Nuuskommentaar: Dit baklei, knoei en hang uit – geen komkommertyd oor vakansietyd

Geoordeel aan die hand van inkomende e-posse sal ‘n nuusman dalk die indruk kan kry dat nuus in ‘n mate opgedroog het, al is komkommertyd danksy moderne kommunikasie lank nie meer wat dit was nie.

Die wêreld het egter nie gaan stilstaan nie. Die Paaslangnaweek breek aan en dit is tradisioneel weer tyd vir ‘n padslagting. Duisende Christenpelgrims sak tradisioneel op Jerusalem toe om die kruisiging en opstanding te gedenk.

In Suid-Afrika word die nuus nog sterk oorheers deur die tragiese gebeure in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die BRICS-beraad, terwyl die oë van die algemene publiek grootliks op die verhoor van die Griekwastad-moorde gefokus was. Die polisiehoof word by die Marikana-ondersoek onder kruisondervraging gebraai.

In Suid-Afrika word die BRICS-beraad gehou, en verskeie ooreenkomste soos die stigting van ‘n BRICS-ontwikkelingsbank, en talle bilaterale ooreenkomste is gesluit. ‘n Russiese afgevaardigde beskuldig Suid-Afrika daarvan dat die beraad nie watwonders gereël is nie na pres. Poetin se lyfwagte die deur gewys is, en ander insidente.

‘n Derde weergawe van die voorgestelde nuwe onteieningswet is ingedien; een wat  deur  dr. Anthea Jeffery, hoof van spesiale navorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge as beter as die voriges beskryf  is, maar steeds swak. Ander instansies soos politieke partye en die landbou-unies wat gewoonlik vinnig op kwessies soos hierdie reageer, is stil of betreklik stil,  en “verklap” dat daar wyd uitgespan word. Daar is uitsonderings, soos AfriForum en Solidariteit, wat hul gebruiklike nuusstroom handhaaf, en kleiner partye soos die Vryheidsfront Plus, wat gewoonlik nuusgewys gesnoep word, wat nou die opening wat gelaat word neem.

In die VSA is ‘n vrou as hoof van die Geheime Diens aangewys, die eerste keer dat pres. Barack Obama ‘n vrou as hoof van een van die veiligheidsdienste aanstel. In Taiwan sterf ‘n vrou tydens ‘n aardbewing wat verskeie mense beseer en omvangryke skade aanrig.

En daar vind tog gevalle plaas waar nuus teen die verwagting in amper deur die krakies val. Wetenskaplikes het spore van mensweefsel in kookvleis gevind, en die verslag is aan die parlement voorgelê. Dit veroorsaak kwalik ‘n rimpeling, in skrille kontras met die onlangse nuus dat Suid-Afrikaners onwetend hier en daar donkievleis saam met maalvleis ingekry het.

‘n Hartseer insident vind plaas waar daar ‘n uitval kom tussen die twee vernaamste instellings wat die belange van outisme in Suid-Afrika verteenwoordig, Outisme Suid-Afrika en die Vereniging vir Outisme. Tradisioneel werk die twee instansies goed saam, maar ‘n beklemtoning  van ras as skoktaktiek in ‘n bemarkingsveldtog wat vir 2 April – Wêreld-outismebewusmakingsdag – deur Outisme Suid-Afrika beplan word, stuit die Vereniging vir Outisme teen die bors.

Onlangse nuusgebeure en die leserskommentare in die kuberruim toon duidelik hoe sensitief – selfs plofbaar – die rassekwessie in die land is. ‘n Veldtog wat die aandag met plakkate met slagspreuke oor outisme verkondig, gaan bepaald skok en die geleentheid tot groter bewuswording skep – en uit die leserskommentare is dit reeds duidelik dat dit broodnodig is – maar is dit regverdig teenoor die outistiese gemeenskap?

Ook die ander stereotipes oor outisme wat uitgebeeld word, soos dat outistiese mense vertraag is, gewelddadig is en besete is, roep om aangespreek te word.

En wat vir outisme geld, geld vir bykans elke gestremdheid, en dit is nodig dat besef word elke geval is uniek, dat elke persoon met ‘n gestremdheid ook ‘n individu is wat ‘n individuele benadering verg. Die een word gestimuleer as sy prestasies – en ja, baie mense met gestremdhede presteer – aan die groot klok gehang word, ‘n ander word deur blootstelling benadeel, en by ander moet die balans iewers gevind word.

Die kwessie word verder gekompliseer deur die voorkoms van multi-gestremdheid, en daar moet teen gewaak word om byvoorbeeld die ganse gehoorgestremde gemeenskap te stereotipeer aan die hand van ‘n persoonlike blootstelling aan ‘n multi-gestremde wat ook doof is.

En terwyl die langnaweek iewers uitgespan word, dink ook aan hulle wat juis nou werk om die ligte te laat brand, daar water in die krane is, en dat u steeds nuus te lese kry.

En as u op die pad is, dink ook aan die mede-padverbruikers sodat die padslagting nie weer ‘n spoor van hartseer laat nie.

En dink veral daaraan dat die Seun die hoogste offer vir ons betaal het, en ook die dood oorwin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.