Nuuskommentaar: Die skoonste taal

Die vraag is nie of daar ‘n aanslag teen Afrikaans is nie, die vraag is hoe groot daardie aanslag is. En die aanslag kom ook nie net vanuit ANC-geledere nie. Derdekolonners is ook lustig aan die sloop van hul moedertaal.

Taalregte, wat insluit dat Suid-Afrika elf amptelike tale het, word verskeie kere in die grondwet vermeld. Reeds in die aanhef word die elf tale genoem, maar dit gaan verder deur die bevordering van inheemse tale te noem. Terwyl daar miskien ‘n meningsverskil is oor die amptelike status van Afrikaans, is daar geen twyfel dat Engels nie onder die inheemse tale val nie, maar in die praktyk is dit die taal wat sterk voorgetrek word. As Afrikaans as nie ‘n inheemse taal beskou word nie, moet dieselfde vir die ander nege geld waarvan die ontstaanswortels ook buite die landsgrense val.

Die ANC se aandrang op elf amptelike tale tydens die grondwetlike onderhandelingsproses, word wyd beskou as ‘n slenter om uiteindelik Engels as enigste amptelike landstaal te laat oorbly.

In hul akademiese werk, Fundamental Rights in the New Constitution, skryf Cachalia en ander reeds in 1994 oor taalregte dat dit duidelik onprakties is om gelyke status aan elf amptelike tale te gee, en dit word voorsien dat daar uiteindelik net een sal wees. Dit behoewe geen kristalkykery om te weet watter taal die skrywers in die oog het nie. In die onderhandelingsproses tussen die oorgangs- en finale grondwet het dit ook geblyk dat die ANC oor een saak nie sou kopgee nie – die ANC het aangedring daarop dat die bepaling dat die reeds verwerfde posisie wat ‘n amptelike taal geniet, nie verminder mag word nie, nie in die finale grondwet opgeneem mag word nie. Dat daar ‘n aanslag teen Afrikaans beoog is, kon met ‘n stok aangevoel word.

Aanvanklik is een grondwetlike taalwaghond, Pansat, in die lewe geroep. Sommer baie vroeg in sy bestaan het Pansat uitgewys dat die regering self die grootste oortreder van die grondwet se taalbepalings is. Dit het van groot sake tot skynbaar mindere sake gewissel, soos die kwessie van FS op die Vrystaat se nommerplate. Vroeg reeds het Pansat bepaal dat verbod op die alternatiewe gebruik van VS ongrondwetlik is, maar die destydse LUR het dié beslissing op “appèl” na die Menseregtekommissie geneem, waar die hoofkantoor dit na die grootliks disfunksionele Vrystaatse kantoor verwys het, wat dit steeds nie aangespreek het nie – selfs na die media verskeie kere navraag gedoen het en die hoofkantoor se verwysingsnommer voorsien het – is ontken dat dit van die opdrag bewus is en is dit dus ook nie ondersoek nie.

Ingevolge die internasionale reg het volke in lande soos Suid-Afrika egter meer regte is bloot hul kulturele- en taalregte, en op inisiatief van die Vryheidsfront is die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe in die grondwet ingeskryf, en in die “lewe” geroep.

In die openbare besprekingsproses was dit egter duidelik dat die regering iets heel anders as die VF in die oog gehad het, en talle konferensies met die hooftema van nasiebou is gehou. Uiteindelik het die VF self teen die wet gestem waarvolgens die liggaam se take beskryf, en dit in die lewe geroep is. Sedertdien verwys die regering ook deurgaans ook slegs na taal-, godsdiens- en kultuurregte wanneer na die liggaam verwys word. Deur onoordeelkundige aanstellings en begrotingsbeperkings is die liggaam funksioneel ook bykans lamgelê.

Die swak befondsing tref egter ook van die ander grondwetlike liggame, soos die Openbare Beskermer. Hierteenoor is die nie-grondwetlike en omstrede Jeugkommissie ruim befonds, en is die vermorsing onder die voortspruitende Jeugontwikkelingsagenskap verantwoordelik vir skandaal op skandaal. Dié agentskap sorg in ‘n groot mate dat verkose ANC-jeugleiers ook ‘n stewige salaris op die belastingbetalerskoste ontvang. Reeds die eerste openbare beskermer, adv. Selby Baqwa, het in ‘n stadium sy speelgoed uit die kot gegooi omdat hy, as goed-gekwalifiseerde, ‘n kleiner salaris as die nat-agter-die-ore voorsitter van die jeugkommissie verdien het.

Nog ‘n aanduiding van die gesindheid teenoor taalkwessies was dat die regering nie ‘n grondwetlike voorskrif uitgevoer het om ‘n taalwet te skryf en te aanvaar nie. ‘n Prokureur, Cornelis Lourens, het in eie hoedanigheid die regering hiervoor hof toe gesleep, en die saak gewen. Daar het wel in 2003 ‘n omvattende konsep die lig gesien, maar is sonder verduideliking deur die regering herroep.

Nou word die Wetsontwerp op Tale deur ‘n parlementêre komitee bespreek, en openbare getuienis afgelê. Die konsensus is dat die wetsontwerp gebrekkig is, en die FW de Klerkstigting het verlede jaar reeds versoek dat die wetsontwerp in geheel onttrek moet word, en met die 2003 weergawe met ’n paar byvoegings vervang moet word.

Met die verweer van die regering op Lourens se aansoek het belangrike aspekte van die regering se gesindheid oor die taalkwessie na vore gekom. Onder meer is aangevoer dat Afrikaanssprekendes self ‘n onwilligheid aan die dag lê om hul taalregte beskerm te sien. Dié kluitjies het groot verontwaardiging in Afrikaanse geledere ontlok en die groeiende polrisasie gestook.

‘n Belangrike vereiste vir ‘n wet en veral ‘n grondwet is dat dit in die harte van die burgery moet nes skop. Die bestaande wetsontwerp doen dit klaarblyklik nie.

Tog moet na die staat se verweer gekyk word, aangesien daar wél deeglik Afrikaanssprekendes is wat min of meer vere vir die behoud van Afrikaans voel. Die debat oor die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid is ‘n sprekende voorbeeld, soos in ‘n stadium duidelik geblyk het uit die openbare tweegesprek tussen, soos dit in die media genoem is, oumatjie Heese en Peertjies de Vos. Die rissiepit-kommentator, Rhoda Kadalie, sorg ook deur haar rubrieke dat niemand in onkunde kan leef oor die gesindhede wat oor die kwessie losgelaat is nie.

AfriForum het pas as deel van sy veldtog teen die Gautengse Onderwysdepartement om Afrikaanse skole te dwing om ook Engelse onderrig te bied, ‘n beroep op Afrikaanse ouers gedoen om hul kinders op al die vlakke in Afrikaans te laat onderrig.

‘n Deel van die probleem is dat die aandrang op veral Afrikaans nog dikwels as ‘n politieke armdrukkery beskou word, eerder as ‘n fundamentele en boonop grondwetlike reg. ‘n Regstryd woed rondom die beginsel of ‘n taalreg ‘n eerste generasie reg en dus afdwingbaar is, of ‘n derde generasie reg waarvan die uitvoering aan die praktiese haalbaarheid soos die koste-implikasie gemeet word. Vroeg in die nuwe bedeling is die land geruk toe die dialisemasjien van ‘n staatspasiënt weens die koste-implikasie afgeskakel is, en die persoon gesterf het.

Die mate waarin Engels sterk voorrang geniet, blyk ook uit die taal waarin partye wat in die parlement teenwoordig is, hul mediaverklarings uitreik. ‘n Groot party het byvoorbeeld sy beleid om slegs in Engels uit te reik, verduidelik aan die hand daarvan dat sou dit ook in Afrikaans uitgereik word, moet dit ook in die ander nege amptelike tale uitgereik word. Dit klink bekend. Nogtans is die betrokke party se ondersteuners gereeld ongelukkig omdat die groeiende Afrikaanse gemeenskapsmedia, wat nie vertalers kan bekostig nie, dié party se verklarings noodgedwonge oor die hoof sien.

Ander partye verweer en voer aan dat hulle nie daarin slaag om tweetalige mediabeamptes gewerf te kry nie – in die Wes-Kaap waar byna 60 persent van die inwoners se huistaal Afrikaans is, en die res Engels, Portugees en selfs tale soos Somali as huistaal gebruik. Soos een waarnemer dit gestel het, ‘n party moet besonder talentvol wees om in die Wes-Kaap die een mediabeampte na die ander gewerf te kry wat nie Afrikaans magtig is nie. Dit is duidelik eerder ‘n gesindheidsprobleem.

‘n Finale probleem is dat selfs die grootste taalstryders dikwels ‘n gemors daarvan maak as hulle die skoonste taal op skrif stel. Nie net is van die webwerwe en blogs wat hulle vir die saak van Afrikaans beywer gesaai met spel- en taalfoute nie, maar selfs van die groot Afrikaanse koerante moet periodiek skoonmaakaksies loop wanneer die stroom spel- en taalfoute wat op straat verskyn, hand uit ruk.

‘n Lewende taal sal noodwendig aanpas en verander, en deurgaans vernuwe. Taalkundiges aanvaar dat Afrikaans, in die skadu van ‘n groot wêreldtaal sal begin verander. ‘n Besigheid is lank nie meer net die ding wat die hond op die grasperk gedoen het nie, dit het die Afrikaanse sake-onderneming bykans heeltemal verdring. As die rugby-unie toeskouers nooi om vir ‘n bepaalde toegangsfooi die hele familie saam te bring, is dit nie duidelik of die gesin bedoel word, en of die familie maar ‘n hele blok kan beset nie.

Selfs in die voorste Afrikaanse koerante word die korrekte “artikels” in wette met die Anglisisme, “seksie” vervang.

Maar selfs die mees seksie wetgewing gaan Afrikaans nie beredder nie – die gesindheid in die hart is ‘n belangrike vereiste vir wetgewing om meer werd te wees as die papier waarop dit geskryf is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae