Nuuskommentaar: E-tollenaars in die beskuldigdebank

Eintlik is dit nou die beginfase van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Op die oomblik trek die verhoor van die beweerde Modimolle-monster en sy mede-beskuldigdes baie aandag, maar die afloop van hierdie saak kan uiteraard nie vooruit geloop word nie. En daar is rede om dié veldtog ernstig op te neem:

–       Amper 65 000 seksoortredings word jaarliks by die SAPD aangemeld

–       Slegs ‘n klein persentasie verkragtings word by die SAPD aangemeld

–       ‘n Klein persentasie van wat wel aangemeld word, loop uiteindelik op suksesvolle vervolging en vonnisse uit.

–       Huishoudelike geweld vier hoogty

–       Veral in die Wes- en Noord-Kaap is die voorkoms van fetale alkoholsindroom  hoog; kinders wat weens hul moeders se drinkery tydens swangerskap met ‘n agterstand die lewe moet aandurf.

–       Die land staan as die verkragtingshoofsetel van die wêreld bekend. ‘n Groot deel van hierdie verkragtings vind binne gesinsverband plaas.

Naas die aandag wat op die sogenaamde Modimole-monsterverhoor en die Chanelle Henning-verhoor geplaas word, is die aandag van die land nou grootliks op die hersieningsverhoor van die e-tolsage.

Dié verhoor so kort voor die Mangaung-konferensie is vir die ANC ‘n yslike klip in die skoen. Of eerder, dit behoort te wees.

Nie alleen is die regering hieroor haaks met die ANC se vernaamste alliansievennoot, COSATU nie, die verhoor skets die prentjie van ‘n regering wat uit voeling is met die ekonomiese lot van mense wat nie tot die heel boonste ekonomiese echelons behoort nie. Die middelklas gaan nie net regstreeks e-tol betaal nie, maar almal, arm, middelklas en rykes gaan effens meer vir produkte betaal wat regstreeks of onregstreeks deur e-tol geraak word.

Boonop word die indruk nou geskep dat Sanral na beweerde misleidende advertensies vir openbare kommentaar, die konsep en impak op ‘n niksvermoedende publiek wou “deursmokkel.”

En al was daar ‘n taakspan onder die leiding van adjunk-president Kgalema Motlanthe na die eerste hof-bloedneus, kom die regering elke keer by dieselfde gevolgtrekking uit – daar sal e-tol gehef word, en gou ook. Selfs die laer tariewe wat deur die minister aangekondig is, het geblyk dieselfde te wees.

Die indruk word geskets van ‘n regering wat hom teenoor persone en instansies onlosmaaklik verbind het tot e-tol, en die verbetenheid daarvan kry al meer die geurtjie wat herinner aan die klankies wat uit die wapentransaksie trek, en kort-kort deur nuwe onthullings in die buiteland nóg slegter ruik.

Die hofsaak skep geleentheid wat die wapentransaksie jare lank nie gehad het nie … dat die vergrootglas in die openbaar fokus, en al sal baie tersaaklike inligting nou nie tot die aansoekers se beskikking kom nie, laat dit wat reeds aan die groot klok gehang word die saak net slegter lyk:

–       As e-tol ingestel word sal motoriste R71 miljard betaal vir paaie wat R15 miljard gekos het.

–       Die Sunday Times berig oor ‘n begunstigde “klub” wat lonende tenders losslaan, terwyl goedkoper alternatiewe wat beskikbaar is geïgnoreer is. Daar is oproepe dat Sanral se tenders aan ‘n onafhanklike oudit onderwerp word.

–       Daar is ‘n ongelukkigheid van Sanral, en na berig word die regering, met die regter wat glo bevooroordeeld sou wees en Outa se kant sou kies.

Die wurms wat uit die appel rondom die Nkandla-affêre peul help ook nie om wantroue oor die e-tol te besweer nie.

Teen dié agtergrond is dit ook nie vreemd dat inligting die rondte begin doen nie, waarvan die waarheid moeilik bepaal kan word. ‘n E-pos oor ‘n ondersoek wat glo deur MyBroadband se amateur-ondersoekers gedoen is, word wyd versprei en klink oortuigend. Op MyBroadband se webwerf is wel ‘n artikel wat grootliks ooreenstem. In die e-posweergawe word ‘n versigtige verband tussen die geld vir die pad na Zumaville en die e-tol getrek.

Dit sal nie veel kos vir verbeeldingsvlugte om tot die slotsom te kom dat die “klub” van begunstigde tenderaars is ruil die beweerde R1,5 miljoen vir die Nkandlapad skenk nie.

Dit is tyd dat al die tersaaklike inligting oor die e-tol op die tafel geplaas word sodat die publiek gerus kan wees dat daar nie wurms in die appel skuilhou nie.

En as daar korrupsie was, dat dit nie met die Mangaungkonferensie in Bloemfontein verskans word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.