Nuuskommentaar: Dinge daar doer knyp ons hier

Min Suid-Afrikaners hou nie die oog op die internasionale olieprys nie. Tydens die hoogtepunt van die Arabiese domino-revolusie, en veral die Libiese oorlog, asook Iran se dreigemente om die Straat van Hormoes onbevaarbaar te maak, het die olieprys die hoogte ingeskiet.

Dit het ‘n demper geplaas op die wêreld se vermoë om ekonomies te herstel. Dus word asem opgehou terwyl die olieprys moeisaam afwaarts beur. Eers het dit tot onder die $100 per vat gedaal, en toe ‘n vinnige draai onder die $90, maar staan vanoggend weer op amper $93.

Die magsopbou weerskante van die Turks-Siriese grens speel moontlik nie die oorheersende rol in die demp van die afwaartse gang van die olieprys nie. Die noordelike halfrond het pas sy mid-Somer te midde van rekordtemperature gevier en die aankoop van olie om krag op te wek vir die lang winter wat voorlê het begin – veral terwyl die pryse relatiewe laag is en daar soveel brandpunte in die Midde-Ooste is.

Sirië is nie self ‘n groot olieprodusent in die liga van Irak en Saoedi-Arabië nie, maar verskeie van sy pyplyne is al tydens die Siriese opstand beskadig. Verskeie belangrike oliepyplyne loop deur die Midde-Ooste, en ook in Turkye. Hoewel Turkye onderneem het om nie oorlog teen Sirië te maak oor die afskiet van ‘n Turkse verkenningsvliegtuig nie, dui verwikkelinge op die grondvlak op die teendeel.

Die Berliner Umschau berig vanoggend dat Turkye missiele wat hy self vervaardig het, in die Swart See getoets het, en bring dit met die afskiet-insident in verband.

Ander oorsese mediaberigte dui selfs nog meer op ‘n naderende konflik. Turkye het troepe na die grens begin verskuif, skynbaar in reaksie op die hys van ‘n Koerdiese rebellevlag in ‘n Siriese dorp naby die grens. En Turkye het al getoon dat hakkejag-operasies waaraan tenks en vliegtuie deelneem, niks buitengewoon is wanneer Irak ingeval word op soek na militante Koerdiese basisse nie.

Sirië het, volgens Trouw se bronne, 170 tenks ten noorde van die stad Aleppo, naby die Turkse grens saamgetrek. Dit is onseker of dit ‘n saamtrek vir ‘n aanval op ‘n opstandige Siriese stad of dorp is, of om ‘n moontlike Turkse aanval die hoof te bied.

Oor baie dekades was die verhoudinge tussen Turkye en Sirië erg gespanne. ‘n Groot deel van die spanning spruit uit ‘n bilaterale ooreenkoms tussen Turkye en Frankryk, destyds die mandaathouer in Sirië, waardeur dele van Sirië by Turkye ingelyf is. Die areas waarop Sirië aanspraak maak, en jare lank op sy weerkaarte op TV as deel van Sirië aangetoon het, is ongeveer vyf keer so groot soos Israel.

Turkse damme in die Tigris en Eufraat het ook ‘n groot spanning met Sirië en Irak tot gevolg gehad.  Die Siriese Koerdiese, Armeense en Assiriese bevolkings is meestal afstammelinge van volksmoorde amper ‘n honderd jaar gelede aan die hande van die Turke, en dié kwessie bly maar vir die Turke ‘n sensitiewe klip in die maag.

Vandat Koerdistan in die noorde van Irak ‘n vorm van selfbeskikking gekry het, het die aanvalle van die Koerdiese PPK op Turkse teikens en uniformdraers toegeneem, en die laaste ding wat Turkye wil hê, is dat dieselfde probleem na Sirië uitbrei met wie hy ‘n grens van ongeveer 900 kilometer deel. Turkye huisves ook reeds duisende Siriese vlugtelinge in vlugtelingkampe. Onder die vlugtelinge tel ook reeds baie senior weermaglede.

Internasionale druk bou op dat daar buitelandse ingryping in Sirië moet wees om die vergrype en moorde van die Assad-bewind te stuit. Die International Coalition for the Responsibility to Protect verwyt in sy jongste mediaverklaring die wêreld dat dit sewe jaar gelede ‘n onderneming onderteken het om bevolkings van massamoord en uitdelging te vrywaar, maar nou handjies gevou sit terwyl dit in Sirië aan die gang is.

Sou daar wel ‘n oorlog tussen Turkye en Sirië uitbreek, kan dit baie maklik eskaleer. Iran, wat altyd onvoorspelbaar is, kan besluit om Sirië te hulp te snel, wat noodwendig Irak, en dus waarskynlik die VSA en  sy bondgenote sal intrek. Daar bestaan ‘n besondere band tussen Iran se Sjiïeteregering en Assad se Alawiete-minderheidsregering. Die Alawiete is ‘n sekte van die Sjiïete. Sirië dien as belangrike deurgangsroete vir Iranse hulp aan die Sjiïetiese Hizbollah in Libanon, wat ‘n belangrike instrument in Iran se stryd teen Israel is. Of die hele kwessie kan blote magsvertoon van Turkye en Sirië wees. Nou is dit asem ophou.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae