Nuuskommentaar: Gaan Wes-Kaapse wingerdgriep Suid-Afrika longontsteking besorg?

Betogers in De Doorns Foto deur die gebruiker @justkoyana (Xolani Koyana) op Twitter gelaai

Die ou gesegde lui: “As Amerika nies, kry die res van die wêreld verkoue.” Dit is goed gedemonstreer toe Wall Street in duie gestort het en die probleme soos kantelende domino’s deur die wêreld getuimel het.

Nou het die Boland spreekwoordelike wingerdgriep, en die vraag is of die res van die land met longontsteking opgesaal gaan sit.

Die les van Wall Street was dat dit wêreldwyd kon uitkring omdat die onderliggende redes daar reeds aanwesig was. Griekeland se ekonomie was aan die inplof, en omdat dié land deel van die Eurosone was, is bykans die ganse kontinent geraak, met verskeie ander veral Suid-Europese ekonomieë wat met soortgelyke probleme as Griekeland gesit het wat ook ingesuig is.

In Suid-Afrika is volop faktore wat ‘n landswye uitbreiding van die Wes-Kaapse geweld in die hand kan werk. Waarskynlik heel bo-aan is die inkomstegaping wat volgens die Wêreldbank in Suid-Afrika die grootste ter wêreld is. Sosioloë beskou dit as van die vernaamste dryfvere vir gewelddadige ontevredenheid. Marikana was amper ‘n teksboekvoorbeeld hiervan.

Vanoggend berig Die Burger dat Suid-Afrika slegs die 69ste plek uit 123 lande op waarskynlik die mees gesaghebbende vryheidsindekse ooit kon behaal. Volgens die indeks vaar Suid-Afrika betreklik goed wat persoonlike vryheid betref, en stof onder meer Uganda uit, maar by ekonomiese vryheid is Uganda meer vry as Suid-Afrika. ‘n Belegger sal dus eerder in Suid-Afrika wil woon, maar in Uganda wil belê.

Maroela het die afgelope jaar gereeld berigte en besprekings gedra oor hoe Suid-Afrika op die wêreld se vernaamste indekse agteruitboer, waaronder die korrupsiepersepsie-indeks, die persvryheidsindeks, die vredesindeks, die indeks vir mislukte state en die innovasie-indeks wat onder meer kwaliteit van onderrig meet. Aan die einde van 2012 het ‘n miserabele-indeks die lig gesien wat Suid-Afrika die twyfelagtige boonste plek, voor Griekeland en Spanje besorg het. Pas het die Duitse Jacdec die afwesigheid van ‘n strewe na uitmuntendheid beklemtoon deur die Suid-Afrikaanse Lugdiens die 52ste plek uit 60 op die indeks ir lugvaartveiligheid te besorg.

Dit verg nie veel navorsing om dit duidelik te kan stel dat die onderliggende faktore wat in die Wes-Kaap aanwesig is, ook in die res van die land aanwesig is, of juis aanwesig is nie. Die geweld tydens die jaarlikse “stakingseisoen” en die toenemende geweld tydens diensleweringsoproer spreek vanself.

Dit sou egter ook verkeerd wees om nié in gedagte te hou nie dat heelwat van die faktore in die Wes-Kaap sterk unieke eienskappe het. ‘n Groot deel hiervan is saakmakende persepsies. Die persepsie dat boere in die Wes-Kaap hul werkers uitbuit, is baie sterk onder die Wes-Kaapse bruin gemeenskap gevestig. Dit het onder meer duidelik uit ‘n rubriek enkele jare gelede deur Zelda Jongbloed geblyk. Dat die persepsies nie wyd in die wit gemeenskap gedeel word nie, het weer uit die reaksies op die rubriek geblyk.

Selfs navorsingsverslae lewer verskillende uitslae op. Human Rights Watch, wat hoofsaaklik ‘n selektiewe groep geraadpleeg het, het ‘n verslag oor gruwelikhede uitgebring. Dit staan lynreg teenoor ‘n ses maande ondersoek deur Agri-Wes-Kaap en die provinsie se departement van Landbou wat in daardie tydperk saam meer as tagtig klagtes ondersoek het, waarvan enkeles in die hof gaan draai het, en almal geblyk het vals te wees.

Stereotipering, wat ook vandag in ‘n rubriek van Ferdi Greyling aan die bod kom, is ‘n ongemaklike siekte in Suid-Afrika.

Die president maak hom self erg aan rassestereotipering skuldig wanneer hy swart en wit se inkomstepeile teenoor mekaar stel. Die regering gebruik dieselfde stereotipering om ras as norm te gebruik om ekonomiese ingryping in die ekonomie soos rasbegunstigde bevoordeling (affirmative action) eerder as regstellende optrede, en SEB te gebruik om die probleem aan te spreek. So dominant word die rasse-element dat ander faktore in die slag bly, soos om wit gestremdes van regstellende optrede te wil uitsluit. Deur op ras te hamer word reeds “reggesteldes” weer en weer bevoordeel, en reeds benadeeldes by herhaling weer benadeel. Die vereiste individuele toets is nêrens te sien nie.

Die president en ander regeringslui sê graag die land het politieke vryheid bekom, maar steeds nie ekonomiese vryheid nie. Dit klink soos die ego van Kwame Nkruma wat by die onafhanklikheid van Ghana gesê het: “Ontvang hiermee jul politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.”

Die Wes-Kaap het egter nog ‘n unieke faktor. Dit word nie deur die ANC beheer nie, en in baie opsigte stof die Wes-Kaap die ANC-beheerde provinsies uit. Dit is ‘n teer punt vir die ANC wat met die oog op 2014, 20 jaar na die 1994-verkiesing, gevoelig is oor hierdie vinger wat in die oog gedruk word. Om die Wes-Kaap vir die ANC te verower, moet die bruin kiesers van die DA vervreem word. Dit is geen maklike taak nie, weens onder meer faktore soos die Departement van Korrektiewe Dienste se beleid om by aanstellings en bevordering nasionale demografiese syfers te gebruik, wat bruin mense in die Wes-Kaap erg benadeel. Dit is juis nou in die proses van litigasie, waarby Solidariteit ‘n sentrale rol speel. Die impak wat die Jimmy Manyi-sage op bruin rubriekskrywers gehad het kon met ‘n stok aangevoel word.

Die persepsies rondom die posisie van plaaswerkers is egter ‘n Achilleshiel en word genadeloos uitgebuit.

En al word die onrus tot die Wes-Kaap beperk, gaan die res van die land die prys betaal. Die uitbrand van ‘n mediagroep se motor gaan beslis ‘n impak hê op die nuutste persvryheidsindeks wat binnekort die lig sien, en dit beïnvloed weer die beleggersvertroue-indeks, om een voorbeeld te noem.

Daar is net eenvoudig te veel foutlyne oor die Suid-Afrikaanse landskap om flirtasies met geweld aan te knoop. In heelwat dele van die land is die vergrote munisipale grense so getrek dat bo-oor etniese verdelingslyne loop, soos verskeie Oos-Vrystaatse munisipaliteite wat wydsbeen oor die “grens” tussen Suid-Sotho en Zoeloe staan. Die gemeenskap wat nié die burgemeester oplewer nie, is sensitief dat die ander groep “voorgetrek” kan word. Breek onluste in die een munisipale gebied uit, trek dit gereeld langs hierdie foutlyn na verskeie ander.

Die stokers van die onluste moet onthou – wie distels saai sal dorings maai.

Of soos ek dit vroeër gestel het: Wie De Doorns saai, sal de distels maai.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

J H Vorster ·

As Anc regering nie n beperking plaas op gesusideerde prostetiesie( kinder toelae vir n onbeperkte aantal
kinders per vrou) nie ,sal die talle maatskaplikke en sosiale probleme in RSA nooit opgelos word nie.

Willie Els ·

Daar is niks vir die boere om oor te onder handel. Die wat staak moet by die minister van arbeid toi toi.
Hy het die minimum loon bepaal nie die boere nie. As die geld te min is vir jou bedank en gaan kry werk wat meer betaal.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.