Nuuskommentaar: Emosies oor skaliegas

Regoor die wêreld is daar hewige emosies los oor skaliegas – nie net oor die ontginning nie, maar die moontlikheid van selfs net prospektering, laat staan nog ontginning.

Intussen staan die wêreld nie stil nie. Die VSA se enorme produksie aan skaliegas het die land se energiebedryf drasties begin verander. Maar dit handel nie net oor skaliegas nie, maar ook oor skalie-olie.

Trouens, OPUL-lande kla dat die enorme hoeveelheid skalie-olie wat die VSA en Kanada ontgin, die vraag na OPUL-olie volgende jaar teen ‘n tempo van 300 000 vate per dag sal laat afneem.

OPUL funksioneer formeel as kartel, wat die produksie tussen sy lede beperk om die wêreldprys hoog te hou. Inhaligheid laat lidlande egter gereeld skelmpies skei breek, met die gevolg dat die wêreldmark weer bietjie oorstroom, en pryse daal.

Pryse word ook deur faktore beïnvloed soos die stand van die wêreldekonomie, en die winter in die noordelike halfrond waar baie kragsentrales nog olie gebruik.

Maar terwyl verwag word dat OPUL se produksie volgende jaar van die huidige 30 miljoen vate per dag tot 29,6 miljoen sal afneem, sal die gesamentlike produksie van nie-lidlande, soos die VSA, tot 55.1 miljoen vate per dag toeneem. Dit is ‘n toename van 1,1 miljoen, en word veral moontlik gemaak deur meer gevorderde tegnieke om olie uit voorheen ontoeganklike rotslae soos skalie te pers.

Anders as olie, is die metaangas wat met aardgasontginning onttrek word, bykans skoon van skadelike stowwe wanneer dit verbrand word. Metaangas is wel, soos CO2, ‘n kweekhuisgas en enorme hoeveelhede word jaarliks deur die natuur in die atmosfeer vrygestel. Rysmiere, komposgate en die mis van vee is maar ‘n paar van die bronne, en daar is al by plase vindingrykheid aan die dag gelê om dié gas op ‘n manier te versamel, en vir die opwekking van elektrisiteit in te span.

Hoewel die kwessie van metaangas as kweekhuisgas soms in besware oor die ontginning van skaliegas geopper word, is die werklike besware teen die proses self gemik, in Engels bekend as fracking, en in Afrikaans as hidroliese breking, die geheime doepas wat onder hoë druk in die gate gepomp word om die gas vry te stel sodat dit ontgin kan word.

Die besware is ‘n mengsel van feite, vermoedens en ongelukkig dikwels ook mites. Die feit dat maatskappye die “resepte” van hul doepas geheim hou, veroorsaak dikwels dat allerlei werklike en gewaande gevare nie behoorlik aangespreek kan word nie. Net te veel mense wat geen benul van geologie het nie, is skielik kenners oor die gevare daarvan. Die geologie is kompleks, en verskil van gebied tot gebied, soos die dieptes waarin die skaliegas voorkom, en die deurlatenheid, of gebrek aan deurlatenheid van die lae daarbo. Dit alles help bepaal of daar ‘n kans is dat die “gewone” grondwater wat mens en dier moet gebruik, besoedel kan word.

Normaalweg geld die beginsel dat die skaliegas uit rotslae ver onder dit wat met die “gewone” grondwater verband hou, onttrek word, en dat dit onmoontlik sal wees om ‘n verbintenis te kan laat plaasvind.

Geoloë is ook met mekaar haaks oor die rol wat ontginning, hetsy hidroliese breking of konvensioneel, daarin speel dat daar skynbaar meer gereeld ligte aardbewings in gebiede soos Oklahoma in die VSA, en Groningen in Nederland voorkom. Projeksies word selfs gemaak oor hoe sterk sulke aardbewings in uitsonderlike gevalle kan wees, en dat sulke skuddings skade kan aanrig.

Dit is uiteraard absoluut noodsaaklik dat onkundige aktiviste hul protes tot die aktivistiese vlak moet beperk, en hulle nie as kenners aanbied en ‘n klomp wolhaarstories die wêreld instuur nie. Aktiviste sal verhinder dat prospekteerders en ontginners kanse vat, en wel ten spyte van die mooiste beloftes skade aanrig. Maar net so moet die kenners absoluut eerlik wees.

Maar as, en dit is as, ontginning wel eendag sal plaasvind, is dit ook noodsaaklik dat die streek genoeg van die welvaart plaaslik kan hou sodat ‘n wye verskeidenheid ontwikkelings kan plaasvind sodat armoede en werkloosheid in die streek aangespreek kan word.

Dit sal ‘n aanklag teen die huidige geslag wees as die Karoo eendag as ‘n verkragte en verwoeste landstreek vir die nageslag gelaat word. Net so sal dit egter ook as ‘n aanklag staan as dit in die toekoms sou blyk, wanneer groen energie soos wind- en sonkrag behoorlik benut word, dat die land ‘n paar geslagte deur armoede verwoes het, en dit blyk dan dat skalie-ontginning wat dit kon voorkom, inderdaad skadeloos gedoen kon word.

Wanneer inhaligheid en emosionele teenkanting teenoor mekaar te staan kom, en die koel koppe uit die prentjie dwing, sal nugter besluite nie geneem kan word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae