Nuuskommentaar: Geen e-tol op versoeningspad, maar prys is hoog

Dr. Pieter Mulder Foto: GCIS

Dr. Pieter Mulder, VF Plusleier en adjunk-minister van Landbou se parlementêre geskiedenisles maak steeds opslae.

In die jongste uitspraak oor die onderwerp het die rektor van die Vrystaatse Universiteit, prof. Jonathan Jansen, gesê dié lessie het Suid-Afrika groot skade berokken.

Die onderwerp is reeds voldoende snuif getrap dat dit duidelik is dat die meerderheid uitsprake wat Mulder die kop was, op foutiewe inligting gebaseer is, maar ook presies hoe verdeeld die samelewing is en dat daar min inskiklikheid is oor die onderwerp.

Of dié les Suid-Afrika skade berokken het is ‘n ope vraag, veral wat buitelandse aansien betref. Kort na die voorval, en trouens, kort na ‘n senior lid van die Kommandokorps in twee minute met omstrede stellings die Afrikaner se beeld erg verniel het, het 48 lede van die Europese parlement, verteenwoordigend van 19 lande en die ganse politieke spektrum, plaasmoorde in Suid-Afrika veroordeel.

As Jansen oor versoening praat, sit die meningsvormers gewoonlik regop. Jansen het immers die taai toffie van die Reitz 4-geval geneem en opgelos. Hieroor het die Nederlandse koerant, Trouw in ‘n omvattende artikel Jansen as oud-president Nelson Mandela se opvolger as ikon van versoening voorgestel.

Oor ander aspekte van Jansen se sosiale ingenieurswese is die jurie erg verdeeld – soos die weglating van God uit die UV se leuse waar koppe met verskeie Afrikaanse kultuurinstellings gestamp is, en die wyse waarop sy studentedekaan woorde teenoor Afriforum gewissel het. Die manier waarop hy gereeld Bram Fischer as Afrikanerheld aan gehore probeer verkwansel sloop waarskynlik meer brûe as wat gebou word.

In sy toespraak voor Graan Suid-Afrika het Jansen verder uitgebrei oor hoe hy die fisiologie van versoening beskou. Hy het onder meer gesê politici en hul kultuur moet geïgnoreer word, deur populêre politieke slagspreuke en liedere soos “skiet die Boer” te ignoreer.

Ignoreer is nie altyd ‘n goeie plan nie – as Korrektiewe Dienste se blatante diskriminasie teen bruin bewaarders in die Wes-Kaap geïgnoreer word, sal die proses gewoon voortgesit word. As Julius Malema “skiet die boer” aanhef en wit mense terselfdertyd misdadigers noem omdat hulle swart mense se grond sou gesteel het, kan die voortleef van ‘n leuen baie kwaad doen. Plasmoorde wat per capita bykans tien keer hoër is as die land se hemelhoë moordkoers, is ‘n waarborg dat so iets plofbaar sal bly.

Tydens die destydse presidentsraad se ondersoek na gemeenskapsverhoudige was dit opvallend hoeveel benaderings as oplossing voorgehou is. Dit het gewissel van die stimulering van horisontale nie-paternalistiese kommunikasie tot die aanspreek van knelpunte, tot die uitskakeling van sosio-ekonomiese dispariteit.

Dit bly ‘n ontsettende ramp dat die ondersoek voor voltooiing gestaak is, en dat die staat in weerwil van waarskuwings oor die grondliggende gebreke, ‘n juridies-verabsoluteringsproses aangedryf het. Kortom, dit behels die geloof dat ‘n grondwet mense kan versoen, eerder as om die produk van versoening te wees.

Die skerwe is daar vir almal om in te trap.

‘n Gelyke proses, die Waarheids- en Versoeningskommissie, is ook aangepak, ‘n proses wat ‘n onderwerp op sy eie is. Dié model word betreklik wyd wêreldwyd aangehang. Wat belangrik is, is dat versoening nie haalbaar blyk te wees as die waarheid verdoesel word nie. Die Bybel stel dit ook onomwonde dat die waarheid iemand vry maak. Persepsies hier te lande het al so uiteengedryf dat selfs ‘n objektiewe onderwerp soos die historiese verloop, so uiteenlopend is dat die veralgemening van historiese vertolking bykans onmoontlik is. So iets kan uiteraard nie bloot in die lug laat hang word nie, want dan is polarisasie permanent ingebed. En geen staatkundige model – van volkome unitêr tot afskeiding, kan werk as die polarisasie en wantroue dit onderlê nie. Die chaos in Sirië met sy baie minderhede en waarvan die foutlyne na buurlande oorloop, is ‘n goeie voorbeeld van waar gesindhede so in die war is dat ‘n staatkundige opsie wat die situasie werklik gaan ondervang, onmoontlik ver lyk.

Gesindhede is die mees belangrike saak, en versoening tree eers in as die gesindhede aan weerskante reg is. Dit plaas groot verantwoordelikhede op politieke en gemeenskapsleiers om selfs onpopulêr te wees wanneer die sloper van gesindhede in die bek geruk word. Wat dit betref, het die ANC liederlik verbrou – eers deur Malema met sy haatspraaklied te steun en die appèlproses nog in swang is, en deur Malema nie straf oor hy wit mense misdadigers noem nie.

Mulder het nou, en die Christen-Demokratiese Party  tevore, die waarheid oor historiese grondbesetting in die regte gesindheid probeer stel, en het min of meer dieselfde verguising te beurt geval. Want as die leiers wat dit moet doen die hande was, sal die groep wat die teiken is van haatspraak, dit opeis. Om dit te ignoreer is sonde soek want dit rek die gaping op die kumulatiewe spanningshipotese na breekvlak, dit radikaliseer gemeenskappe aan weerskante van die spektrum.

Ware leiers bedryf nie volstruispolitiek nie. Hulle stel die waarheid fatsoenlik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae