Nuuskommentaar: Die president is dood, lank leef die nar

Hugo Chavez. Foto: biography.com

Die presidentskap en afsterwe van die president van Venezuela, Hugo Chavez, hou vir Suid-Afrika besondere lesse in – veral vir diegene wat ‘n heldeverering vir ‘n man koester wat sy land se minerale bronne, soos die olierykdom, genasionaliseer het.

Chavez se dood bring die einde aan ‘n era wat verskillende mense verskillend sal onthou.

Terwyl baie inwoners van Venezuela rou, werklik rou, en veral derdewêreldlande soetsappige retoriek opdis – die Suid-Afrikaanse regering inkluis – is daar ‘n groot deel van die wêreld wat Chavez sal onthou vir die ongelooflikste sothede wat hy in sy politieke loopbaan kwytgeraak het. Verskeie lyste met dié “wyshede” is in van die wêreld se voorste koerante gepubliseer.

Hy is veral lief om staatsleiers die duiwel te noem, maar ook op ander maniere sleg te sê.

Dit is geen verrassing nie dat Julius Malema as leier van die ANC-jeugliga, Chavez as rolmodel voorgehou het. Dis nie net met omstrede uitlatings wat die twee politieke tweelinge was nie, maar Malema het Chavez ook as rolmodel gesien vir een wat wild genasionaliseer het, veral die land se olierykdom wat hy mildelik teen verminderde pryse aan “rewolusionêre vriende” soos Kuba beskikbaar gestel het.

Soos Malema wat dikwels met ‘n Ché Guavarra-baret gesien is wat Malema verspot soos ‘n kadotjie gedra het, was Chavez ook ‘n groot aanhanger van dié Suid-Amerikaanse rewolusionêr. In die praktyk het Chavez hom egter met lippediens meer aan die Suid-Amerikaanse bevryder, Simon Bolivar verbind, en sy beleidsrigtings selfs Bolivarisme genoem, maar dit is moeilik om enige werklike raakvlakke op te spoor. Hy het wel Bolivar se 1820-droom van ‘n verenigde Latyns-Amerika gedeel.

Voor sy bewindsaanvaarding in 1999 het Chavez tydens sy verkiesingsveldtog benadruk dat hy nie die duiwel is nie, dat Kuba ‘n diktatorskap is, en dat daar geen sprake van nasionalisering in sy planne is nie. Vandag staan dié opmerkings boaan die lys van sy mees bisarre opmerkings.

Suid-Afrika en van die ander vriendskaplike lande het Chavez geloof vir die ekonomiese vooruitgang en veral vir die armes. Hy het Suid-Afrika in 2008 besoek en onder meer verklaar dat hy daarna uitsien dat die eerste tenkskip met olie uit sy land eersdaags sy vrag in Suid-Afrika sal ontskeep. Hiervan het volgens beskikbare data dadels gekom.

Protokol of politieke blindheid het sy lofprysers egter laat versuim om te meld dat Chavez die land se ekonomie met sy nasionalisering enorme skade berokken het, en van bykans alle ekonomiese kragte gestroop het. Die land se inflasiekoers is in die orde van 20%, en kostekorte word weens die owerheid se inmenging in die mark ondervind. Die bolivar, Venezuela se geldeenheid, is tydens Chavez se kankerbehandeling in Kuba met 46% gedevalueer. Kragtekorte kom voor terwyl die dalende olieverkope gevoel word. Waarnemers meen dat die ekonomie tydens die hoogtepunt van olie-inkomste in werklikheid net met 3% per jaar gegroei het, en dat die ekonomie ernstige tekens van stagnasie toon weens die verdrywing van beleggers.

Venezuela het die grootste bekende oliereserwes in die westelike halfrond, en dié inkomste is gebruik om sosialisme te laat werk.  Sowat 10 000 klinieke is hiermee gebou.

Dié oliedollars het Chavez die soort onaantasbaarheid gegee waarmee hy sy vriende kon kies en aan die gang hou, en vir die VSA en sy invloed kon tong uitsteek.

Chavez self was van gemengde Spaanse, Indiaanse en negerafkoms. Met die aanvanklike verkiesing van Barack Obama het hy hierdie kaart hoopvol uit die pakkie getrek, en een van sy wyshede kwytgeraak: “Ek wil jou vriend wees.” Toe dit nie gebeur nie: “Jy is ‘n bedrieër  … jy is ‘n skandvlek op swart mense.”

Hoewel beide sy ouers onderwysers was, was die gesin so arm dat Chavez vir ‘n tyd lank deur sy ouma grootgemaak moes word. Hy het haar as engel beskryf. Sy was baie godsdienstig, en die jonge Chavez was selfs kanselknapie. Dit het hom egter nie verhinder om later ‘n revolusionêr te word  en selfs twee jaar tronk toe te gaan vir sy aandeel in ‘n mislukte staatsgreep nie.

Later, terwyl hy self president was, sou hy self ‘n staatsgreep oorleef.

Die uiteenval van die ou Sowjet-Unie wat Kuba se ekonomie kop bo water laat hou het met die aankoop van Kubaanse suiker ver bo markprys, het vir Fidel Castro se mense erge swaarkry ingelui. Na berig word het mense selfs hul troeteldiere geëet in dié tyd wat in Kuba as die “spesiale tydperk” bekend staan. Die Sowjet-Unie se ruim voorsiening van spotgoedkoop olie het opgedroog, en trekdiere moes weer ingespan word om landerye om te ploeg.

Maar toe daag die ridder op die wit perd op in die vorm van Chavez. As ‘n groot aanhanger van Ché Guevarra, het hy onder meer olie aan Kuba ver onder markwaarde verkoop. In ruil het Kuba dokters, verpleegsters en ander mediese personeel voorsien om veral in Venezuela se landelike gebiede waar groot tekorte is, te gaan diens doen.

Dit was ook na Kuba wat Chavez hom vir behandeling teen kanker gewend het. Die omstrede Chavez se teenwoordigheid op hul grondgebied, en veral die uitgelekte inligting dat hy terminaal siek is, het die moontlike aanbreek van ‘n nuwe “spesiale tydperk” laat posvat.

Kort na Chavez se dood het Venezuela aangekondig dat ‘n nuwe presidentsverkiesing binne dertig dae gehou sal word. Kubane – en ander Latyns-Amerikaanse lande soos Nicaragua, die Dominikaanse Republiek en Jamaika wat voordeel uit Chavez se PetroCaribe-program trek, sal dus oor ‘n maand weet waar hulle staan.

Hoewel die Amerikaanse USGS glo dat daar enorme oliereserwes in die see noordwes van Kuba opgesluit lê, was alle soektogte daarna tot dusver vrugteloos.

Intussen het Kuba sy onderpresterende ekonomie deur beleggings uit verskeie lande begin diversifiseer. Spanje het swaar in toerisme belê, en Kanada in die eiland se nikkel-industrie. Ook China, Viëtnam en Brasilië het al beduidende beleggings gemaak, iets waaroor Chavez hom in  sy land nie moeg gemaak het nie.

Maar as Henrique Capriles die pyp as nuwe president van Venezuela rook, sal die “weggee” van die land se olie volgens beloftes tot ‘n einde kom. En die 100 000 amper pasella vate olie per dag wat Kuba nou kry, sal beslis gevoel word.

Hoewel demokratiese prosesse soos verkiesings onder Chavez se bewind nie in Venezuela  die slag gebly het nie, het sy “nasionalisering” van radiostasies (die sluiting van onverbonde stasies en vervanging met pro-Chaves-propagandastasies) die land nie goed op demokratiese indekse laat vaar nie. Die land beklee die 117de plek op die persvryheidsindeks teenoor die 77ste in 2002 – drie jaar na Chavez aan bewind gekom het.

Terwyl ontleders nog stoei om die werklike impak van Chavez se dood op die wêreld te meet, is een ding duidelik; sonder Chavez se losbekkigheid gaan die internasionale politieke toneel veel valer wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae