Nuuskommentaar: Eerstens Suid-Afrikaner, of eerstens Afrikaner? Die goudmyn van welwillendheid

Die invloed van die Olimpiese Spele en ander sportbyeenkomste

Die eerste items van vanjaar Olimpiese Spele het reeds plaasgevind en die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan het reeds ‘n drag slae by Swede weg. Maar oor die algemeen gaan Suid-Afrikaners voortgaan om Suid-Afrikaanse sportlui se prestasies te volg – by die Olimpiese Spele en ook in ander kodes soos krieket, gholf en die naweek se Superrugby.

Die Belgometer

Dit is juis aan die vooraand van die Olimpiese Spele dat die Belgiese koerant, De Standaard, ‘n peiling gehou het, wat hy die Belgometer noem. Is die Vlaminge in die eerste plek Vlaminge, of in die eerste plek Belge? Met Belgiese sportlui wat ook aan die Olimpiese Spele deelneem, en pas aan die Tour de France en ander groot sportbyeenkomste deelgeneem het, sou ‘n mens verwag dat die Belgiese nasionalisme sterk sou staan.

Sowat 50 000 lesers het aan die Belgometer deelgeneem.

Dis nie ‘n wetenskaplike peiling nie maar die interessantheid is dat separatisme, die woord wat De Standaard gebruik, nie hier as ‘n soort doodsonde voorgehou word nie.

Altesaam 52,5 persent van die lesers het aangedui hulle is eerstens Vlaams, en dan Belgies. De Standaard beskryf die Vlaminge hiermee as liggies separatisties.

Met die vorige opname in 2007 was 54 persent van die deelnemers eerstens Vlaminge. Die indruk dat die Vlaminge nou sterker oor eerstens Belgies voel, is misleidend.

Sedert 2007, en veral enkele weke terug, het die Belgiese deelstate en ander strukture se outonomie en selfregering baie toegeneem, en skuif die swaartepunt van die begroting ook nou weg van die federale regering na die deelstate. Maar selfs hiervoor, tydens ‘n rekordtyd wat België gesukkel het om ‘n federale regering saam te stel, het veral Vlaandere rustig soos ‘n byna onafhanklike staat bly funksioneer.

Kortom, selfbeskikking is byna tot die vlak van separatisme voltrek, en vir baie Vlaminge is dit wat voor die peiling bereik is, voldoende. Verder word separatisme gewoonlik aangehelp as die federale staat op sy beurt weer deel is van iets groter, soos in hierdie geval, die Europese Unie. Die gedagte dat die federale staat dan ‘n oorbodige struktuur is, versterk dikwels, soos ook blyk uit groeiende aandrang op Skotse onafhanklikheid. Uit die webwerf van die Skotse parlement geoordeel, sou ‘n mens aflei dat dié liggaam sy bande met die Britse en Europese parlemente as op dieselfde vlak beskou.

Met die groeiende vlakke van Europese ongelukkigheid met die Europese Unie sou dus verwag kan word dat die teenoorgestelde proses geld, maar dit is nog te vroeg om met sekerheid te sê.

Suid-Afrika en die versoeningsbarometer

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika?

Afrikaners word dikwels onderling die vraag afgevra of hulle hul in die eerste plek as Afrikaners, of as Suid-Afrikaners beskou. ‘n Antwoord met die strekking van eerste Afrikaner word dikwels beskou as iets wat aan hoogverraad grens.

Die mees onlangse versoeningsbarometer toon dat waar 12 % Suid-Afrikaners hulself in 2007 primêr volgens hul ras uitgedruk het, dit in 2011 tot 19 % toegeneem het. Oor dieselfde tydperk het diegene wat hulle eerstens volgens etnisiteit uitdruk, van 15 % tot 19 % toegeneem, terwyl die kultuurfaktor, taal, van 20 % tot 18 % afgeneem het. Hoewel diegene wat hulself primêr as Suid-Afrikaners uitdruk van 11 % na 13 % gestyg het, was dié syfer vir die voorafgaande twee jaar 14 % – en dus ook nou ‘n afname oor die laaste drie jaar, en is in elk geval baie laag.

Kort na dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tydens die Kliptown-beraad oor kulturele samehorigheid minderhede verwyt het omdat hulle nie bloot by die meerderheid integreer nie, het sy na haar verkiesing tot hoof van die Afrikakommissie haar op haar Zoeloeskap beroep. Nie almal kan egter dit wat hul identiteit uitdruk so maklik aan- en afskakel nie. Kort tevore het pres. Jacob Zuma in een van sy prestige-lesings nog ‘n striemende aanval geloods op wat neerhalend “tribalism” genoem is.

Dit is geen geheim nie dat die regering se roekelose hantering van polariserende kwessies baie bydra daartoe dat polarisasievlakke hoog bly. Doodse swye oor Ronald Lamola van die ANC se jeugliga se breedsprakigheid wat hom ‘n rits kriminele klagtes op die lyf laat loop het, die ANC se voortgesette steun aan die uitgeskopte Julius Malema se appèl teen sy haatspraak-skuldigbevinding, nuwe arbeidswetgewing wat ras as kriterium sal verstewig, grondhervormingsplanne wat die adjunk-president van Agri SA, dr. Theo de Jager  laat sê hy kan in dié stadium nie boere aanraai om in hul plase te belê nie, en vele meer.

Vir baie Afrikaners is daar waarskynlik net daardie iets in die smaak weg wanneer gedink word hulle ondersteun dieselfde sportlui as wat Lamola ondersteun. Dis nie nuut nie … selfs ministers staan nie altyd eendragtig agter Suid-Afrikaanse sportlui nie, soos Trevor Manuel wat skynbaar steeds die All Blacks ondersteun.

Enkele internasionale perspektiewe

Die afmeet van volksidentiteit teenoor ‘n multi-kulturele nasionale identiteit is nie net eie aan Suid-Afrika en België nie. Pas het Irak se Koerdistan erken dat hulle Koerdiese vlugtelinge uit Sirië militêr oplei en toerus. Die Koerdiese regering motiveer dit as noodsaaklik vir wanneer die Siriese gesag in duie stort, en die Koerde in Sirië dalk in die magsvakuum blootgestel kan word. Vir die Koerde, wat al dikwels onder volksmoord deurgeloop het, is dit ‘n argument wat geldig klink.

Die Koerdiese volk woon verspreid oor verskeie lande, soos Turkye, Sirië, Irak en Iran. Behalwe vir ‘n kortstondige onafhanklikheid in Iran het dié volk lank nie meer ‘n vaderland nie, en die Irakse Koerdistan is die naaste wat ‘n deel van die Koerde in ‘n lang tyd daaraan gekom het.

Die verskynsel waar ‘n volk oor landsgrense woon en tot mekaar aangetrokke voel, staan as irridentisme bekend, en bly dikwels destabileringsfaktore. ‘n Groot deel van die probleme tussen Kenia en die Somaliese insurgente kan ook na dié verskynsel teruggevoer word, met die Toearegs wat verspreid oor verskeie state woon en so oral ‘n minderheid vorm, nog ‘n voorbeeld.

Waar grense deur volke of ander entiteite sny, word ‘n vreemde verskynsel op die kaarte dikwels aangetref. Suid-Tirool is aan die verre noorde van Italië geleë, en eers as ‘n mens besef dat dié gebied die suide van Tirool, wat in Oostenryk geleë is beslaan, maak dit sin. So is Noord-Brabant in die suide van Nederland, en Suid-Brabant in die noorde van België.

Die voorbeelde wat genoem is, is maar die oortjies van die seekoei. Die VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad, ECOSOC, maak voorsiening vir raadplegende status aan organisasies wat minderhede in lande verteenwoordig. Op aandrang van Viëtnam het ECOSOC pas die status van Khmer Krom opgesê. Dié besluit is deur die VSA en die Europese Unie teengestaan wat gesê het sulke organisasies behoort nie die trekpas te kry bloot omdat hulle ander standpunte inneem as dié van regerings wat op die raad verteenwoordig is nie.

(Om ‘n idee van die omvang van sulke minderhede se internasionale aktiwiteite te vorm kan die nuusverklarings by  http://www.unpo.org/overview/1/2, http://www.unpo.org/overview/1/1 en http://www.unpo.org/overview/1/3 nagegaan word).

Trots Suid-Afrikaans

Op regeringsleiers en ander meningsvormers rus ‘n groot verantwoordelikheid om nie minderhede van die staat te vervreem nie. Ongelukkig word die indruk dikwels gewek dat baie regeringslui minderhede as die vyand, of minstens as ‘n lastigheid beskou. Hieronder tel dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se uitspraak in Kliptown en die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe se absolute weerstand teen minderheidsregte in ‘n onderhoud met Beeld. Dan die Lamola en Malema-gevalle.

Verskeie deelnemers aan die Kliptownberaad was ongelukkig oor die ideologiese verstardheid van regringsdeelnemers en hul meelopers. Hulle het egter ‘n goudmyn van welwillendheid by die gewone beraadgangers beleef.

En dit is in die gees van hierdie welwillendheid, ten spyte van, eerder as danksy die regering, wat in Olimpiese goud, silwer en brons met trots terug na Suid-Afrika gebring kan word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae