Nuuskommentaar: Die tweede rebellie en die Kommandokorps

Twee minute se woorde op ‘n Nederlandse TV-uitsending het nie net die Afrikanersaak se vordering in die buiteland ernstig geknou nie, maar die Kommandokorps se aktiwiteite onder ernstige verdenking geplaas.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap het talle voorbeelde van rebellies opgelewer. Die bekendste is egter die rebellie wat na die Anglo-Boereoorlog met die Eerste Wêreldoorlog saamgeval het, en waarmee belangrike leiers soos generaals Koos de la Rey (hoewel kort tevore in ‘n fratsvoorval oorlede), Manie Maritz en Christian de Wet geassosieer word. Die huidige rebellie is nog moeilik feitelik begrond omdat baie inligting danksy die Boeremagverhoor nog sub judice is. Hierdie rebellie lewer egter geen bekende name uit die vorige bedeling op nie, en is ideologies-godsdienstig baie sterk begrond en vertakkings van die Israel Visie kom dikwels aan die lig. Ras maak ‘n besonder belangrike deel van hierdie ideologie uit, wat dit baie moeilik in die internasionale reg en die grondwet ruimte bied.

Die twee minute het egter twee vernietigende elemente bevat: ‘n ontkenning dat die Nazi’s ‘n volksmoord onder die Jode gepleeg het, en die gebruik van die term, Ariese ras. Beide sake is in Europa erg sensitief, en om hiermee te assosieer beteken dat die Kommandokorps die Afrikanersaak met dié van uiterste randfigure in Europa geassosieer het. Daardie twee minute het ernstige skade aan die veldtogte van onder meer AfriForum aangerig om die Afrikanersaak in die buiteland te stel. Dit het verantwoordelike Afrikanergroepe genoop om bykans blindelings die Kommandokorps te veroordeel in ‘n poging om verlore grond in die buiteland te herwin.

So lank die wêreldgemeenskap oordeel dat die Afrikaner nog grondwetlike meganismes tot sy beskikking het om sy saak te bevorder, is die volkeregtelik pad kompleks en lank – en ondeurdagte woorde deur enkelinge, veral as hul organisasies dan laer trek om hierdie losbekkiges, oneindig skadelik.

Lees die volledige artikel hier.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.