Nuuskommentaar: Diktator-regters? Belangrikheid van Kliptown-beraad

Foto: CSM / AP

In Suid-Afrika plaas minderhede ‘n groot premie op die grondwetlike demokrasie, in Engels bekend as die “Rule of Law” om te verhinder dat die land in ‘n diktatuur van die meerderheid verval. Vanuit die ANC, en selfs die president, het al menige uitsprake gekom wat daarop dui dat daar groot frustrasie is met die howe se vermoë om via die grondwet, populisme te stuit.

In verskeie lande is daar egter ook veldtogte om die magte van regters in te kort sodat, soos hulle dit beskou, die demokrasie in die hande van die mense, en dus die parlement te plaas. Dié lande het gewoonlik ‘n betreklik homogene bevolking, en die regerings is gewoonlik koalisies omdat geen party volledig daarin kan slaag om die mag te gryp nie.

Die kwessie het weer vierkantig op die ontleedtafel beland na die Amerikaanse hoogste hof, die hooggeregshof, pres. Barack Obama se gesondheidswet grondwetlik verklaar het. Daar is egter ook ander kwessies in die VSA wat die vraag laat ontstaan oor hoeveel magte die howe moet hê om die demokratiese uitdrukking van die kiesers te beperk, soos die omstredenheid nou met die Fast and Furious-skandaal waar die president hom by die beleërde prokureur-generaal skaar.

By die publiek en ontleders is daar geen kwessie nie – die hooggeregshof se uitspraak het die politiek gepolariseer, en die Republikeine het dadelik verklaar dat die hele kwessie nou ‘n verkiesingskwessie word, sodat die kiesers in November Obama met sy wet en al kan uitstem. ‘n Ongehoorde stroom lekkasies uit die hooggeregshof-geledere het die oorwinningskapitaal van Obama oornag vernietig, en ernstige vrae oor die hof, en veral die hoofregter, word nou in baie lande gevra. Die beginsel van oppergesag van die reg het ver buite die VSA ‘n knou weg, met selfs liberale instansies en media wat nou skerp vrae vra.

Die kern van die probleem is dat die liberale en konserwatiewe regters van die hooggeregshof presies gelykop verdeel was oor of die wet goedgekeur moet word of nie. Hoofregter John Roberts, self konserwatief en wat die beslissende stem moes uitbring, het die wet goedgekeur. Volgens die lekkasies het hy hom toe al duidelik uitgespreek dat die wet ongrondwetlik was, en die verwagting was dat minstens dele van die wet in die slag sou bly.

Op die laaste nippertjie het Roberts egter mantel geswaai en die wet in geheel laat goedkeur. Wat die wenkbroue laat rek, is sy motivering. Hy was die enigste regter wat aangevoer het dat die wet eintlik op ‘n belasting neerkom, verwysend na die woord “penalty” wat in die wet gebruik is om mense te straf wat nié die verpligte gesondheidsversekering uitneem nie.

Deur dit as belasting te beskou, het die president en Kongres binne hul bevoegdheid opgetree. Die ironie is dat Obama en sy ondersteuners self nog altyd heftig ontken het dat die wet op ‘n vorm van belasting neerkom. Sy teenstanders herinner hom ook nou aan sy woorde: “Read my lips, no more taxes.” Roberts se mantelswaaiery het egter nou die onbedoelde implikasie dat regters se, soos dit beskryf word, diktatoriale magte nou onder die loep kom.

In Suid-Afrika het die FW de Klerkstigting reeds sekere grondwethof uitsprake as foutief beskryf, terwyl dr. Piet Croucamp ook reeds op RSG se program, Kommentaar, op die toenemende gevaar van politieke uitsprake van die grondwethof gewys het. In Suid-Afrika, waar die grondwet op ‘n nasionale akkoord geskoei is en die howe die finale instansie van wigte en teenwigte is, is die premie hoog dat die regbank, soos die grondwet vereis, onafhanklik moet wees.

In die VSA word nou lang artikels geskryf waarin derms uitgeryg word oor hoekom Roberts mantel geswaai het, en nie óf hy dit gedoen het nie. Die mees algemene logika is dat Roberts hierdeur probeer het om die hof se onafhanklikheid in die verkiesingstryd te beskerm. Waarnemers wys egter daarop dat Obama in soveel woorde die hooggeregshof afgedreig het. Obama het onder meer verklaar dat sou die hof sy wet ongrondwetlik verklaar, dit die gevolg van die ongrondwetlike optrede van konserwatiewe regters sou wees.  Die Christian Science Monitor wys daarop dat dié dreigement daarop neergekom het dat die regters voëlvry in die politieke stryd verklaar is.

Die ironie is dat, as dit inderdaad Roberts se rede sou wees, hy presies die teenoorgestelde bereik het. Die Amerikaanse kiesers het ‘n lang geskiedenis dat hulle nie van te veel mag hou nie. Word ‘n president te sterk, word die Kongres met opponente gelaai, en is daar te veel mag in die kongres, moet die hooggeregshof hakke inslaan. Die Nederlandse koerant, Trouw, se opskrif van ‘n artikel waarin die howe se mag bespreek word, lui betekenisvol: “Excessieve macht van rechters.”

Dié artikel is deur prof. Erik Jurgens, ‘n afgetrede hoogleraar in Staatsreg en  oud-politikus geskryf. Die Christian Science Monitor se artikel se opskrif is: “Questions about chief justice’s health-care ruling could have lasting impact.”

Op die foto by die berig lyk dit of Roberts besonder onderdanig teenoor Obama is, hoewel die foto by ‘n onverwante geleentheid, naamlik Obama se staatsrede, geneem is. Suid-Afrika, met die ANC stewig in die saal, het nie die luukse om die howe se gesag in ‘n grondwetlik demokrasie te bevraagteken nie, tensy die grondwetlike hof uiteindelik swaar genoeg met politieke marionette gelaai word.

Dit sal egter reeds baie help as die bevolking se harte in die grondwet en by mekaar is, want daarsonder sneuwel selfs die beste grondwet in die wêreld. Waar polarisasie aan die orde is, loop alle opsies van integrasie tot sesessie die gevaar om gewelddadig te wees.

‘n Groot toets lê voor vir die Kliptown-beraad wat as versoeningsberaad aangebied word. Of twee dae genoeg sal wees is te betwyfel, maar as die regte saad gesaai word, sal ‘n pad geloop kan word. Intussen moet die grondwethof en al die howe jaloers oor die grondwet waak, want die land gaan nie gou iets beter in die plek daarvan kry nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae