Nuuskommentaar: Eietydse inkwisisie en halssnoermoorde of groter betrokkenheid van die burgerlike samelewing?

Betogings in Noordwes ruk hand-uit“So kan dit eenvoudig nie aangaan nie!” Op RSG se paneelbespreking, Kommentaar, was die deelnemers dit eens dat die land verskeie groot probleme in die gesig staar waarvan die regering self die hoofoorsaak is. Pas het die ouditeur-generaal se verslag oor hoe sake op munisipale vlak daaruit sien, die lig gesien. Net vyf persent van die land se byna 300 munisipaliteite kon daarin slaag om skoon oudits te kry.

Die Burger, in sy hoofartikel vanoggend som die verslag en situasie uitstekend op en dit kan hier gelees word.

Die probleem, som Kommentaar se paneel op, is dat daar groot ontevredenheid is met allerlei vorme van protesaksies wat plaasvind, maar dat baie van die ontevredenes met ‘n volgende verkiesing weer hul kruisies agter die ANC gaan trek.

Hoewel daar stemme van ontsteltenis vanuit die ANC se topgeledere oor die toestand op munisipale vlak is, is dit nog geen uitgemaakte saak dat die probleem werklik aangespreek gaan word nie. Veral Salga se reaksie, soos oorgedra deur sy voorsitter Thabo Manyoni, is uiters ontstellend. Hy meen die reaksie is oordrewe. Die probleem is dat Manyoni groot gesag in die ANC dra. Afgesien daarvan dat hy die burgemeester van Mangaung is, is hy die ondervoorsitter van die ANC in die Vrystaat en vertroueling van die premier, Ace Magashule. Magashule het sy gewig by pres. Jacob Zuma ingewerp, en dié groepering het volgens mediaberigte soos ‘n eietydse inkwisisie opgetree om ‘n omstrede provinsiale kongres te hou waar hulle herkies is. By dié kongres is die hele proses deur Zuma self gekondoneer.

Sedert 1994 agtervolg die een verdoemende Openbare Beskermer- en Ouditeur-generaalverslag na die ander Manyoni soos hy herontplooi en nogmaals herontplooi word. Toe hy na die vorige algemene verkiesing LUR geword het, is ‘n departement vir hom saamgestel met vreemde komponente: polisie, paaie, openbare werke en die tenderraad. Sommer gou het tender op tender in die Hooggeregshof beland en is tersyde gestel, en in een geval was die tenderongerymdheid so duidelik dat die hof self die tender hertoegeken het. Oplaas is die departement deur Zuma onder administrasie geplaas, en Manyoni is as die nuutgevormde Mangaung-metro se eerste uitvoerende burgemeester ontplooi.

(‘n Opsomming van Manyoni se geskiedenis kan hier gelees word)

Of dit munisipale regering of skoolhandboeke is, of dit LUR’e is wat vir onder meer bedrog tereg staan; die strop word weens die ontplooide kaders se politieke bande nie sommer stywer getrek nie. Die probleem gaan dus nie weg nie.

In teendeel, dit lyk of ‘n eietydse inkwisisie jag maak op diegene binne die ANC wat stem dik maak of die fluitjie blaas. Hoewel sluipmoorde nie vreemd is nie en bewerings van naakte intimidasie volop is, is die figuurlike moderne halssnoermoorde meer gesofistikeerd. ‘n Uitstekende voorbeeld was die onlangse voorbeeld waar Lethulihuis die media vir ‘n belangrike verwikkeling ontbied het, en land op TV ‘n narreparade moes aanskou waar Zuma sy vernaamste teenstanders, adjunk-president Kgalema Mothlanthe en Matthews Phosa in die “openbaar” probeer verneder het. Zuma, met ‘n breë glimlag, was skynbaar al een wat dit geniet het.  (Lees Dawie in Die Burger oor die sluipmoorde en intimidasie hier )

Met die kiesers wat die ANC nie straf waar dit saak maak nie – by die stembus – is die vraag wat anders die burgery kan doen? Want so kan dit nie aangaan nie. Dit is inderdaad ‘n geval van die een ding wat gedoen, en die ander wat nie nagelaat moet word nie.

Met die beleid van kaderontplooiing is dit duidelik dat tegnokratiese kundigheid tot ‘n groot mate op die ANC afgedwing moet word, wat ‘n groot stroom baie duur hofsake tot gevolg sal hê. Suksesse deur instansies soos die vakbond Solidariteit, AfriForum, Agri SA soos met die Modderklipsaak, TLU SA en ander toon dat hierdie proses nog lank volgehou moet word. Dit kom egter teen ‘n prys met dié instansies wat in die ANC-gesinde media doodgewoon as rasgedrewe en onsensitief uitgeskel word. Daar moet dus ook versoenings- en beeldbou-aksies wees. Elkeen wat op ‘n toekoms vir die land hoop, kan op ‘n manier ‘n bydrae lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.