Nuuskommentaar: Die waarheid so waar soos Woolies bewimpel

Dit is menslik om foute te maak. Dit gebeur in die beste geselskap en daar is al talle voorbeelde waar ooglopende feitefoute selfs in doktorale proefskrifte gevind is, waar die blapser reeds die titel “doktor” voor sy of haar naam skryf. Die media is geen uitsondering nie.

In ‘n heterogene gemeenskap soos Suid-Afrika is daar ‘n ander dimensie teenwoordig – gemeenskapspersepsies van die werklikheid. Hierdie kwessie maak saak, omdat ‘n verharding van standpunte rondom persepsies tot groter polarisasie kan lei.

‘n Goeie voorbeeld van hoe standpuntinname rondom persepsies polarisasie na die oppervlak kan laat kook, was toe dr. Pieter Mulder, adjunk-minister van landbou en leier van  die Vryheidsfront Plus goedbedoeld ‘n geskiedenisles oor hoe Suid-Afrika deur verskillende gemeenskappe bewoon geword het, in die parlement gegee het.

Die storm was verbysterend, die vlakke van onkunde ontstellend en die reaksie onverkwiklik en skadelik.

Die posisie waar almal oor volmaakte kennis beskik en korrek daarvolgens handel, is helaas nie ‘n menslike eienskap nie. Dit beteken egter nie dat dit nie noodsaaklik is dat daarna gestreef word nie.

Die voorbeelde oor hoe die waarheid per abuis of doelbewus geweld aangedoen word en implikasies inhou, hou meedoënloos aan. Toe die nasionale vervolgingsgesag besluit het om die 270 aangekeerde Marikana-werkers van moord op hul makkers aan te kla, het iemand verkeerdelik geskryf dat die doktrine van gemeenskaplike doel ‘n uitvindsel van die apartheidsregering was. Die een regsgeleerde na die ander wat die feitefout probeer regstel het, kon netsowel teen ‘n orkaan gaan blaf het.

Met die Woolies-debakel was die waarheid ook een van  die eerste sake wat by die venster uitgewaai het. Solidariteit, wat oor heelwat parate regskennis oor die kwessie beskik, neem die standpunt in dat Woolworths die wet op gelyke indiensneming verkeerd vertolk oor kwotas en absolute uitsluiting. Dié mening word deur verskeie regsgeleerdes gedeel. Woolworths hou vol dat hulle by die letter van die wet hou, en dit ook graag wil doen.

Hoewel Solidariteit reeds ‘n rits hofsake gewen het, tree mense selfs op webwerwe wat Solidariteit goedgesind is vir Woolworths in die bresse en meld as rede dat Woolies geen ander keuse het as om die wet na te kom nie. Dat Solidariteit ‘n ander uitleg het en dit by herhaling gestel het, en ook Woolworths gedaag het om sy saak in die hof te bewys, word geïgnoreer.

Hoewel Solidariteit met ‘n veldtog teen Woolworths begin het, is die een ding wat Solidariteit nié gedoen het nie om ‘n boikotaksie teen dié winkelgroep van stapel te stuur. En Solidariteit het dit by herhaling duidelik gestel. Die boikotaksie is ‘n onafhanklike aksie. So ook die pak en spaander-aksies.

Tog verhinder dit nie dat persoon na persoon die pen opneem en die boikotaksie aan Solidariteit toedig nie, en dan sommer vir Solidariteit oor ander spookstories ook by te dam. Maandagoggend verskyn die volgende in ‘n rubriek van Johann Maarman, senior redaksielid van die Burger: “Pas het Woolworths dalk oor die naweek ’n paar kartonne malvapoeding en jogurt en ’n krat komkommers (dalk ook twee of drie free-range-hoendertjies) minder verkoop nadat die vakbond Solidariteit gevra het dat tot ’n boikot oorgegaan word omdat Woolies kwansuis nie meer ‘wit mense” gaan aanstel nie’.”

Hoe dan nou met Solidariteit se herhaalde ontkenning?
Wat is die implikasies, regsimplikasies soos moontlike skadevergoeding buite rekening gelaat?
Ly Die Burger skade in geloofwaardigheid? Praat Woolworths se advertensiegeld harder as joernalistieke integriteit?
Maar die eintlike Suid-Afrikaanse probleem: Wat is die implikasie vir Maarman self en ander in sy posisie om ‘n skadu oor die impak van regstellende optrede te werp?

As ‘n mens ‘n hond wil slaan, gaan ‘n stok immers byderhand wees. Alle rubriekskrywers, wit, swart en bruin  maak foute, maar as daar eers ‘n persepsie is dat bruin rubriekskrywers hul geleenthede gekry het weens rasbevoordeling, of dat ideologiese persepsies harder as feite praat, kan die beeld van ook ander bruin rubriekskrywers skade ly. Zelda Jongbloed wat na afloop van die hele Reitz 4-debakel onder die indruk was en skryf dat die skoonmakers skelm afgeneem is (terwyl hulle entoesiasties deelgeneem het en dit ook deurgaans so in die berigte geblyk het), prof. Jonathan Jansen wat na planne vir ‘n Christelike universiteit as planne vir ‘n wit universiteit verwys terwyl ras geen faktor is nie, en nou hierdie.

Sou die rubrieke van swart en wit skrywers ewe nougeset vir feitefoute deurgegaan word, sal waarskynlik net soveel of meer feitefoute, en moontlik ook politiek-gelaaide feitefoute, gevind word. Maar stereotipering voed persepsies.

‘n Tweede perspektief is dat indiwiduele briljantheid in ‘n gepolariseerde samelewing weens rasstereotipering ondergeploeg kan word. Rhoda Kadalie is egter in haar eie reg ‘n  uitmuntende rubriekskrywer, en behoort geen etiket bloot weens gedeelde ras van Zelda te erf nie, en omgekeerd.

Pleidooie vir rasbevoordeelde aanstellings en bevorderings kan hoé goedbedoeld wees, maar dit beteken ook dat ras nie net ‘n wetlike norm bly nie, dit word ook as samelewingsnorm verskans, stereotipering word verdiep, en polarisasie eskaleer.

Die laaste ding wat Media 24 seker wil bereik is om weens rasbevoordeelde aanstellings of benutting van vryskut-rubriekskrywers sy koerante se geloofwaardigheid te verminder, of die kwetsende rassespore dieper te trek. Onlangse poste-advertensies sluit immers die vereiste in van ‘n goeie kennis van aktualiteit.

Sosioloë en sielkundiges besin nou gereeld oor hoekom so baie mense nou so vatbaar is vir samesweringsteorieë en ontkennings, soos dat Vigs nie deur die MI-virus veroorsaak word nie. Die eise om die feite suiwer in te win voor die hand aan die pen geslaan word, word al groter. Wolhaarstories wat deur die kuberruim galop word in die reël presies daarvoor aangesien – wolhaarstories en verskil min van ta’ Sien se destydse geskinder op die plaastelefoon. Maar koerante en nuuswebwerwe wat streef na geloofwaardigheid móét eenvoudig streef na beter.

Leserskommentare, onder meer nou by berigte oor Woolies en skaliegasontginning, toon nie net hoe onkundig mense is nie, maar ook dat hulle nie skaam is om hul onkunde aan die groot klok te hang nie. Dis egter een ding as ‘n Blip of Trol Dol of wie ook al hul onkunde uitblaker, maar van ‘n aktualiteitspraktisyn word beter verwag – veral as dit rassepolarisasie kan stook.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae