Nuuskommentaar: “Dis die media se skuld…”

Foto: Taurai Maduna/EWN

Binne ongeveer 36 uur nadat die skote by Lonmin geklap, en 34 mense dood gelaat het, was daar op Google amper 40 000 trefslae waarin dié insident met die Sharpeville-skietery van 52 jaar gelede vergelyk is. Tik dieselfde woorde in die elektroniese argief van koerante so uiteenlopend soos die Los Angeles Times, die Christina Science Monitor, Trouw en De Standaard in, en daar is minstens een, maar dikwels meer as een trefslag.

In dié stadium wys omtrent almal na almal die vinger, behalwe natuurlik na hulself. ‘n Amperse vreemde verskynsel is dat die vingers nou betreklik min na die media gewys word – omtrent die mees prominente persoon wat die vinger in die media se oog druk oor die ramp, is Julius Malema…

Oor die algemeen toon die media in hierdie aangeleentheid ‘n besondere volwassenheid. In beriggewing en veral redaksionele kommentaar word oor die algemeen goed informatief belig, en die kommentare is goed begrond.

Dit geskied te midde van ‘n chaos en ontduiking van verantwoordelikhede wat dit moeilik maak om werklik agter die kap van die byl te kom.

Die media kan…

Kundige, verantwoordelike beriggewing

Pas het Beeld se godsdiensverslaggewer, Neels Jackson, ‘n e-pos van regter RH Zulman, voorsitter van die appèlpaneel van die Suid-Afrikaanse Persraad ontvang. Zulman wys me Renette du Plessis se aansoek om verlof tot appèl teen die beslissing van die adjunk-persombudsman in Jackson en Beeld se guns van die hand. Volgens hom is daar geen redelike kans dat die appèlpaneel op die meriete van die aansoek tot ‘n ander beslissing as die ombudsman sal kom nie.

Jackson is verkla omdat hy berig het dat die twis van die steedsHervormers met die NH Kerk ook oor apartheid gehandel het. Jackson erken dat die beswaardes hul standpunte oor die boeg van teologiese gooi, maar dat dit ook aantoonbaar onwaar is dat dit niks met apartheid te make het nie.

… en soms nie

Natuurlik maak die media ook foute. Wêreldwyd dwing ekonomiese faktore veral die gedrukte media om koste te bespaar deur minder ervare verslaggewers aan te stel.

Dié naweek was daar juis weer ‘n berig wat deur onkunde of moedswilligheid groot skade aan die saak van Afrikaans kon aanrig. Die berig handel oor ‘n beraad wat deur die FAK en die Vereniging van Regslui vir Afrikaans aangebied is en glo slegs ‘n wit gehoor gehad het. Die berig haal Danie van Wyk van die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans aan wat stekies na die FAK inkry dat die beraad glo bruin Afrikaanssprekendes uitgesluit het. Die term “laer trek” word selfs ingespan.

Maar wat is die feite? Die berig meld dat dr. Danie Langer, uitvoerende hoof van die FAK, gesê het die SA Akademie, die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die ATKV is genooi. Presies hoe uitgesluit was bruin mense teen die agtergrond daarvan dat dr. Danny Titus die uitvoerende hoof van die ATKV is? Voorts is Michael le Cordeur die voorsitter van die ATR. Titus is die fondsbestuursder van die ATR en ander bekende bruin direksielede sluit in Christo van Rheede, Hendrick Theys, Waldie Kastoor, Anzil Kusten en Ria Olivier. Presies hoe “wit” is lede-organisasies van die ATR soos die Griekwa-Cambelgronde, die DA en Die Burger – ‘n susterkoerant van die koerant van die verslaggewer wat die berig geskryf het?

Titus is voorts hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, ‘n lidorganisasie van die FAK. Die FAK. Die FAK is ‘n sambreelliggaam vir lidorganisasies en sou immers nie sy eie lede van die beraad uitgesluit het nie.

Dis nie moeilik bekombare inligting nie, en ’n bietjie basiese joernalistiek sou so ‘n potensieel skadelike berig kon voorkom het. ‘n Veel insiggewender berig sou dalk wees om vas te stel hoekom die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans nêrens by Afrikaanse liggame geaffilieer is nie. Ek hoekom ‘n instelling wat nie ‘n opspoorbare eie webwerf het nie, so gebelgd is dat dit nie uitgenooi is nie?

Was dit nie dalk juis die bedoeling van die organiseerders om te fokus op instellings wat nié ‘n rasfokus, hetsy bruin of wit plaas, te nooi nie? ‘n Groot verskeidenheid ongeaffilieerde Afrikanerorganisasies is volgens die uitnodigingslys ook uitgesluit.

Ironies was een van die onderwerpe juis Afrikaans in die media. Ander was die nuwe taalwet en opleiding in Afrikaans. ‘n Verslag “Toekoms in eie taal” wat deur Langer en prof. Jaap Steyn vir die NP van Wyk Louwsentrum opgestel is, is bespreek.

Die blitsige insameling van inligting wat moeilik bekombaar is oor sake onderliggend aan Lonmin wys die Suid-Afrikaanse, en ook Afrikaanse media hét nog ‘n goeie vermoë om onder druk kwaliteit werk te verrig. Maar al die bande is op die oog af nie ewe styf gepomp nie.

U klets deur u nek

Die media kom ook elders onder skoot. Die Amsterdamse politikoloog, Rens Vliegenhart looi die media in sy nuwe boek, U klets deur u nek. Hy meen negatiewe mediaberiggewing oor politici maak die publiek sinies oor die politici en ook oor die politieke bestel. Hy het data oor 50 jaar gebruik om tot sy gevolgtrekkings te kom.

Die media het inderdaad saam met die politici voor die wêreldekonomiese krisis onder skoot gekom het, toe ‘n groep Europeërs saamgespan het om ‘n jaar van geestelike higiëne van stapel te stuur. Maar daarna het sake taamlik verander.

Media-onthullings oor nie net politici se gekonkel nie, maar inhalige sakelui soos bankiers met die aanbreek van die ekonomiese krisis, het die media egter grootliks uit die morele “dog box” gehaal, en is selfs as helde voorgehou. Nederland se eie Watergate, toe dit geblyk het die Nederlandse veiligheidsdiens het die kommunikasie meegeluister van ‘n joernalis en haar koerant wat oor die Dalai Lama berig het, en die gevolglike hofsaak het ook gehelp om die media eerder as helde as skurke te vestig.

Vliegenhart is egter in die kol oor die beeld van politici. Politici bly in die spervuur. Dit lei tot ‘n redelike groot omset van politici, en in Nederland is tagtig van die 150 lede van die Tweede Kamer se lede jonger as 45 jaar, en 27 is jonger as 35 jaar. Die premier, Mark Rutte, is 45.  En na die komende verkiesing gaan die profiel blykbaar nog jonger wees. Politici wat genoeg onder die vergrootglas geplaas is en hul hoed vat en loop het weer tot ‘n debat oor verbeterde pensioen vir aftogblasende politici gelei, wat natuurlik die integriteit van politici te midde van ‘n fiskale krisis verder onder verdenking plaas.

Die interessante is dat daar ‘n diskoers is oor of die politici nie dalk te oud en verstok is nie. Ander meen weer die land se regeerders het te min ervaring.

Wie se skuld is dit werklik?

Terwyl Vliegenhart die blaam vir die sinisme in politici en die politieke instellings grootliks voor die deur van die media lê, en die ANC hier dieselfde indruk probeer skep, is die omgekeerde hier waar.

Pas na ‘n kommissie van ondersoek na die Anders Breivik-aanvalle in Noorweë sy verslag bekend gemaak het waarin die polisie erg deurloop, het die polisiehoof verantwoordbaarheid openbaar en bedank. Maar hier kan boeke in riviere beland, die Openbare Beskermer kan verdoemende verslae oor kantoorhuur en vele meer die lig laat sien, die ouditeur-generaal skryf skrikwekkende verslae – maar kaders bly klou soos nete, verplaas blaam, en bly ry in die soustrein.

Dit sou ‘n onverantwoordelike media wees wat nie die vergrype en onbekwaamhede van politici aan die groot klok hang nie – dis immers die media se internasionaal-erkende bydrae tot ‘n volledige demokrasie.

Dwars oor die land is daar oproer, wat op sinisme in die politici dui. Die onlangse insident by die Lonmin-myn by Marikana herinner aan die Sharpeville-insident, behalwe dat die ongevalle nou tot verhouding van die getalle baie hoër was.

Maar gaan die kiesers stembus toe, trek hulle weer hul kruisies by die party van die einste politici – en so word die politieke instellings net verder ondermyn, en minderheidsgroepe se posisie net verder vertroebel.

Sinisme in Afrikaanse politiek sedert 1994 het die sleureffek dat dit moeilik vir ‘n Afrikaanssprekende politikus is, ook ‘n eerbare, om wyd steun by sy eie mense te bou of selfs net te geniet.

Dit onderstreep dat die Afrikaanssprekende sal moet besin oor hoe hy weer geloofwaardige en bekwame politici gaan bou wat oor ‘n wye spektrum sinisme kan oorleef. Lughap-beriggewing wat eerbare pogings onder verdenking plaas help nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Poppie ·

Ja hierdie is die herhaling van destyds met die apartheidsregering. Nou is die Anc in die spervuur. Dit is nou swart teen swart. Daar kan geen vinger gewys word na die witmense nie. Hoekom gaan staak hule as dit geweet word daar gaan skote (dood) wees, Bly by die huis en bly lewe. En die ergste van alles is dat die mynbestuur is swart.

Ek voel dat as mense wil staak moet hul e die punch kan vat wat na hul e kant toe gegooi word.. Werk is skaars, gaan werk eerder asom te staak. Mens kan nie n groot salaris verwag as jy nie wil werk nie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.