Nuuskommentaar: Die vis vrot van sy kop af

In 2008, voor die wêreld se jongste fiskale krisis nog sy naels so skerp ingeslaan het, het ‘n groep Europeërs ‘n veldtog van stapel gestuur wat hulle die “Jaar van Geestelike higiëne” genoem het.

Dié veldtog het veral twee groepe mense in die oog gehad wat hulle geoordeel het geestelike higiëne behoort te ondergaan – die politici en die media. Maar toe slaan die fiskale krisis met mening toe. Die voorloper-golf wat Europa getref het na die VSA reeds genies het, was die krisis met Icebank van Ysland. Talle vastelandse Europese beleggers het naels gekou.

Toe die Yslandse media die bankbase se – soos dit gestel is – immorele optredes aan die kaak wou stel, het die bankbase baie ou wetgewing gebruik om  die media te probeer snoer. Ysland, wat jare lank die eerste plek as persvrye land met ander lande gedeel het, het oornag, in 2009, na die 9de plek teruggesak. Die media het egter deurgedruk en die howe het die media se kant gevat. Ysland het oornag ‘n held vir persvryheid geword. Die land het dadelik weer die voorste plek op die persvryheidsindeks ingeneem.

Hierna het die Nederlands-Belgiese bank Fortis / Dexia aan die beurt gekom, en die beeld van bankbase het bykans wêreldwyd ‘n liederlike hou op die neus gekry. Die krisis in die Piigs-lande het ook nie veel bygedra dat die beeld van bankbase verbeter nie, hoewel hulle dikwels deur politici wat die ware toedrag van sake probeer versag het, in die verleentheid gestel is. Die reuse salarisse en bonusse wat bankbase kry, terwyl beleggers baie geld verloor het, en kliënte al swaarder aan bankkoste begin betaal, het ‘n donker wolk oor bankbase se koppe laat hang.

Ook in Suid-Afrika het die reuse salarisse en bonusse, terwyl takke toemaak en mense hul werk verloor, vraagteken op vraagteken laat ontstaan. Plek-plek het groot aandeelhouers begin stem dik maak, en is gou as “aktiviste-aandeelhouers” gebrandmerk. Die nuus dat Barclays Bank in Brittanje ‘n reuse boete gekry het vir rentegekonkel oor verskeie jare, het dus nie werklik vir iemand as skok gekom nie. Die Britse premier, David Cameron, het gou ‘n ontstelde verklaring uitgereik, en geëis dat daar dringend werk van gemaak word om die skuldiges aan die pen te laat ry.

‘n Siniese media het egter vanuit die staanspoor die vraag gevra of Barclays gaan optree, of bloot die storm gaan laat oorwaai. Dit was ‘n billike vraag, gemeet teen die agtergrond dat die oortredings van 2005 tot 2008 plaasgevind het, met geen onmiddellike aanduiding dat die valbyl gaan val nie. Suid-Afrikaners het die saak ook goed dopgehou, aangesien Barclays die houermaatskappy en groot aandeelhouer van ABSA is. ABSA het baie ver beweeg van die punt waar een van sy vestigingsbanke, Volkskas, in wese ‘n Afrikanerbank was. Optredes van ABSA het reeds tot verskeie veldtogte gelei om Afrikaners aan te moedig om elders te bank, onder meer deur Solidariteit.

Met die onlangse ANC-kongres by Midrand, was Absa ook een van die min uitstallings waar die stalletjie deur die uitvoerende hoof beman is, Maria Ramos, eggenote van minister Trevor Manuel. Heel waarskynlik is die banke wat by die media en belangegroepe in die sop beland, nie so verrot as die indruk wat in ‘n wêreld geskep word waar die gees van die Wall Street-protes nog sterk loop nie.

Die interessantheid is dat bitter min nog gehoor word van die media wat ‘n geestelike higiëne moet ondergaan. Die fokus bly egter vierkantig op die politici, en is onlangs baie versterk toe Transparency International onder Europese politici ingeseil het. Hoewel die roede onder veral Suid-Europa se politici ingelê is, is die noordelike lande op enkele uitsonderings na nie gespaar nie.

Die ironie is dat die rol van Europese politici juis vergroot het. Dit word veral veroorsaak deur die feit dat die Euro nie deur ‘n werklike sentrale staatsgesag gerugsteun word nie, wat dit baie kwesbaar maak. Die feit dat die Europese parlement en sy “kabinet”, die Europese Kommissie deur kiesers wyd gewantrou word, help ook nie. Cameron oorweeg selfs nou ‘n referendum om Brittanje se bande met die Europese Unie te toets – en hoewel Brittanje deel van die Europese Unie is, is dit nie deel van die Eurosone en dus die Euro as geldeenheid nie.

Sommige waarnemers meen die probleem hou verband daarmee dat Europese politici nou nie meer via hul eie regerings tot die Europese parlement verkies word nie, maar regstreeks. Dit beteken dat lande nou ‘n dubbele stel politici het – sommiges wie se eerste belang hul eie lande is, en sommiges wat Europa in die geheel dien. En dié belange loop dikwels uiteen.

Waaroor almal dit egter eens is – die politici sal hul sokkies moet optrek om aan die hoë verwagtinge van die kiesers te voldoen. En die bankbase help nie aldag om die nodige vertroue vir herstel te vestig nie. Suid-Afrika het ‘n redelike lang geskiedenis van betreklik goeie en gesonde bankdienste. Tog moet gewaak word teen persepsies van selfverryking ten koste van die kliënte.

Maar die Suid-Afrikaanse politici… In internasionale terme is die oorgrote meerderheid kiesers met skandelik min tevrede. En dis nie ‘n subjektiewe menings nie, dit word deur ‘n rits indekse waarop Suid-Afrika die kreeftegang gaan, gestaaf. Biskop Tutu se pleidooi by die Nederlandse regering oor beplande verminderde ontwikkelingshulp ten spyt, is Suid-Afrika nie op die verkleinde lys van lande wat hulp kry nie. Die fokus het immers na beleggings verskuif, en die lande wat bevoordeel word, word nou vennootskapslande genoem. Sakebeginsels geld…

En as die vis eers van sy kop af begin vrot…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.