Nuuskommentaar: Foutlyne in die demokrasie

Die wenners in ‘n demokrasie is nie noodwendig die eerlikste of bekwaamstes nie, maar die gewildste, aldus Jack Bloom, gesondheidswoordvoerder van die DA in Gauteng.

Daar is merkwaardig baie ooreenkomste tussen die ANC se leierskapstryd wat in Desember afloop, en die Amerikaanse presidentsverkiesing wat in November plaasvind.

In die VSA word die ekonomiese kwessie as by verre die vernaamste verkiesingskwessie beskou. In die vier jaar van pres. Barack Obama se bewind het die Amerikaners se ekonomiese omstandighede met amper nege persent verswak. Die betroubare Rasmussenpeilings dui daarop dat 51 persent van die Amerikaanse kiesers meer vertroue in die Republikeinse kandidaat, Mitt Romney het om die ekonomie reg te ruk, teenoor 44 persent wat meen Obama sal dit beter kan doen.

Ook op ander terreine dui kiesers aan dat hulle oortuigings meer saamval met dié van Romney as met Obama. Die meerderheid het onlangs aangedui hulle is teen aborsies op aanvraag, en is dus ideologies in die kamp van Romney en sy adjudant, Paul Ryan. Nog ‘n peiling dui daarop dat 49 persent van die kiesers dink die land is nou swakker daaraan toe as vier jaar gelede vir soverre dit rasseverhoudinge, buitelandse aansiens en geleenthede vir jong mense en vroue aanbetref, terwyl net 29 persent meen die land is nou beter daaraan toe. Meer as die helfte van die kiesers wil Obama se gesondheidsorgwette, bekend as Obamacare, geskrap hê.

Hieruit sou afgelei kon word dat ‘n verpletterende neerlaag vir Obama op hande is. Maar die jongste Rasmussenpeilings dui daarop dat 50 persent van die kiesers hul kruisies agter Obama se naam gaan trek, en 47 persent vir Romney gaan stem. Verskeie kundiges meen die regstreekse debatte wat die week begin, is Romney se laaste hoop, hoewel die debatte in die verlede gewoonlik nie ‘n groot impak gemaak het nie.

Wat die ANC se leierskapsverkiesing aan die einde van die jaar betref, is omtrent alles wat teen presedent Jacob Zuma behoort te tel, nou akuut. Die situasie by baie myne is op baie plekke in ‘n toestand van anargie. Werkloosheid knyp, die inkomstegaping is op revolusionêre vlakke. Die onderwys haper… Munisipale kaders spartel en skep.

Na berig word, het die minister van Finansies, Pravin Gordhan die ANC se nasionale uitvoerende komitee gemaan om op so ‘n wyse op te tree dat die land se beeld nie skade ly nie. Hy het die impak van die jongste Moody’s Beleggersdiens-gradering op die land verduidelik. Nog ‘n berig lui dat die kabinet aan die skarrel is om beleggers gerus te stel.

Omstredenheid bly soos ‘n skaduwee die president volg, met die jongste die uitbreidings van sowat R200 miljoen aan Zuma se Nkandla-woning, waarvan byna alles uit die belastingbetaler se sak kom. Ontleder na ontleder meen die land kan doodeenvoudig nie nog ‘n Zuma-termyn bekostig nie.

Maar … maak nie saak hoe ontleders na die leierskapsverkiesing aan die einde van die jaar kyk nie, dit lyk of Zuma die pyp gaan rook.  Sy moontlike opponente vaar op enige denkbare, moontlike manier beter as Zuma, maar in die lig van ontledings is dit selfs moontlik dat Zuma aan die einde van die jaar onbestrede kan staan.

Die kwesbaarhede in ‘n demokrasie is al dikwels in goue woorde verewig, waaronder:

–       In ‘n demokrasie kry die bevolking die regering wat hulle verdien.
–       Die demokrasie is ‘n euwel, maar dit is die beste euwel wat ons het.

‘n Grondwetlike demokrasie skakel wel baie van die swakhede uit, of minimaliseer die negatiewe impak teen opvattings soos dié wat onlangs van Zuma gekom het, naamlik dat die meerderheid in ‘n demokrasie meer regte as die minderheid het, weliswaar in die konteks van vakbondwese.

‘n Vrye media en burgerlike instellings wat sterk genoeg is om die howe te nader, is onontbeerlik in ‘n land waar demokrasie nie ontplooi soos wat die ontwerpers dit graag sou wou sien nie.

‘n Groot probleem, soos uitgewys deur prof. Steven Friedman, is dat skandale wat die land skaad, nie in die ANC as skandale ervaar word nie.

Suid-Afrikaners buite die ANC kan egter nie te veel die vinger in die ANC se oog druk nie. Om twee voorbeelde te noem: Peilings het daarop gedui dat die meerderheid Suid-Afrikaners teen aborsies op aanvraag en teen die afskaffing  van die doodstraf is, maar word die kruisies getrek, staan die partye wat daardie waardes deel droëbek.

Piet Retief, toe hy tot president van die Voortrekkers verkies is, het dit benadruk dat hy nou ‘n dienaar van die volk is, omdat die volk se stemreg koning is.

Die volk kies ‘n leier wat hul belange die beste kan dien, ook die belange van diegene wat teen hom gestem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.