Nuuskommentaar: Gaan politiekery sensuswaarde ondermyn?

Die ou sensusgrappie lui dat ‘n omie by ‘n sensusopnemer wou weet wat ‘n sensus nou eintlik is. “Ons tel die mense, oom.” “Nou hoekom? Is iemand dan weg?” wil die omie weet.

Hoewel ook Dinsdag aangekondig is hoeveel mense daar op sensusnag verlede jaar in Suid-Afrika was, was dit ook baie duidelik dat dit oor veel meer as net die getal mense in Suid-Afrika handel. Die hoofverslag wat gister bekend gestel is, is meer as 80 bladsye lank.

‘n Groot deel van die verslag verduidelik watter stappe geneem word om te verseker dat data uiteindelik korrek is. Dit laat vrae ontstaan oor hoe akkuraat die nuwe syfers is, soos onder meer dat een van die dataverwerkers, Jean-Marie Hakizimana, aan die media verduidelik het dat onlogiese verskille tussen hierdie en die vorige sensus aan faktore toegeskryf kan word soos minderheidsgroepe wat nou beter saamgewerk het.

Met elke sensus is daar klagtes van mense wat nie getel is nie, en met die vorige sensus is verskeie gevalle aan die lig gebring dat vorms onder die bome ingevul is deur opnemers wat gegewens uit hul duime suig, of bloot die paar huishoudings wat wel opgeneem is, se gegewens effens aanpas vir ander vraelyste. Internasionaal word professionele na-sensusopnames gedoen juis om sulke afwykings te voorkom, ook in Suid-Afrika.

Die sogenaamde ondertelling in Suid-Afrika, wat deur die na-sensusopname reggestel word is besonder hoog. Ongelukkig maak die persentasie ondertellings per provinsie met die jongste sensus weinig sin – daarvolgens is die sensus in die Vrystaat die akkuraatste uitgevoer, en klop Limpopo net-net. Die Limpopo-skoolboekkrisis en die feit dat verskeie departemente in dié twee provinsies onder sentrale administrasie geplaas is skep egter nie dieselfde persepsie van vertroue nie. Volgens die tabel het die Wes-Kaap die swakste gevaar, wat ewe-eens nie persepsiegewys sin maak nie. Die nasionale gemiddelde aanpassing is meer as 14 persent, terwyl dit in die VSA met die 2010-sensus net 0,01 persent was.

In die verslag self word ‘n verduideliking gegee oor hoekom daar ‘n verskil is in die werkloosheidskoers volgens die sensus, en die amptelike kwartaallikse arbeidsmagopnames. ‘n Gewone lid van die publiek sal egter steeds bly wonder welke een nou eintlik akkuraat is.

Met die sensus was daar by baie ontsteltenis dat die vraag oor mense se ras steeds op die vraelys voorkom. Daar is gevrees dat dié gegewens gebruik gaan word om diskriminasie in die vorm van rasbegunstigde bevoordeling te regverdig, en dié vrees is sommer uit die staanspoor bevestig toe pres. Jacob Zuma en ander ministers hulle nie so seer oor die inkomstegaping tussen ryk en werkloos verknies het nie, maar tussen wit en swart. Hulle laat na om te meld dat die sensus ook toon dat baie wit mense wat sukkel om werk te kry nou in die buiteland sit. Die groei in bevolkingsgetalle van verskillende rasse toon ook duidelik hoekom daar ‘n beter welvaartsretensie onder sommige groepe moontlik is.

Indien dit waar is dat wit huishoudings gemiddeld meer as R365 000 per jaar verdien, en dus ses keer meer as ‘n gemiddelde swart gesin, kan aanvaar word dat die praktyk van rasbegunstigde bevoordeling verskerp gaan word. Dit beteken nog meer maatskaplike ingenieurswese in die ekonomie wat ekonomiese groei smoor.

Dat Zuma in die aanloop tot sy waarskynlike herverkiesing tot ANC-leier die einde van die jaar politieke munt uit die sensus sou probeer slaan, is stellig so. Soos een twiet gelui het: “Het die president die regte dokument geraadpleeg voor hy gesê het dat die sensusdata iets is om op trots te wees, as die werkloosheidskoers op byna 30 persent staan?

Dit behoort egter in almal in die land se belang te wees dat die sensusgegewens akkuraat moet wees. Akkurate gegewens is nie net nodig om te weet hoeveel nuwe skole en hospitale gebou moet word nie, maar waar dit gebou moet word. Dit dui aan waar die ekonomie floreer, en waar die ekonomie gestimuleer moet word om die bevolkingsgetalle te akkommodeer.

Dit dui aan waar die paaienetwerk uitgebrei moet word, en waar beter voorsiening gemaak moet word vir voldoende water- en kragvoorsiening.

Die huidige Eskomkrisis waar die vuisvoos publiek blykbaar  vir nog 15 jaar erg gemelk gaan word, dui op ‘n oordeelsfout in die verlede.

Die hoofverslag wat vrygestel is gebruik veral ras as norm, en enige ander norm soos geslag en ouderdom, maar nie taal nie. Die woord “Afrikaans” kom glad nie in die verslag self voor nie. In die dokument Census in brief word die taalkwessie wel aangeroer.   Dié gegewens toon ook dat die sand uitloop vir die regering om Afrikaans te marginaliseer omdat dit wit sou wees. Daar is nou meer mense wat hulself as bruin beskryf as wit, en meer as 3,4 miljoen bruin mense is Afrikaanssprekend teenoor net meer as 2,7  miljoen blanke Afrikaanssprekendes. In geheel is Afrikaans steeds die derde grootste huistaal in die land, en verdien nie om gemarginaliseer te word nie.

Die lakmoestoets vir die sensus kom met die verslag van die ouditeur-generaal wat later verwag word. Met die sensus tien jaar gelede is omtrent al wat amptenaar is wat met die sensus gemoeid was, ‘n rang of selfs meer bevorder, en “prestasiebonusse” is ruim uitgedeel – maar die sensus het hierna ‘n druipsyfer by die OG gekry. Dit is in belang van die land dat dit dié keer beter gaan.

Die beste sensusgegewens ter wêreld beteken min as die regering ondoeltreffend daarop reageer, of bloot politieke munt uit segmente daarvan wil slaan. En as die regering hoofsaaklik die hoofverslag gaan gebruik, gaan ras as norm nog hard praat, en die skoonste taal sukkel om deel van die agenda te bly.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

frikkie ·

Die hele sensus opname was n klug en ek sal dit kan bewys.

Theresa Papenfus ·

‘n Ligpuntjie uit die sensus (as mens dit kan glo): Afrikaans groei steeds.

goggarob ·

In enige land met ‘n heterogene bevolking al daar altyd skeefgetrekte syfers uitkom. Die opnemers is polities ingestel en het eie persepsies en agendas wat nie noodwendig die werklikheid weergee nie. ‘n Groot gros van die mense by wie opnames gedoen word is insgelyks mense met vooroordele, bepaalde politieke sieninge en onverantwoordelike moedswilligheid….. iets soos om te se ons sal die proses verongeluk want dis weer net dit of dat wat “hulle” wil bewys. Wel, nou sit ons ongelukkig met die resultaat van diesulke onverantwoordelikheid. Ek weet bv van tientalle persoonlike kennisse wat daarmee spog dat hulle hulself as swart/gekleurd aangegee het en ander weer wat hulle inkomste as miljoene rande per jaar aangedui het…. Van hulle het gese die gegewens sal so verwronge wees dat die staat niks daarmee sal kan uitrig nie…. Ne.! En nou haal daardie onverantwoordelikheid hulle(ons) in… ‘n Geval van “wat jy saai sal jy maai….” En glo my hierdie enkele voorbeelde was verseker nie geisoleerde gevalle nie… Dieselfde kommentaar het ek van die Kaap tot in Limpopo gehoor… Klaarbluklik deur een of ander faksie georkestreer… Hierteenoor is ek seker en het ek ook antwoorde tot die effek van bepaalde swart landsburgers gekry, dat hulle hulle inkomste geweier het of dit op ‘n hongerloon gestel het want, reken hulle, dit sal die regering dan dwing om meer te doen mbt werkskepping en maatskaplike toelaes…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.