Nuuskommentaar: Einde van papierkoerante?

Die sluiting van Newsweek se gedrukte weergawe het koerant- en tydskrifbase dwars oor die wêreld laat regop sit.

Die bekende Christian Science Monitor het enkele jare gelede reeds van sy daaglikse gedrukte uitgawe afgesien. Dié gehaltekoerant het reeds jare op ‘n yslike verlies van die rolpers geloop wat deur die Christian Science-kerk gedra is.

Tim du Plessis, hoofredakteur van Media 24 se Afrikaanse koerante, skryf in ‘n insiggewende rubriek, Koerante boks in ‘n nuwe kryt  in Volksblad oor die verskynsel.  Du Plessis skryf onder meer: “Die vraag is nie óf Volksblad eendag ook net digitaal sal verskyn nie. Dis wánneer. In die kuberruim swerf ’n ‘uitwissingstabel vir koerante’ rond wat kwansuis voorspel wanneer die laaste gedrukte koerant waar sal verskyn.”

Volgens die “uitwissingstabel” van gedrukte koerante sal die laaste gedrukte koerant in die VSA in 2017 verskyn. Suid-Afrika lê ‘n bietjie verder in die verskiet – 2037.

Onlangs het die Amerikaanse peilingsagentskap, Rasmussen bevind 40 persent van die volwasse Amerikaners dink die kuberruim is die beste plek om daagliks oor nuus en ander sake ingelig te word. Altesaam 37 % meen die TV is die beste manier, 9 % die radio en net 7 % sê hulle wend hulle tot gedrukte koerante.

‘n Soortgelyke migrasie vind van gedrukte boeke na e-boeke plaas.

Waarskynlik die grootste rede waarom onafhanklike webgedrewe nuusbronne nie gouer daarin slaag om die gedrukte koerante tot oorgawe te dwing nie, is omdat die advertensiemark nog nie in ooreenstemming met die lesersmigrasie reageer nie. Suksesvolle adverteerders span ook ‘n mediamengsel volgens ‘n betreklik goed-uitgewerkte formule in om te besluit watter persentasie van hul advertensiebegroting in watter media geplaas word. Hoe meer sintuie, soos sien en hoor, die teikenmark aanspreek, hoe suksesvoller behoort dit te wees. Koerante en die web ding hoofsaaklik mee om dit wat lesers sien.

Sonder die vergelykbare inkomste, is dit vir nuuswebwerwe baie moeilik om doeltreffend met koerante mee te ding. Nuusinsameling is baie duur, die soek na “scoops” nog duurder, en die gehalte-aanbieding is nog moeiliker.

Hoewel daar ruim roof-joernalistiek plaasvind, is dit nie net nuus-webwerwe wat nuus gaps nie. Die omgekeerde gebeur ook toenemend – juis omdat nuuswebwerwe so maklik die leemtes in koerante se nuusseleksie ontbloot, en kleingeld maak van politieke korrektheid of eie (politieke) agendas.

Daar het inderdaad werklike gehalte nuuswebwerwe tot stand gekom, en al hoe meer aktualiteitspraktisyns bedryf hul eie blogs teen ‘n wins weens die gehalte werk wat gelewer word.

Koerante verskuif ook ‘n toenemende deel van hul eie bedrywighede na die internet. Allerlei maniere word bedink om inkomste daaruit te genereer. Die New York Times se webgedeelte vereis ‘n subskripsiefooi, terwyl die Los Angeles Times elke gebruiker ‘n sekere aantal kere per maand gratis toegang bied. Ander koerante se elektroniese argiewe kan slegs teen ‘n fooi geraadpleeg word.

Dit gaan al hoe moeiliker raak om genoegsame inkomste uit die mededingende veld van nuuswebwerwe te genereer, en die oorlog vir die hoogste kwaliteit produk het reeds begin.

‘n Mistasting kan ‘n nuusweb doodeenvoudig dieselfde paadjie as NuusNou laat loop. Gewone marknavorsing om te bepaal “wat mense soek” werk nie altyd nie, omdat die spesialisvelde net te uiteenlopend is. Om ‘n nismark te teiken wat in aktualiteit belangstel, en dan ‘n ander nuusseleksie te doen, of ‘n intellektuele mark met die korste moontlike beriggies te voer, is waarskynlik die dood in die pot.

Dit is ook duidelik dat die regte tyd om ‘n kubervoet in die deur te kry, nóú is, al moet die mark nog aansienlik uitgebrei word.

Maar nou word vir die reeds-bekeerde lesers van Maroela gepreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.