Nuuskommentaar: Die prys vir vrede

“Alles (en almal) het ‘n prys.”

Dié sêding duik al hoe meer in TV-programme op met die implikasie dat as genoeg opgedok word, selfs die mees beginselvaste mens ‘n knieval voor die klinkende munt sal maak.

Pres. Jacob Zuma het pas bekend gemaak dat Suid-Afrika R21 miljoen per maand, en R1,2 miljard oor die volgende vyf jaar sal spandeer vir die aanwesigheid van Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek.

Met baie voorbeelde van werkers wat hul werk verloor, waaronder duisende plaaswerkers wat nou hul werk verloor omdat die regering onbekostigbare minimumlone aan die landbousektor opdwing, is dit ‘n voor die hand liggende vraag of daardie geld nie op tuisbodem veel beter spandeer kon word nie.

Maak dit sin om geld in ‘n ander Afrikaland te gaan stort ter wille van stabiliteit daar, terwyl Suid-Afrika al hoe meer sien hoe beleggers kopsku vir die onstabiliteit hier raak en juis na ander Afrikalande koers kies? Suid-Afrika loop die gevaar om binne twintig jaar nie meer die grootste ekonomie in Afrika te hê nie. Suid-Afrika word wat veral die primêre onderwys betref deur verskeie Arikalande geklop, asook op indekse soos die korrupsie-persepsie-indeks en die persvryheidsindeks.

Twee redes vir die uitdeel van geld elders in Afrika en selfs in lande soos Kuba en Haïti, kan bestaan. Die eerste het te make met prestigewaarde. Het dit te make daarmee om die land as sterk land te bemark waar beleggings veilig (en winsgewend) is, is dit min of meer in die haak. Het dit daarmee te make om die persoonlike aansien van die regeringshoof te bevorder is dit tekenend van ‘n piesangrepubliek, met die teenoorgestelde gevolge. En ja, Suid-Afrika vorder in die verkeerde rigting op die indeks vir mislukte state, ook bekend as die piesangrepubliek-indeks.

Met die migrasie van Afrikabevolkings, ook na Suid-Afrika, en dan weer binne Suid-Afrika, is dit wel so dat ‘n probleem wat vandag ‘n probleem vir ‘n Afrikaland ver van die Suid-Afrikaanse grens is, môre ‘n probleem vir Suid-Afrika kan word. Die aankeer van ‘n twintigtal vermeende samesweerders teen die bewind van pres. Joseph Kabila van die Kongo in Suid-Afrika is waarskynlik ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Die ou grappie lui dat die Nigeriërs in Suid-Afrika wat nie in ‘n tronk is nie, diegene is wat nog nie gevang is nie. Die Nigeriese Hoë Kommissaris het al beswaar gemaak oor die persepsie dat Nigeriërs skelms is en toe ‘n skrikwekkende syfer verskaf oor hoeveel hulle in Suid-Afrikaanse tronke bevind terwyl hy bedoel het om dit as ‘n geringe probleem af te maak. Regsgeskiedenis is ook pas gemaak toe ‘n leier van Nigeriese separatiste in die olieryke Niger-delta hier aan terreur skuldig bevind is oor wat daar gebeur het.

In die Ivoorkus het ‘n burgeroorlog uitgebreek toe die president wat die presidentsverkiesing verloor het, aangevoer het burgers van buurlande het ook gestem. In Wes-Afrika is migrerende gemeenskappe ‘n algemene verskynsel en hou die moderne landsgrense weinig verband met tradisionele woongebiede en werklikhede soos geskikte weiding.

Alle lande in Afrika sal daarby baat vind as die kontinent politieke stabiliteit bereik. Die Weste vereis dat dié stabiliteit demokrasie moet koester.

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek lê in die hartjie van verskeie Afrikalande wat oor groot olie- en gasreserwes beskik, waaronder Suid-Soedan, Nigerië en weskuslande soos Gaboen, maar het self nog geen olie ontdek nie, en die boorwerk het tot dusver ook nie veel opgelewer om oor opgewonde te raak nie. Tensy Suid-Afrika dus spesiale konsessies van die olieryke buurlande kry vir die bring van stabiliteit na die streek, is dit moeilik om te sien hoe die ingryping meer as net prestigewaarde vir Suid-Afrika inhou.

Onstabiliteit is nooit aan te bevele nie, hoewel olieryke lande breed glimlag as daar iewers onstabiliteit is wat die wêreld se oliepryse die hoogte injaag. Hulle teer letterlik op die probleme wat byvoorbeeld in Jemen ervaar word wat veroorsaak dat bitter min van hierdie land se olie uitgevoer kan word, en bydra tot die skaarsheidsfaktor.

Suid-Afrika, wat amper-amper ‘n volledige monopolie op platinum het (veral saam met Zimbabwe), het nou al drie keer die afgelope net meer as ‘n jaar gesien hoe onstabiliteit die platinumprys opjaag. Die eerste was die Amcu-staking aan die begin van verlede jaar, toe die Marikana-skietery, en daarna die Anglo Plat se aankondiging dat vier onlonende skagte gaan sluit, gevolg deur die minister van Minerale se vloermoer daaroor. Terwyl dit die afgelope paar jaar na ‘n vaste gegewe gelyk het dat die goudprys hoër as die platinumprys sou wees, is platinum vanoggend $1 697 per fynons teenoor goud wat teen $1 646 verhandel het. Beide beleef egter nou ‘n daling, en daarom is dit gevaarlik om die onlangse piek in die platinumprys aan ‘n herstellende wêreldekonomie toe te skryf soos beter syfers van veral die Duitse ekonomie sou aandui.

As die president nie op die laaste Donderdagaand in sy staatsrede behoorlik motiveer hoekom Suid-Afrika dit nodig ag om in die Sentraal Afrikaanse Republiek militêr betrokke te raak nie, sal die vermoede dat dit om persoonlike aansien gaan moeilik nek omgedraai kan word. En daarop sal beleggers en die ekonomie nie sommer goed reageer nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae