Nuuskommentaar: “Europa moet SA se grondwetlike proses navolg”

Twee akademici, Bruce Ackerman van Amerika en Miguel Maduro van Spanje het pas in ‘n gesamentlike artikel in The Guardian voorgestel dat Europa die Suid-Afrikaanse grondwetlike proses volg om ‘n grondwet op te stel. En hulle stel voor dat Europa die knieë lig om die proses aan te pak.

Hulle sê egter nie dat die Suid-Afrikaanse grondwet self ook as model moet dien nie – net die proses om daarby te kom.

Suid-Afrikaners hoor gereeld dat Suid-Afrika die beste grondwet ter wêreld het. Dié geluide kom ook uit amptelike regeringsgeledere. Maroela het al tevore dié kwessie ontleed en vasgestel dat daar kenners is wat die eer van die beste grondwet ook vir ander grondwette opeis, soos die nuutste Deense grondwet.

Die meeste mense wat Suid-Afrika se grondwet as die beste ter wêreld klassifiseer, doen dit op grond daarvan dat dit deur ‘n breë onderhandelde proses voorafgegaan is, en omdat dit jonk is, die voordeel gehad het dat by ander modelle kers opgesteek kon word.

Maduro en Ackerman laat hulle nie werklik oor die werkbaarheid van Suid-Afrika se grondwet uit nie, maar prys die proses aan van hoe daarby uitgekom is.

Europa is met die Europese ekonomiese krisis vasgevang in ‘n tipe grondwetlike lugleegte, na die vorige proses en voorgestelde grondwet in 2005 deur referendums in die lidstate in die asblik beland het. Toe het kundiges saamgespan en uit dit wat beskikbaar was ‘n voorgestelde grondwet van 350 bladsye opgestel wat in erg juridiese vaktaal saamgestel is.

Die gevolg is dat Europa nou die krisis deur noodmaatreëls moet bestuur waarvoor die bevolking se goedkeuring nie nodig is nie, maar dat ‘n blywende oplossing slegs bereik kan word waar op die langer duur die goedkeuring van die kiesers wel nodig is. Sonder ‘n werklike grondwet is dit onmoontlik.

Die proses wat Ackerman en Maduro so aanbeveel behels dat die belanghebbendes bymekaar kom, eers ‘n stel grondwetlike beginsels opstel, dat dan voortgegaan word om ‘n grondwet as sosiale kontrak op te stel en dat dié grondwet dan oplaas aan ‘n bevoegde hof voorgelê word om te toets of die grondwet aan die grondwetlike beginsels voldoen.

Dit is onwaarskynlik dat ‘n Europese grondwet veel met die beginsels van die Suid-Afrikaanse grondwet  ooreen sal kom. Die Europese Konvensie van menseregte en ander regsbeginsels plaas ‘n enorme fokus op minderheidsregte, wat veel verder strek as net waarborge oor kulturele regte. Spanje kon byvoorbeeld nie lid van die EU word voor die Baske en die Kataloniërs selfbestuur as deel van hul selfbeskikkingsreg verkry nie, en dieselfde beginsel stuit Turkye se pogings om ‘n lidland te word.

Dit staan in skrille kontras met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se aandrang by die Kliptownberaad dat minderhede in Suid-Afrika bloot by die meerderheid moet integreer. Dit was in reaksie op ‘n voorstel dat Suid-Afrika ‘n ministerie vir minderhede kry.

Trouens, as Europa na voorbeelde wil soek oor hoe ‘n regering gereeld met sy meerderheidsmag die grondwet en veral grondwetlike beginsels uitdaag, is Suid-Afrika ‘n goeie voorbeeld om na te kyk.

Die grondwetlike beginsels is die produk van ‘n nasionale vredesakkoord wat die gewapende konflik in Suid-Afrika formeel beëindig het. Die FW de Klerkstigting het reeds die ANC met voorbeelde daarvan beskuldig dat die ANC minstens dele van die vredesakkoord opgesê het.

Terwyl die grondwetlike beginsels minstens die status van ‘n konvensie moet hê, word besluite geneem wat lynreg daarteen indruis. In ‘n stadium het die ANC die gedagte geopper dat met die provinsiale vlak van regering weggedoen word – terwyl die provinsiale vlak van regering egter pertinent in die grondwetlike beginsels vereis word.

Die voorgestelde naamsverandering van Pretoria plaas opnuut die fokus op die argeloosheid waarmee die ANC die beginsels van die vredesakkoord na die maan stuur.

Hoewel die Suid-Afrikaanse grondwet voorsiening maak vir die moontlikheid dat groepe ‘n mate van selfbeskikking kan kry, is die hele fokus eerder op individuele regte, as minderheidsregte. Soos Roelf Meyer later in ‘n lesing verduidelik het – met die opstel van die Suid-Afrikaanse grondwet het die meerderheid van die opstellers besluit om groepsbelange te ondervang in die kollektief van individuele belange.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae