Nuuskommentaar: FNB en ANC se “uncool” stuipe

Nando’s se nuutste advertensie oor dié kwessie.

Die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde sal binnekort oordeel oor die aanvaarbaarheid al dan nie van ‘n FNB-advertensie waarin jong mense hul mening oor die land uitspreek. In die opnames spoel talle jonges hul mond goed uit oor die ANC wat vir onder meer vir werkloosheid, korrupsie en ander probleme verantwoordelik gehou word.

Die ANC, uiteraard, het volgende jaar wanneer die 17-jariges stemgeregtig is, hul oog op ‘n groot verkiesingsoorwinning. Dit is dan presies twintig jaar sedert die ANC aan bewind gekom is, en die party wend alles moontlik aan om die klem op prestasies en gewaande prestasies te plaas, en vir die olifant in die HOP-huisie wat nie weggesteek kan word nie, word oorle apartheid geblameer.

Die soort kritiek wat die jeugdiges uitspreek, is meer as net alledaags van dit wat deur opposisiepartye, burgerlike instellings, akademici en ‘n groot deel van die publiek uitgespreek word. Een van die opposisiepartye het in ‘n stadium die bynaam, “The government should”-party, gekry omdat baie mediaverklarings so begin het. Dikwels steur die ANC hom kwalik aan baie geldige kritiek.

Trouens, die ANC roem periodiek daarop dat die party, as “groot kerk,” in huis ruimte bied vir kritiek.

Van waar dan die gevoeligheid nou?

Die advertensie is deel van ‘n veldtog: “Jy kan help.” Die bank het ‘n onafhanklike opname laat doen waaruit dit blyk dat 70 persent van die jeugdiges positief is oor die land se toekoms.

Dit lyk egter nie of baie van die jong mense dieselfde vertroue in die ANC stel nie. Dit is duidelik dat die jong generasie in dele soos Soweto oor meer nuusbronne beskik as wat die ANC met sy hegemonie oor sfere buite die staat onder die duim kan hou. Veral die SABC-TV-nuus is so blatant geplooi dat selfs die mins ingeligte kan agterkom dat ‘n ander werklikheid oor die regering en veral die president voorgehou word as wat uit ander media in die binne- en buiteland blyk.

Die jong mense van Soweto is ‘n moeilike groep om ideologies onder die duim te hou. Baie het toegang tot die internet, en daar is kritiek op die ANC volop – word die baba by die naam genoem en oortuigende besonderhede oor onder meer korrupsie aan die groot klok gehang. En daarvandaan gaan inligting van mond tot oor, en word getweet dat dit soos golwe oor die land spoel.

Sekere dinge, soos om Barack Obama te bewonder, is cool, en om ‘n president sonder skoolopleiding te hê wat “tradisonalistiese” uitsprake maak, is uncool.

Teen die tyd wat die jeugdiges uiteindelik hul kruisies gaan trek, is hul tipiese voorstedelike tiener-vrysê waarskynlik deur die harde werklikheid geskuur en selfs gekneus. Heel waarskynlik gaan stem hulle dan steeds op groot skaal vir dit waaroor hulle nou so krities is.

Maar intussen het die veldtog ‘n meganisme geskep waardeur die jong mense se stem ver buite die gewone kringe gehoor kan word. Dit ding wat blootstelling betref, mee met dit wat die regering baie moeite doen die mense moet hoor.

Die ANC-leierskap het homself juis op die skouer geklop dat dit menings so kan bewimpel dat pres. Jacob Zuma, volgens alle objektiewe maatstawwe ‘n onwaarskynlike oorwinnaar by die Mangaung-kongres, loshande as oorwinnaar van die podium kon stap.

Die advertensie onderstreep die harde werklikheid dat die pro-Zuma-veldtog in sekere kringe geboemerang het. Dit val saam met oproer dwars oor die land, soos nou by Sasolburg.

Cosatu probeer nou wal gooi in die Wes-Kaap, want die oproer terwyl die Afrikabekertoernooi in die land plaasvind, is geen goeie advertensie vir ‘n land wat deur die ANC regeer word nie. Sasolburg is inderhaas gepasifiseer, want die oproer val saam met Zuma se Davos-poging om buitelandse beleggers te oortuig om in Suid-Afrika te belê. Die ontevrede inwoners moet kennis neem dat die gewraakte samesmelting met Parys nie blywend van die agenda gehaal is nie.

Die vraag is nie so seer of FNB korrek opgetree het nie. Die kommer behoort veel eerder te wees dat die ANC in sy duidelik opgeblase reaksie uitsonderlike demokratiese onvolwassenheid en onverdraagsaamheid aan die dag lê.

Niemand anders nie as die ANC kan geblameer word daarvoor dat die land op al wat saakmakende indeks agteruitboer.

Die land stuur op volgende jaar se algemene verkiesing af terwyl twee heel uiteenlopende werklikhede oor die ANC in omloop is. En tekens dat die ander werklikheid die ANC se tradisionele steunbasis begin beïnvloed word nie oral as ewe cool ervaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daco Conradie ·

Die meerderheid 17 jariges sal vir die ANC stem! Dit gaan vir hulle nie oor dienslewering, stand van SA, ekonomie ens. nie, dit gaan deur en deur oor politic.

Wat het die politic (ANC) vir hulle in die sak gebring… niks!

Dit het die volgende in die sak gebring:

Moord / Geen Wet Gehoorsaamheid / Korrupsie / Werkloosheid / Geen Dienslewering / Swak Onderwys en die lys gaan aan en aan, dit alles op groot skaal.

As hul oë nie teen nou al oopgegaan het nie, sal dit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.