Nuuskommentaar: Dlamini-Zuma en die Afrika-Unie

dr. Nokosazana Dlamini-Zuma. Foto: Denis Sinyakov / Reuters

Die Suid-Afrikaanse regering se volharding om die minister van Binnelandse Sake, dr. Nokosazana Dlamini-Zuma as hoof van die Kommissie van die Afrika-Unie verkies te kry, was gisteraand suksesvol toe sy daarin geslaag het om die vereiste meerderheid te kry om die sittende beampte, Jeanne Ping van Gaboen in die amp te verslaan.

Voor die verkiesing was daar wye skeptisisme oor of sy die vereiste meerderheid sou behaal, maar meer kommerwekkend is deur verskeie bekende kommentators gesuggereer dat dié stemwerwery Suid-Afrika baie geld uit die sak uit gejaag het.

Reeds kort voor die verkiesing het dit bekend geword dat Suid-Afrika die afgelope drie jaar sowat ‘n R1 miljard aan hulp aan Afrikalande gegee het, waarvan sowat R300 miljoen aan Zimbabwe.

Dit is juis Suid-Afrika se vreemde rol ten opsigte van Zimbabwe wat as een van die vernaamste besware teen Dlamini-Zuma se verkiesing geopper word. Sy het reeds sedert 1994 in die Kabinet gedien toe sy deur die destydse president, Nelson Mandela, as minister van Gesondheid aangewys is. Die jurie se beslissing oor hoe sy in dié amp gevaar het word nog afgewag. In die Mbeki-era is sy as minister van Buitelandse Sake aangewys, en dis uit hierdie periode dat sy die meeste kritiek kry, en in die besonder oor die beleid van stille diplomasie teenoor Mugabe en sy wandade. Dit word vanoggend deur Kenia se Daily Nation genoem, wat ‘n gesindikateerde storie van AFP hieroor dra.

Dit is moeilik om te verklaar hoekom die AU se koppe so geswaai het om Ping te vervang. Die vermoede is dat Oos- en Sentraal-Afrika dié keer teen Ecowas, die Wes-Afrikaanse groepering, gedraai het. Die lande wat die afgelope drie jaar hulp van Suid-Afrika gekry het sluit in: Zimbabwe, Sierra Leone, Soedan, die DRK. Rwanda, Mauritius en Ethiopië. Slegs Sierra Leone is deel van Ecowas. Die bleekgemelkte Suid-Afrikaanse belastingbetaler sal hoop dat dit die laaste hulp was, maar as nog meer vir stemwerwing opgedok is, sal dit goed wees as ondersoekende joernalistiek en opposisiepartye baie gou die besonderhede oopkrap.

Waarnemers bespiegel al lank oor hoekom pres. Jacob Zuma so graag vir Dlamini-Zuma in die AU-pos wou hê. Sy was Zuma se derde vrou in sy poligame gesin, maar is later geskei. Hoewel sy in die leierskapstryd tussen Zuma en Mbeki aan Mbeki se kant gestaan het, is sy een van die min Mbeki-ondersteuners wat die valbyl vrygespring het. Sy is nietemin van Buitelandse Sake na Binnelandse Sake verskuif, wat as ‘n meer junior pos beskou word. Een van die argumente vir Zuma se vasbeslotenheid om sy gewese vrou as’t ware onder sy voete uit te kry, is dat hy haar lojaliteit vir die herverkiesing aan die einde van die jaar nie vertrou nie.

Dit is egter meer waarskynlik dat Zuma sy gekneusde ego probeer versterk deur meer status aan sy termyn te koppel, en as de facto hoof van die AU, bied Dlamini-Zuma se verkiesing aan Zuma se hoofteikenmark vir herverkiesing so ‘n status. Verder is Zuma se beeld as persoon wat vroue volwaardige regte gun, onder druk. Dit handel nie net oor sy lewenstyl wat tot ‘n vulgêre reeks uitbeeldings gelei het nie, maar hoogs omstrede wetgewing oor tradisionele howe wat landelike vroue doodgewoon minag en verneder. Dlamini-Zuma se nuwe pos  lei die aandag hiervan af, en Zuma se steun onder tradisionele leiers behoort ook nie geknyp te word nie.

Dlamini-Zuma self glo haar verkiesing sal nie Afrika verdeel nie, en herlei dit na ‘n persepsie dat die verkiesing een van Franssprekende Afrika teen Engelssprekende Afrika was. Sy gaan so ver om te verklaar sy is self nie deel van Engelssprekende Afrika nie, maar dat sy ‘n Zoeloe is.

Ecowas sluit egter belangrike voormalig Britse kolonies soos Nigerië en Ghana in, en dit moet nog gesien word of hierdie blok die hou op die ken gelate gaan aanvaar. Die tradisie was juis in die verlede om nié iemand uit ‘n leierland tot die pos te verkies nie, juis om te voorkom dat dit as verlengstuk van so ‘n streekmag ontaard. Ping, wat bykans ewe bedrewe in Engels en Frans is, maar uit die relatief klein Gaboen kom, was in baie opsigte baie geskik vir die werk. Maar hy was geen verlengstuk van Suid-Afrika of die SAOG nie, en daarin het waarskynlik sy grootste vervangbaarheid vir Suid-Afrika opgesluit gelê.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae