Nuuskommentaar: e-Tol en die e-moles

Is dit moontlik dat die ANC en Cosatu hulle in volgende jaar se verkiesing in verskillende kampe kan bevind?

‘n Beplande protesoptog deur Cosatu teen die e-tol hou die potensiaal in vir e-moeilikheid (enorme moeilikheid) na ‘n hofaansoek om die optog te wettig gisteraand misluk het.

Cosatu-lede sal kom vanoggend by Cosatuhuis byeen om te besluit watter vorm hul volgende protesoptrede gaan aanneem.

Uit vorige ondervinding kan dit bloot gestel word dat die omgewing vir mense wat elders kan wees, ‘n gawe plek sal wees om te makeer.

In Kaapstad het pres. Jacob Zuma toe hy die huis van tradisionele leiers toegespreek het in onverskuilde terme die vakbonde gemaan dat protesoptrede die land skaad en werksgeleenthede in gevaar stel. Trouens, hy vra dat dié boodskap ook aan al die werkers verstaanbaar gekommunikeer is asof dié gevolge pas vasgestel is.

In Durban het minister Trevor Manuel uitgevaar teen diegene wat ‘n veldtog teen hom en die Nasionale Ontwikkelingsplan voer. Hoewel Manuel as die pa van die plan beskou word, was Cyril Ramaphosa, nou adjunkpresident van die ANC, die mede-voorsitter en –argitek van die taakspan wat die plan opgestel het, en Zuma het sy persoonlike steun daaraan toegesê. Die NUM, ruggraat van Cosatu, staan volgens RSG aan die spits van die veldtog teen die ontwikkelingsplan. Numsa, nog ‘n groot vakbondfiliaal, is baie uitgesproke in sy teenkanting.

Tolpaaie is opnuut onder die aandag geplaas na die DA-beheerde Kaapstad ‘n suksesvolle hofaansoek teen die land se voorste tollenaar, Sanral, ingebring het. Die kernargument is dat mense reeds vir die bou en instandhouding van paaie betaal deur heffings en verskeie vorme van belasting. Dié argumente kry lyf teen die agtergrond van gereelde berigte oor enorme staatsvermorsing soos Nkandlagate self, knaende oorsese reise deur – geoordeel aan ondermeer die Guptagate – bewustelose ministers met enorme afvaardigings wat aan tipiese piesangrepubliekgedrag herinner, duiselingwekkende bedrae wat vir spyseniering opgedok word en ‘n lang lys soortgelyke vergrype.

Heel ongawe gedrag in ‘n land wat volgens die wêreldbank die grootste inkomstegaping ter wêreld het, en die loongaping in burokratiese en semi-burokratiese instellings nie die land se dravermoë weerspieël nie.

Terselfdertyd duur veldtogte voort om mense af te raai om die e-tolskyfies aan te skaf.

Hoewel dit nou tjoepstil is aan hierdie front, was daar tradisionele hegte bande tussen Cosatu en sy Zimbabwiese eweknie, wat van Zanu-PF weggebreek het en die kern van die totstandkoming van die MDC gevorm het. Daar was ‘n ruk lank duidelik ‘n impak in die ANC-alliansie, met die ANC wat steeds die knieval voor Mugabe doen, en Cosatu wat simpatiek teenoor die MDC gestaan het.

Kenners meen al lank die ANC sal sy eerste werklike politieke opposisie te wagte kan wees as dié organisasie die dag skeur, en ‘n opsie wat genoem word, is dat Cosatu dalk kan besluit om sy eie koers in te slaan. Die kenners is skynbaar reg bewys deurdat vorige wegbreekaksies uit die ANC self, soos die MDC en Cope, en voorheen selfs die PAC en Inkatha uiteindelik tot splinteraksies gereduseer is. Dit is nog te vroeg om te oordeel of Agang enige ander vooruitsig het.

Enige argumente oor die moontlikheid dat die ANC en Cosatu se weë kan skei loop hulle vas teen ongeveer net soveel argumente dat dit nie gaan, en kán gebeur nie.

Stemme uit Cosatu dat die ANC met die komende verkiesing nie outomaties op Cosatu se verkiesingsteun kan reken nie, is met ‘n tot dusver stillerige paleisrevolusie in Cosatu self begroet, maar was waarskynlik meer ten doel om voor die stakingseisoen druk op die regering te plaas vir ‘n ruimer hand wanneer oor salarisverhogings beding word.

In die proses bevind die regering hom nou letterlik tussen die rooi gevaar en die tuimelende rand.

Die volgende faktore dien egter as sement om die ANC-alliansie heel te hou

– Sentiment, soos die afgelope Sondag weer deur Zelda Jongbloed uitgewys in haar rubriek in Rapport. Dit manifesteer o.a. in ‘n groep bruin meningsvormers wat ten spyte van die DKD-Solidariteit-hofsaak die fout eerder by Solidariteit se “politiekery” as die ANC se beleid soek

– Oor tyd is gesorg dat Zuma-lojaliste topposisies in Cosatu en die NUM beklee. Met die vorige NUM-kongres is ‘n heksejag gevoer op kandidate wat deur minstens een mynmaatskappy gefinansier is om ‘n meer gematigde leierskap te verseker, en die mynmaatskappy moes in sak en as sy sondes bely. Dit gaan dus baie moeilik wees vir vakbonde binne Cosatu, en Cosatu self, om straffeloos weg te staan van ‘n Zuma-geleide ANC.

– Cosatu, en veral die NUM, het nou eers ‘n ander e-moeilikheid om te trotseer in die vorm van die opkomende AMCU, wat onlangs by Cosatu se mededinger, Nactu aangesluit het. AMCU bevind hom nou in dieselfde kooi as die invloedryke Media Wokers Association of South Africa (MWASA).

– Die ANC balanseer steeds faksies in die konsep van die “broad church” maar opereer klassiek soos in ‘n eenpartybedeling waar die onderskeid tussen staat en party effektief nie bestaan nie. Die land word dus eerder vanuit Letuli-huis as die parlement regeer. Lojaliteit word op staatskoste beloon eerder as uit die party se eie sak, soos die formele beleid van kaderontplooiing wat duidelik ongrondwetlik is, en teen alle internasionale demokratiese konvensie indruis. (Beide die grondwet en internasionale presedente maak net voorsiening vir ontplooiing in uitsonderlike gevalle, soos hoofde van staatsdepartemente). Die toekenning van tenders en kontrakte is dikwels in ‘n vae wolk van begunstiging versluier.

– Die goedgesindheid van tradisionele leiers word op verskeie maniere “gekoop.” Dié leiers staan nie vreeslik ruim binne demokratiese tradisies nie, en dien as belangrik werktuie om beheer oor ‘n groot deel van die bevolking te hou.

Trouens, baie van hierdie praktyke is teksboekgevalle van hoe diktators soos Saddam Hoesein en Bashar al Assad, beide uit minderheidsgemeenskappe, so lank daarin kon slaag om betreklik stabiel te regeer.

Selfs in lande waar grondwetlike demokrasieë behoorlik funksioneer en minderheidsregte ingevolge die volkereg behoorlik neerslag vind, word die demokrasie as veel wyer verstaan as net wat by die stembus gebeur. ‘n Volwasse demokrasie sluit ook in dat die regspraak behoorlik onafhanklik funksioneer, dat daar ‘n vrye pers en ‘n politiek onverbonde openbare uitsaaier en sterk burgerlike instellings is wat help verseker dat magsmisbruik nie plaasvind nie.

Dit beteken nie dat die belangrikheid van verkiesings onderskat moet word nie, en juis daarom sal die aandag skerp gefokus bly op wat eerstens binne Cosatu self gaan gebeur, en dan ook hoe die afloop daarvan op die drie-party-alliansie gaan inspeel.

En vandag hou eerder die gevaar as die belofte in van ‘n belangrike veldslag. Maar die regering se vasbeslotenheid om alle ander opsies oorboord te gooi om e-tolgedienstig te wees laat gerugte soos ystervarke in ‘n mielieland floreer oor wat die motief kan wees om dié ongewilde perd te bly ry. Tot maatskappye wat by die wapenskandaal gebaat het word via filiale weer by hierdie sage ingetrek, en die beweerde finansiering van die Nkandla-hoofweg het op die internet geloop.

Miskien kry die kiesers darem as troosprys groter openheid oor wat alles agter die skerms aangaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae