinsies om ‘n kommissie van ondersoek juis na hierdie kwessies in te stel.

Ingevolge die grondwet is daar sekere nasionale funksies, sekere provinsiale funksies en sekere gelyklopende funksies. In ‘n tipiese federale bedeling sou die nasionale en provinsiale funksies min of meer eksklusief wees, soos in die VSA waar die nasionale regering volledige sê het oor verdediging en buitelandse sake, en die deelstate se gesag oor onder meer onderwys min of meer absoluut is. Suid-Afrika is egter nie ‘n federale staat nie, en provinsies se bevoegdhede is dus nie absoluut nie.

Dit is internasionaal ‘n redelik algemene verskynsel om die weermag die eksklusiewe domein van die nasionale regering te maak, en om absolute magsmisbruik en selfs staatsgrepe te verhinder, die polisie se beheer tot ‘n groot mate in die hande van deelstate of provinsies te laat.

Polisie is egter in Suid-Afrika ‘n gelyklopende bevoegdheid, en dit is nie so maklik om te bepaal watter regeringsvlak primêr vir wat verantwoordelik is nie.

Die gevolg was dat die polisie in wese soos ‘n nasionale funksie bedryf is, soos onder meer ‘n nasionale taalbeleid vir die polisie in te stel, selfs provinsiale kommissarisse na ander provinsies te verplaas, en die provinsiale wetgewers is selde of ooit sinvol in enige oorsigrol geken.

Mthethwa se hofaansoek is wyd as politiekery bestempel. Sommer met sy eerste aansoek is hy in ‘n verleentheid gestel toe hy aangevoer het: “Daar is absoluut geen getuienis dat die aanvalle deur sogenaamde vigilantes uitgevoer word nie.” ‘n Interne verslag het egter aangetoon hoe die polisie verskeie gevalle van boendoehowe ondersoek het.

Uiteindelik het die aanwesiges in die hof Mthethwa se advokaat se vyeblaar-argument humoristies gevind: Zille mag miskien wel die kommissie aanstel, maar het nie die bevoegdheid om polisielede te dagvaar om getuienis te lewer nie. Die regter het hom daarop gewys dat dit die kommissie, en nie die premier is nie, wat getuies dagvaar.

Onder die instansies  wat met die hofuitspraak saamstem en dit verwelkom, is die Sentrum vir Grondwetlike Regte, en hul standpunt deeglik aan die hand van die grondwet motiveer.

Uiteindelik lyk dit of Mthethwa net een motief kon gehad het – om te verseker dat die ANC via die nasionale regering ook absolute gesag oor die polisie uitoefen. Dit is moeilik hoe hy sy standpunt kan probeer verdedig wat selfs onder ANC-ondersteuners ongewild is.

Baie vrae bly nog onbeantwoord, soos hoe ander provinsiale bevoegdhede, soos amptelike provinsiale tale, ‘n impak op die polisie se taalbeleid in daardie provinsie behoort te hê. Word die polisie se doeltreffendheid en kommunikasie met die gemeenskappe nie ook bepaal deur die tale wat die polisie kan, en selfs amptelik moet gebruik nie?

Aan die ander kant moet ook aanvaar word dat die finale grondwet “so vaag geskryf is dat ‘n wa en span osse daarin kan draai” en dat die meer presiese inhoud deur regspraak en wetgewing vleis gegee moet word. Hofsake van hierdie aard sal dus ‘n tipiese verskynsel wees, en solank die uitsprake oorwegend goed is, is daar aansien vir die grondwet.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae