Nuuskommentaar: Die smag na goeie nuus

Onafhanklike kommentators is onlangs deur Gareth van Onselen voor stok gekry oor onder meer onnodige swartgalligheid. Die feit is dat die blote oopmaak van ‘n koerant die daaglikse persepsie versterk dat die land – of sommige provinsies – besig is om vinnig na vlakke van algehele disfunksionaliteit te beweeg. Die skoonste taal word bedreig, en ‘n miljoen ongebore babas is doodgemaak… Gesinsmoorde, perverte is aan die maai; alles is deel van die nuusvloei. Die land daal op die korrupsiepersepsie-indeks en die persvryheidsindeks. Sewe plaasmoorde vanjaar teenoor een in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Word ‘n onnodige donker wolk werklik geskilder?

Daar is ‘n geweldige versugting na goeie nuus. Dit het veral duidelik geword toe ‘n amper vergete euforie die land beetgepak het met die aanbied van die wêreldsokkertoernooi in Suid-Afrika. Weliswaar het Sep Blatter by wyse van spreke ‘n tydelike staatsgreep uitgevoer en die land met ‘n ysterhand regeer, maar dit was vir baie lekker – skoon strate, slaggate wat reggemaak word, min misdaad, ‘n opdroog van plaasmoorde…

Toe sielkundiges en sosioloë begin waarsku die euforie stuur op die swart newels van ‘n post-euforiese trauma en depressie af, is die waarskuwings as negatief afgemaak. Wat belangrik is, was die versugting van ‘n senior joernalis van die SAUK – die land verdien ‘n kansie om positief en gelukkig te wees.

Met die vertrek van die Springbokspan na die wêreldbekertoenooi in Nieu-Seeland is die span en die land opgesweep om die ander op te donder. Harte het groen geklop en ‘n skeidsregter se kop word op ‘n skandpaal rondgedra na die span teen die gehate Aussies vasgeval het.

Met die ANC se eeufees is probeer munt slaan uit die versugting van goeie nuus. Die SAUK het lang stukke uitgesaai, en selfs van die gewoonlik bitterbek-media het hard probeer om die kollig op die euforiese te laat skyn. Vir ‘n deel van die land se mense het dit waarskynlik eufories ingewerk; ‘n ander deel het vererg van TV-kanaal na TV-kanaal gehop om iets anders as kykstof op te soek. Soveel voorgenome artikels waarin mense gepols is oor die sukses van die verrigtinge het in die stof gebyt omdat bloot te min mense gevind kon word wat dit gevolg het.

Is daar werklik so min om die vlammetjie van hoop te voed?

In die nasionale konteks: Kyk ons nie te maklik die vreugde op groot groepe mense wat in massa-kerkkore optree se gesigte mis nie? Blydskap en vreugde om die Here met liefde en talente te dien?

Het  u al gehoor hoe klink dit as die bus met huishulpe soggens amper donkervroeg hul werknemers se woongebied binnery, en die passasiers het iewers langs die pad spontaan aan die sing gegaan? Hoe vrolik die geselsery op straat kan wees – hard terwyl die geselsgenoot van voor af aangestap kom, en al minder luid tot hulle bymekaar verbystap om weer al luider te word? Ook by hulle is daar misdaad soos ‘n huis kaalgestroop wanneer weer donker tuisgekom word, is daar hartseer as Vigs nog ‘n ouma met haar wees kleinkinders agterlaat.

Het u al met ‘n groep selfaangestelde karwagte probeer korswil terwyl u vir die bus wag? En hulle kamma seergemaak die Tien Gebooie aanmekaar begin timmer om te wys hulle het nie voeling met die hoër funksies van die lewe verloor nie. Hulle mag dalk soos die uwe ervaar dat hulle by so agtien gebooie uitkom, maar dit kan ‘n ma erg verleë laat oor ‘n stukkie onnadenkende onsinnigheid.

Het swartgalligheid werklik die verwysingsraamwerk van die Afrikaner geword?

Nie as ‘n mens tot in die vroeë oggendure die lawaai uit die Wildeboer hoor, en kort-kort harde lagbuie hoor opklink nie. Daar is dit wel Bacchus wat die toon aangee.

Maar nie as ‘n mens die vrolike gelag hoor as bure ‘n vleisie oor die kole gooi en iemand ‘n storie uit die Noordweste, of ‘n skreeusnaakse grap vertel het nie.

Nie as ‘n mens die breë glimlagte beskou op ouboet se graadvangfoto’s nie.

Kan ‘n mens ‘n groter see van breë glimlagte kry as toeskouers wat van die stadion af terugkom en hul span het die ander span kafgedraf? Ondersteuners van die verloorspan moet self maar skeefbek glimlag vir die kwinkslae waarmee hul siele uitgeryg word.

Of die pa wat ‘n meter bo die grond uit die kraamsaal gestorm kom en vir almal in die algemeen uitbasuin: “Dis ‘n bulletjie, ons hét hom!”

Het die platjie wat ‘n boompie in die slaggat gaan plant nie in ‘n sin ‘n silwer randjie om ‘n donker wolk geverf nie?

Toe u laas die lied: “Afrikaners is plesierig” gesing het, het dit veraf en vreemd geklink?

Kerke is nog so vol dat die Afrikaner dit regkry om onder mekaar ook nog bakleiwerk te doen soos om ander se liedereskat as hopperig te beskryf.

Hoekom, na soveel jaar se affirmative action, is die Afrikaner nog steeds grootliks nié afgetrek nie? Want die deursnee Afrikaner laat hom nie sommer onderkry nie.

Vir baie is die Christelike geloof ‘n pilaar van sterkte. Maar die Christelike geloof vereis ook dat ons om ons kyk en sien – daar is hulle vir wie die donker rand nie net ‘n persepsie is nie, daar is hulle wat die affirmative action nie oorleef het nie, en ongelukkig dikwels juis hulle wat beginselvas teen korrupsie en wandaministrasie bly staan, en afgemaai is.

Baie het niemand anders as hul mede-Afrikaners om in die oë te kyk vir opstaankans met selfrespek nie. En as die Afrikaner ook daardie hekkie leer oorkom, word die silwer randjie sommer baie breër.

Fokus op die positiewe, maar hou ‘n wakende oog dat die donker wolk jou nie onverwags oorval nie.

Van Onselen het dit miskien nie so bedoel nie, maar sy kommer oor die swartgalligheid mag maar deur veel meer as die onafhanklike kommentators ter harte geneem word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae