Nuuskommentaar: Dieselfde land, verskillende planete

‘n Suid-Afrikaanse minister wat trots daarop is om met Robert Mugabe vergelyk te word terwyl desperaat probeer word om wal te gooi teen die tuimelende rand…

‘n Konferensie oor eiendomsreg met die titel, Die groot leuen, terwyl die parlement self debat voer oor grondhervorming en ‘n geheel ander stel “feite” op die tafel plaas…

Die beraad kon net sowel in Pretoria gehou gewees het, en die parlementsitting op Venus, só uiteenlopend is die oorheersende beskouings wat oor dieselfde onderwerp by die twee geleenthede gehuldig is.

Selde of ooit is só duidelik gedemonstreer hoe uiteenlopende sienings, selfs tot die vlak van die teenoorgestelde, Suid-Afrikaners oor dieselfde sake het.

Dit herinner aan hoe eenders die aarde en sy susterplaneet Venus is. Die twee planete is ongeveer ewe groot, het min of meer dieselfde samestelling, en wentel in dieselfde omgewing om die son.

Maar in plaas van nog ‘n waterryke, bewoonbare planeet is Venus gemiddeld 462 grade Celsius op die oppervlak en is die lugdruk meer as 90 keer dié van die aarde. Anders as die ander planete en die son draai Venus kloksgewys om sy eie as, en is sy dag langer as sy jaar.

Tog, so lyk dit, is dit moontlik om op aarde in dieselfde land te woon, en dan ook sulke uiteenlopende beskouings te hê asof die een groep werklik van Venus af kom.

Afgesien daarvan dat minister Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming trots is daarop om met Mugabe vergelyk te word, is ander kwessies waaroor die bevolking heeltemal uiteenlopend dink reeds goed bekend, soos dat opnames toon dat tot 80% van die swart bevolking glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl dié opvatting by wit meer as omgekeerd is.

Hierdie verskynsel dat verskillende bevolkingsgroepe breedweg in heel verskillende werklikhede leef, slaan ook grootliks tot die politiek deur. Die hele kwessie van diversiteit en pluraliteit het opnuut onder die vergrootglas beland, soos onder meer gesien deur die Kleinfontein- en BBB-gebeure.

Dit plaas die grondwet, en veral die vertolking van die grondwet onder druk. Die ANC het pas aangekondig dat voortgegaan word om die uitsprake van die appèlhof en grondwetlike hof te evalueer om vas te stel of dié howe genoegsaam transformasie rugsteun. Maar is die funksie van hierdie howe nie juis om ‘n objektiewe vertolking van die grondwet te handhaaf nie, juis om te verseker dat die grondwet politiek gekaap word nie? Dis immers wat die terme grondwetlike demokrasie en onafhanklike regbank beteken.

Trouens, die term transformasie is vinnig besig om weens bisarre vertolkings en vergrype (in die naam van transformasie), dieselfde pad te loop as die term apartheid. Die hele begrip transformasie word negatief getint en maak die wêreld baie moeilik vir diegene wat eerlik probeer om ‘n regverdige bedeling uit te laat uitkristalliseer.

Die huidige debat oor diversiteit is nie eie aan Suid-Afrika en Afrika nie, dit word in bykans die hele wêreld gevoer, en neem ‘n veelheid van vlakke aan. Dit lyk al hoe meer of die drywers van die nuwe grondwetlike bedeling geglo het die grondwet self gaan die katalisator wees om die nuwe bedeling te laat werk. Die komplekshede wat politieke sosioloë en antropoloë verreken, en politieke wetenskaplikes op voortbou om staatkundige modelle te vorm, het op die oog af nie die nodige aandag gekry nie, en die model wat die staatsregslui uiteindelik van die monteertafel laat loop het, word steeds deur Suid-Afrikaanse werklikhede getoets.

Daar is seker niks mee verkeerd om Afrikasentries te wees nie, mits aanvaar word dat Afrika ook vrot appels, soos Mugabe, kan oplewer. En dat ander se kulturele wortels buite die kontinent lê, en die reg het om daardie kulturele wortels te koester.

Dit is werklik ‘n probleem as pres. Jacob Zuma deur een deel van die land se bevolking, veral landelike swart mense aangehang word, en ‘n ander deel beskou hom as ‘n ramp vir die land. Op SABC-TV word hard probeer om Zuma statig as staatsman uit te beeld; die spotprente en verbale beskrywings van dieselfde man in ander media kom behoorlik van die ander planeet af. Om agter Afrikasentrisme te probeer skuil om die buitelandse impak op ‘n negatiewe persepsie van Zuma te temper, is volstruispolitiek.

Afrika was nooit so geïsoleerd van die res van die wêreld dat die kontinent werklik donker was nie. By beide die Zimbabwe-ruïnes en Mapungubwe is items van oor ‘n groot deel van die wêreld gevind. Onlangs is berig oor munte van sowat ‘n duisend jaar oud van ‘n sjeikdom aan die Tanzaniese kus wat op ‘n Australiese eiland gevind is. Fenisiese setlaars het die eens magtige Kartaagse ryk in Noord-Afrika gestig, terwyl die Armeniërs en die Ethiopiërs tou trek oor wie die oudste Christelike ryk in die wêreld gestig het.

Kortom, baie van die tradisies en praktyke wat nou as tipies Afrikasentries opgedis word, is net so vreemd aan Afrika as van die Eurosentriese kultuurelemente.

Op die oomblik lyk dit of volgende jaar se verkiesing die “aardtoestande” en “Venustoestande” in Suid-Afrika nog verder van mekaar gaan wegdryf. Hoeveel van die rand aan die einde daarvan gaan oorbly is moeilik voorspelbaar, veral as die Nasionale Ontwikkelingsplan onder voortgesette druk vanuit die ANC-alliansie gaan kom. Die jongste kritikus is dr. Blade Nzimande, leier van die SAKP.

Die land het bouers nodig, nie slopers nie. En dis veral sleg as die slopers in die hoogste stoele sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Dis omdat baie Afrika-leiers soortgelyke standpunte en sienswyses het as minister Gugile Nkwinti dat daar geen vordering met ontwikkeling in Afrika gemaak word nie – die resultaat van hierdie denke is oral in Afrika sigbaar naamlik skatryk staatspresidente en ander hooggeplaastes enersyds en ‘n brandarm bevolking andersyds wat in groot ellende leef.

Die grondsaak sal veral, met die oog op die 2014-verkiesing, deur die ANC gedryf word om stemme te wen – dit mos ‘n baie populêre onderwerp en vind goed aanklank by die massas swart mense ongeag hoe uit verband dit ookal gebruik gaan word.

Hans Onrust ·

in Europa leven bevolkingsgroepen meer langs elkaar heen dan voorheen als gevolg van massale immigratie evenals in SA.
Gedwongen intergratie van volkeren gebeurt weliswaar op verscheidende manieren maar er wordt in het algemeen toch te makkelijk heen gestapt over de wezenlijke cultuurverschillen.
Regeringen zijn verder van de ‘onderdanen’ komen te staan en geld is de nieuwe God..

Dank voor uw goed leesbaar artikel aangaande de reële chaotische situatie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.