Nuuskommentaar: Dubula iBhunu (Skiet die boer)

Julius Malema

Die omstrede liedjie, Dubula iBhunu, wat Julius Malema beroemd, of dan berug, gemaak het, het gister amper stil-stil ‘n draai deur die appèlhof gemaak. Die ANC het ‘n bloedneus op die lyf geloop toe die party uitstel gevra het in ‘n geding om as party toegelaat te word oor ‘n interdik wat ‘n lid van die publiek teen die sing van die lied verkry het. Die saak is wel onbepaald uitgestel, maar die ANC moet die regskoste daarvan dra.

Die oë van die wêreld is veel meer gerig op die appèlverhoor later vanjaar van Julius Malema en die ANC teen Malema se vroeëre skuldigbevinding aan haatspraak oor die sing van die lied.

Intussen bly die vraag steeds staan: Hoe kan ‘n regerende party die reg wil opeis om haatspraak teenoor ‘n minderheid te pleeg, terwyl die wêreld op die oomblik juis besonder gevoelig is oor minderheidsregte en wêreldwyd stappe geneem word om die regte van minderhede te bevorder? Enkele sake is gereeld in die openbare oog, soos die Koerde en Tibettane, maar daar is duisende ander waaroor die nuusdekking veral in Suid-Afrika maar skraps is.

Onlangse stappe van Brasilië om groter toegang aan Indiane tot gratis hoër onderwys te verkry, stappe van Taiwan om inheemse tale op die eiland te beveilig, Kosovo wat ‘n spesiale kommissie ingestel het om toe te sien dat minderhede se tale beskerm word, lede van minderheidsgroepe in Pakistan en China wat deur regeringsmagte aangekeer word en dan verdwyn – is alles voorbeelde wat skynbaar gerieflik nie die hoofstroommedia haal nie.

Dat ‘n land so blatant teen ‘n minderheid haatspraak wil kan pleeg, is egter in die huidige tydsgewrig waarskynlik sonder presedent.

Boonop het die ANC ‘n geskiedenis hieroor. Die “reg” om die lied, Kill the Boer, kill the farmer, te mag aanhef is wel makliker deur die ANC in die howe prysgegee, maar die persoon wat dit as voorbok gesing het, word steeds oor ‘n wye front deur die ANC nadoods vereer, soos deur een van die wêreldbekersokkerstadions na hom te vernoem.

Peilings wys voorts daarop dat die land se polarisasievlakke deeglik sonder stookwerk kan klaarkom.

Dat die ANC wél vir Malema uitgeskop het, is kwalik ‘n pluimpie vir die ANC, veral terwyl die ANC self hom tot uiterstes wend om die reg te verkry om die haatspraaklied te mag sing. Malema se skorsing uit die ANC het immers niks met die lied te make nie. Op die aanklag dat Malema na blankes as misdadigers verwys het, het die ANC se dissiplinêre komitee hom boonop weens ‘n sogenaamde gebrek aan getuienis onskuldig bevind. Malema het egter die verhoog met Zuma in Kimberley gedeel toe hy dié woorde geuiter het.

En Malema het steeds baie steun, en weet steeds hoe om die media-aandag te trek. Hoewel dit nie die eerste keer is dat Malema gesê het dinge, of dan minstens sekere dinge soos die skep van Medunsa, was beter onder apartheid as nou nie, het sy jongste uitspraak dat sake onder apartheid beter was as nou die wêreld aan die gons. Hoewel al die Google-trefslae na Malema en “better under apartheid” nie almal na sy jongste uitspraak verwys nie, verwys baie van die byna ‘n miljoen trefslae wél daarna.

Hy sal dus vir die ANC en veral vir Zuma,  wat steeds politieke kapitaal uit apartheid wil haal, ‘n doring in die vlees bly.

Wat die regsproses betref, speel AfriForum ‘n onmisbare rol. Trouens, AriForum is waarskynlik die enkele burgerlike organisasie wat die meeste demonstreer hoe gebrekkig enige grondwetlike demokrasie is as die burgerlike organisasiewese nie deeglik bemagtig word en aktief deelneem nie.

Miskien raak dit tyd dat almal wat Afrikaans as moedertaal koester – trouens, alle minderhede, deeglik bestekopname doen van waar minderhede vandag sou staan as dit nie vir hofsake was wat AfriForum en Solidariteit, en periodiek ander instansies soos onderwysvakbonde, teen die staat gevoer het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Daar is n ander veel donkerder prentjie;
Miskien word Malema juis vir die wolwe gevoer sodat die regerende party of elemente daarvan hom (Julius) kan gebruik om hulle onderskeie agendas te bevorder. Julius het elke keer die Verowerd kwessie, die wit heerskappy kwessie en vele ander fabels na vore gebring. Hy hou steeds aan verkondig dat die land besteel word duer die Boere! Komaan, vir wie probeer hy flous? Miskien werk hy juis vir die Biljoener elite van die land wat niks kan verloor deur die myne se nasionalisering nie. Dan is die heropbou en die rehabilitering (Wat BILJOENE) gaan kos, mos nie hulle probleem nie. Ons aandag word afgelei van die hoofsake terwyl ons n poep gevoer word!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.