Nuuskommentaar: “Dis die einde!” Maja- en Zuma-opvattings

President Jacob Zuma by Mangaung

Wêreldwyd is groepe mense en individue steeds op loop met die gedagte dat 21 Desember die einde van die wêreld is, omdat die Maja-kalender dit glo voorspel al het kenners hulle nou al blou in die gesig verduidelik en dit ontken. Selfs Nasa moes inspring om te verseker die planete gaan nie op 21 Desember in ‘n reguit lyn opgestel wees nie, en planeet X of Eros is nie op pad om teen die aarde te bots nie. Die wolhaarstories kry egter steeds, veral danksy die internet, vlerke. ‘n Iranse ajatolla het ook vyf maande gelede op sterkte van ‘n Sjiïtiese opvatting die einde van die wêreld soos ons dit ken vir hierdie dae voorspel. Op laas was daar oor ‘n wye front konsensus dat die land nie ‘n tweede termyn vir pres. Jacob Zuma kan bekostig nie – en hy is pas herkies.

  1. Die ajatolla se voorspelling

Die magtigste man in Iran, die Ajatolla Ali Khameni, het vroeg in Julie gesê die mensdom moet hom op die laaste oordeel voorberei.

Na berig word, het die Ajatolla gesê dit is nou die era van 12de imam, en volgens die Sjiïtiese tradisie sal die laaste oordeel in die era van hierdie imam, bekend as Hasan al-Mahdi aanbreek. Dit sal ‘n tyd van geluk, vrede en vooruitgang wees, maar voor dit aanbreek sal daar egter ‘n tydperk van oorloë en onheile wees. Hierna sal die wêreldleierskap deur die Islamitiese beskawing oorheers word.

Die Ajatolla sou dié boodskap glo op besoek aan Iranse soldate oorgedra het toe hy ‘n boekie met die titel, Die laaste ses maande, aan hulle oorhandig het. Volgens die boekie is daar bitter min tyd oor en moet die soldate deurlopend op oorlog voorberei wees.

Die Ajatolla se uitlatings is wyd in die Russiese en Turkse media gerapporteer, wat bekommerd is oor hoe die situasie in Iran ontwikkel oor Iran se vasbeslotenheid om kernwapens te ontwikkel.

Intussen het die hoof van MI6, John Sawers, in ‘n seldsame openbare verklaring gesê Iran kan binne twee jaar oor kernwapens beskik, ten spyte van sy agentskap se pogings om die proses te dwarsboom. Sawers was voorheen ‘n diplomaat wat intensief by die kernonderhandelinge met Iran betrokke was.

Sawers sê dit sal vir Israel en die VSA groot gevaar inhou as Iran wel kernwapens het, en dit is baie waarskynlik dat Israel of die VSA sal ingryp, of erg in die versoeking sal wees om in te gryp, om dit te verhoed.

  1. Die Maja-kalender

Teen dié tyd is dit al baie goed bekend dat die Majas nie voorspel het dat die einde van die wêreld op 21 Desember 2012 aanbreek nie. Of liewer, dit behoort goed bekend te wees omdat die kenners alles in hul vermoë gedoen het om die wolhaarstorie die nek in te slaan.

Maar tog het ‘n individu die grondwetlike hof genader om die regering te probeer dwing om ‘n staatsdepartement en taakspanne in te stel om die land op gereedheidsgrondslag geplaas te kry vir dié ramp. In Meksiko is argeoloë die naarheid in omdat “einde van die wêreld”-rockfeeste, en New Age-feeste, al ‘n ruk lank by argeologiese terreine gehou word, en die klankingenieurs niks daarvan dink om gate vir ankers vir hul toerusting in die antieke piramides en ander bouvalle te boor nie.

Om die ontsteltenis hiervan te begryp – dink aan die wêreld se kunsgemeenskap as ‘n tegnikus gaatjies deur die Mona Lisa sou maak om ‘n liggie te monteer sodat mense die skildery beter kan besigtig.

Korrupte amptenare kyk egter ander pad terwyl die reeds florerende Meksikaanse toerismebedryf ruim uit die gier skep.

Die organiseerders van die feeste is min begaan of die bouvalle werklik dié van die Majas was – enige pre-Columbiaanse struktuur deug.

Die Majas is nie die enigste volk in die Amerikas wat voor Columbus ‘n hoë beskawingspeil bereik het nie. Die meeste mense is bewus van die Inkas wat veral die hedendaagse Peru bewoon het, die Asteke wat deur Hernan Cortez verslaan is, die Tolteke wat die gebied voor die Asteke bewoon het, en die Olemeke, wat blykbaar die grondslag van baie van die ander beskawings was. Daar was talle ander, minder bekendes.

Die Majas het nie net in die suide van hedendaagse Meksiko gewoon nie, maar ook in state soos Honduras en Belize.

Hoewel die Majas, soos die Tolteke en Asteke piramides gebou, en die Maja- en Tolteekse beskawings in ‘n stadium verweef begin raak het, is daar verskeie faktore wat hulle uniek maak.

Die Majas se indrukwekkende bouwerke het hoofsaaklik net aan die regerende adel, en die priesters huisvesting gegee. Terwyl van die ander beskawings se gewone burgers in betreklik moderne huise gehuisves is en die Asteekse burgers selfs hul eie erfies met tuine gehad het, het die gewone burgers van die Majas in primitiewe strukture gewoon wat nie van die “wilde” woud-Indiane te onderskei was nie.

Die Majabeskawing het drie hooffases beleef van opkoms en ondergang, maar die vreemdste was dat die manjifieke stede skynbaar onverklaarbaar ontruim is en deur die oerwoud ingesluk is, net om ‘n stad elders weer op te rig. Voorts het die Majas ‘n taamlike volledige skrifstelsel gehad, terwyl dié van die Asteke baie beperk was en die Inkas die bekende, maar beperkte toutjiestelsel gehad het..

Die indrukwekkendste was egter die Majas se beheptheid met syfers en kalenders. Die Majas se kalender was besonder akkuraat, en meer akkuraat as enigiets wat in ooreenstemmende tye in die Weste bestaan het.  Sonder teleskope het hul sterrekundiges uit die priesterklas besonder akkurate waarnemings gemaak wat die verstommende kalenders tot gevolg gehad het.

Die Majas se kalenders was ook in verskillende tydvakke van kort na lank ingedeel, waarvan een so ‘n tydvak nou op 21 Desember ten einde sal loop.

Namate argeoloë nuwe tempels en grafkelders, waterreservoirs en ander oorblyfsels van die beskawing ontdek, ontwikkel daar meer begrip vir die Majas se syfer- en kalenderbeheptheid.  Die woude waarbinne hulle gewoon het skep ‘n misleidende indruk van ‘n oorvloed water. Daar is droë seisoene, en droë siklusse. Die landbou was uiters primitief en het ‘n stelsel van roofbou behels waar veral mielies geplant is. ‘n Stuk woud is doodgewoon afgebrand, en gaatjies met bamboes in die grond gemaak om die pitte in te plant. ‘n Paar jaar later is die grond uitgeput, en ‘n volgende stuk woud afgebrand.

Uiteindelik is die landerye en die betreklik primitiewe bevolking so ver van die stede dat hulle kontak met die regeerders skraps raak, en die stede dan agter die mense aan trek. Die hoofoorsaak, so lyk dit egter, was dat die stede in droë siklusse doodgewoon te min water gehad het, selfs ten spyte van indrukwekkende wateropvangs en berging in reuse reservoirs.

Die Majaryk was op ‘n groot kalksteengebied geleë. Omdat die Majas nie metaalwerktuie geken het nie, was dit belangrik – kalksteen is betreklik sag as dit gemyn en in stene verwerk word, maar word baie hard na dit aan die lug blootgestel is. In dieselfde kalksteen ontwikkel grotte en sinkgate, en hiervan bied toegang tot ondergrondse waterbronne. Stede wat sulke toegang gehad het, het geneig om langer in droë siklusse staande te bly.

Die Majas het genoeg gebied om die wêreld te fassineer, en argeoloë nog baie lank voltyds besig te hou. Maar die Majas het nié die geheim oor die einde van die wêreld, ‘n geheim wat nie eens die Seun nie, maar nét die Vader ken,  ontrafel nie. Die opstellers van die Majakalender het ook nie daarop aanspraak gemaak nie.

  1. Die bekostigbaarheid van Zuma

As na pres. Jacob Zuma se termyn as president gekyk word, is dit ‘n baie geldige stelling om te sê die land kan hom nie vir ‘n tweede termyn bekostig nie. Trouens, bykans elke party in die land het dit gereeld uitgebasuin, en soms ook verdoemende syfers aangehaal om dit te staaf. Op sy wagbeurt het die land erg op die persvryheidsindeks agteruit geboer en word nou selfs deur Tanzanië getroef. En hef aan lê voor met die impak wat die vasbeslotenheid wat die snoerwetgewing op die indeks gaan uitoefen, asook die SAUK se blatante imbongi-spelery van Zuma. Ook op sy wagbeurt het Suid-Afrika op die korrupsiepersepsieindeks die kreeftegang gegaan, en skouspelagtig getuimel die afgelope twee jaar. Ook op die vredesindeks en die indeks vir mislukte state het die land afwaarts gegaan. Pas het die nuus gebreek dat  Suid-Afrika as die vuilste land ter wêreld aangewys is, bedoelende die land se koolstof-vrystellings en planne om dit hok te slaan. Maar dit is nie al nie, ook op ander indekse boer die land agteruit en die skoolstelsel lewer bitter min leerlinge op wat wiskunde en wetenskap onder die knie het.

Uit die geledere van Zuma se kabinet kom al meer uitsprake dat die Nasionale Vredesakkoord nie meer geld nie, of dat minstens dele daarvan geskrap is of geskrap gaan word. Veral kommerwekkend is dat dit as dreigement ingespan word om demokratiese praktyke te probeer smoor.

Tog het die rand verstewig na die ANC se top-ses herkies is. As getroue imbongi’s het die SAUK-TV dit aan Zuma se herverkiesing probeer koppel. Die eenvoudige waarheid is dat die markte, soos almal, reeds Zuma se onafwendbare herverkiesing verdiskonteer het, en positief op die sakeman, Cyril Ramaphosa se oorweldigende verkiesing tot adjunk-president van die ANC gereageer het.

Die algemene verwagting is dat Ramaphosa minder van ‘n non-entiteit as Kgalema Motlanthe sal wees, en sterker sal walgooi teen nasionaliserings- en grondgryppraatjies wat die land se ekonomie enorme skade berokken. Voorts plaas dit Ramaphosa in die binnebaan om Zuma op te volg wanneer sy tweede termyn ten einde loop, of Zuma se sondes sy politieke loopbaan finaal inhaal. Hier is die oog veral op die afloop van die regsproses van die DA teen die Nasionale Vervolgingsgesag gerig, oor laasgenoemde se besluit om alle aanklagte teen Zuma te laat vaar.

Die land gaan egter duur betaal vir die wêreldwye onbegrip oor hoekom Nkandlagate en ander erg skadelike onthullings nie reeds Zuma se politieke einde beteken het nie.

Die mens en die fyn silwerrandjie met die groot swart wolk

Oor hoekom soveel mense maar net té vatbaar is vir die slegste moontlike  “voorspellings”, is ‘n studie op sy eie.  ‘n Onlangse Australiese studie dui op ‘n verband tussen mense wat in sameweringsteorieë glo, en vatbaar is vir allerlei ontkennings soos dat die mens ooit op die maan was, of dat Vigs deur die MI-virus veroorsaak word. Dit word dikwels na die genetika herlei.

Kort-kort duik ‘n selfaangestelde “profeet” op wat aanspraak maak op ‘n “openbaring” oor die einde van die wêreld en hy / sy kry volgelinge. Dié proses sal ook herhaal word tot die Wederkoms eendag werklik plaasvind.  Ander is versigtiger en verklaar bloot dat ons nou in die eindtyd leef.

Die ophef wat nou oor die Majakalender gemaak word, is tog ‘n ietsie anders. Dit hou nie met die Bybel verband nie. Die Majas was nie Christene nie, en het ‘n reeks afgode aanbid. Die “gier” oor die “einde van die wêreld” wat hiermee verband hou, kom dus nie werklik uit die Christelike gemeenskap nie, hoewel daar ook Christene is wat meegesleur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gibson ·

Dis seker nie die einde van die wêreld nie, maar defnitief die einde van Suid Afrika.

Brenda ·

Jy slaan die spyker op sy kop, Gibson! Baie hartseer, maar waar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.