Nuuskommentaar: Die prys van geweld

Betogings in die Wes-Kaap Foto: David Harrison, M&G

Die koste van die geweld in die mynbedryf se berekeninge begin nou beskikbaar word. Vir die kosteberamings van die Wes-Kaapse geweld sal ‘n rukkie gewag moet word.

Die land het reeds miljarde rande in regstreekse skade gely, maar dit sal waarskynlik uiteindelik kleingeld wees in terme van onregstreekse kostes – ‘n verswakkende rand met sy inflasionistiese impak, valutaverliese van veral uitvoermarkte van sagte vrugte en wyn, en beleggerskapitaal, wat soos die ekonoom Dawie Roodt dit stel, lafhartig is en veilige hawens soek. Dit sluit Afrikalande in wat onlangs nog as baie riskant beskou is.

Dit alles geskied teen die agtergrond van ellendige politieke leierskap, wat nog swakker is namate die ANC se belangrike beraad einde Desember nader kom.

Die Wes-Kaapse probleem staan nie in isolasie nie. Aan die een kant meen dr. Danny Titus van die Menseregtekommissie dat die huidige minimumloon vir plaaswerkers te min is om van te leef, en in wese op ‘n skending van menseregte neerkom. Die ander kant van die munt is dat die hantering van die ekonomie beteken dat sowat 7 miljoen mense in Suid-Afrika weens die werkloosheidskoers heeltemal niks verdien nie, en nog miljoene verdien nog minder as die plaaswerkers se minimumloon.

Bloed kan nie uit ‘n klip getap word nie, en ‘n onoordeelkundige sektorale prysvasstelling sal nog baie werkers tot die geledere van die werkloses toevoeg eerder as ‘n hoër inkomste bied. Die georganiseerde landbou het ‘n loonsubsidie voorgestel.

Dat daar politiekery soos die aanry per bus van betogers / intimideerders by betrokke is, is ongetwyfeld so, en die uitlatings van adjunk-minister Marius Fransman is van so ‘n aard dat pres. Jacob Zuma se versuim om hom af te dank, ‘n ernstige vertrouenskrisis in die land skep.

Israel se optrede teen Hamas in die Gasastrook kan ook nie heeltemal losgemaak word van die aanloop tot vroeg volgende jaar se algemene verkiesing in Israel nie. Maar hoeveel ander opsies het Israel werklik?

Cosatu het reeds Israel se huidige offensief veroordeel, klaarblyklik sonder om die werklike feite en die internasionale reg te verreken.

Soos die Europese pers dit stel: Niemand betwyfel Israel se reg om stappe te neem om die bedreiging die hoof te bied nie. Die vraag is egter of Israel meer mag aanwend as wat nodig is om die bedreiging die hoof te bied?

Die term, proporsionaliteit, word graag gebruik, maar dit is in wese ‘n sinnelose element, aangesien Israel in die verlede veel harder geslaan het as nou, en nogtans nie heeltemal die afvuur van vuurpyle, missiele en mortiere vanuit Gasa op Israelse nedersettings kon keer nie.

Die Gasastrook word deur die radikale Hamas beheer, wat nie Israel se bestaansreg erken nie. Ten spyte van  vorige aksies van Israel om die bedreigings die hoof te bied, soos die streng beheer van wat in Gasa ingaan, en na bewering ‘n onlangse lugaanaanval op ‘n wapenfabriek in Soedan wat deur Iran besit word, bou Hamas telkemale ‘n arsenaal op, onder meer deur smokkeltonnels na Egipte, met die uitsluitlike doel om Israel aan te val. Dié aanvalle word skynbaar blindelings op burgerlikes afgevuur met mortiere wat gereeld in skoolterreine val, en Israel se jongste reaksie is juis geaktiveer toe drie Israelse burgerlikes in ‘n woonstelgebou omgekom het.

Hamas het in reaksie op die weerwraak vir die eerste keer begin om vuurpyle op Tel Aviv en selfs Jerusalem af te vuur, wat meestal deur Israel se lugverdediging onderskep is.

Die vernaamste kritiek teen Israel is ook dat burgerlikes in die proses omkom. Israel het aan die een kant te kampe met die probleem dat die skieters dikwels juis hul wapens van burgerlike terreine soos skoolterreine afvuur, en dus burgerlikes as skanse gebruik. Met die jongste aanvalle het Israel egter ook gewaarsku dat hy die eiendom van belangrike Hamas-leiers gaan aanval, en die publiek gewaarsku om weg te bly van sulke teikens.

Trouens, Israel het die radiofrekwensies van twee gewilde senders gekaap. Israel saai elke vyf minute in Arabies oor die senders van Hamas en die Islamitiese Jihad boodskappe uit om mense te waarsku om van sulke teikens weg te bly.

Israel waarsku ook voorts dat hy weer ‘n grondoffensief sal loods indien die lugaanvalle nie die gewenste uitwerking gaan hê nie.

Die politiek word gekompliseer deurdat die Palestynde president, Mahmoud Abbas, ook Israel se aanvalle veroordeel. Abbas is van die meer gematigde PLO, wat wel Israel se bestaansreg erken, en aan die Wes-Oewer aan die bewind is. Abbas het op die punt gestaan om Europa te besoek om stemming te maak vir die erkenning van Palestina as staat. Hy het nou sy besoek op die lange baan geskuif.

Geweld gaan nie die Israels-Paletynse of die Wes-Kaapse situasie blywend oplos nie.  In beide gevalle het die verskillende partye uiteenlopende sienings van die werklikheid.

Hoe langer politieke opportunisme of ideologiese bevooroordeeldheid sake dikteer, hoe dieper word persepsies gevestig en hoe moeiliker word dit om blywende oplossings te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.