Nuuskommentaar: Geld wat stom is … Woolies in die spervuur

Volgens die jongste Bloomberg-indeks het Woolworths se aandeelprys met meer as drie persent geval sedert die rasstorm oor sy aanstellingsbeleid losgebars het.

Letterlik derduisende mense laat weet op verskillende kuberplatforms dat Woolies die laaste van hulle en hul geld gesien het. Dit sal verbasend wees as Woolworths nie in die proses waar Solidariteit die stryd aangesê is, ‘n duik op die lyf loop nie.

Uit die kuberkommentaar kom daar egter ‘n ander element ook na vore: Die land is erg rasgepolariseerd. Daar is swart deelnemers wat ook meen Woolworths beledig eintlik swart mense deur mededinging van ander rassegroepe by verstek uit te skakel, en dat Woolies se beleid niks anders as rasse paternalisme is nie. Maar erg rassistiese taal word egter ook oor en weer gebruik.

Terwyl die storm die geleentheid aan ook ander groot maatskappye bied om behoorlik te besin oor wat wetlik en moreel regverdigbaar is, is die harde werklikheid dat die land en sy ekonomie nie dié soort skade aan sy beeld kan bekostig nie.

Gister is bekend gemaak dat Suid-Afrika twee plekke op die Wêreld-ekonomiese Forum se indeks vir mededingendheid teruggesak het. Om van die 50ste plek na die 52de plek terug te sak is miskien nie veel om ‘n wenkbrou oor te lig nie, maar in van die onderafdelings lyk sake werklik sleg. Die land beklee nou die 63de plek vir infrastruktuur, 69ste vir makro-ekonomiese omgewing en 132ste vir gesondheid en primêre onderwys. Wat arbeidsmarkdoeltreffendheid betref, lê Suid-Afrika in die 113de plek, maar wat fiskale markontwikkeling betref, is Suid-Afrika die 3de beste ter wêreld.

Suid-Afrika se 52ste plek plaas hom in ‘n swakker posisie as die sukkelende Suid-Europese ekonomieë van Portugal (49), Spanje (36) en Italië (42). Griekeland (96) is darem swakker as Suid-Afrika daaraan toe.

Die enigste belangrike indeks waarop Suid-Afrika nog nie vanjaar agteruit geboer het nie, is die innovasie-indeks. Op die indeks vir persvryheid, die korrupsiepersepsie-indeks, die wêreldvredesindeks en die piesangrepubliekindeks, of te wel die indeks vir mislukte state, het Suid-Afrika agteruitgeboer. Op hierdie indekse word Suid-Afrika deur verskeie Afrikalande geklop. Op die korrupsiepersepsie-indeks het Suid-Afrika met tien plekke teruggesak, terwyl die land op die piesangrepubliekindeks 115de kom, en die weens die land se geweldsmisdaad, die 127de op die vredesindeks beklee teenoor Sirië se 147ste plek.

Saam met die ernstige skade aan Suid-Afrika se beeld gely het rondom die Marikana-skietery en die NVG se besluit daarna om die 270 aangekeerde mynwerkers van moord op hul makkers aan te kla, gestook deur onbeskryflike swak beriggewing, sal net die regering en gekke glo die land as beleggingsbestemming het nié skade gely nie.

Die Suid-Afrikaanse Tesourie het al verskeie kere aangedui dat Suid-Afrika se arbeidswetgewing die land se mededingendheid baie benadeel. Die beeld word dikwels gebruik dat die wêreld nou ‘n neutedop is, of anglisisties gestel, ‘n globale dorpie. In die ideale wêreld maak dit sin dat vervaardiging en produksie op enige plek ter wêreld plaasvind waar dit die lonendste gedoen kan word, en dat dit dan onderling uitgeruil word met dienste en produkte wat elders weer meer lonend verrig kan word. In die praktyk word sake egter deur baie faktore skeefgetrek – slegs klein, nat kolletjies van Suid-Afrika se grondgebied kry reënval gelykstaande aan die wêreld se reënvalgemiddeld, maar Suid-Afrikaanse boere produseer kos, verskaf werk en voorsien huisvesting, al word hul produkte nie soos dié van baie van hul mededingers deur die staat gesubsidieer nie.

Maar tog word die kommersiële landbou al te dikwels deur die regering as die vyand behandel, en kos dit ‘n openbare veldtog deur AfriForum om die regering tot ander insigte oor landelike veiligheid en plaasaanvalle te dwing.

Hierteenoor word intensief gewerk om meer sake met China te doen, wie se beleggings- en uitvoerpraktyke omstrede en selfs bedenklik is, en volgens verskeie aansprake eerder werksgeleenthede in die land vernietig as skep.

Tesourie het ook gemaan dat munisipaliteite hul burgers se betaalvermoë oorskat het. Die gevolge hiervan op die ekonomie is voor die hand liggend.

As die land hom allerlei luukses van maatskaplike manipulasie wil veroorloof, moet die ekonomie eers op ‘n vlak gebring word waar dit voldoende werk skep, en om by daardie punt te kom is die beste kundigheid en mededingendheid op elke vlak broodnoodsaaklik.

Vir politieke “korrektheid” is daar min ruimte, en kwessies soos aanwas sal opnuut hard en duidelik aangespreek moet word.

Dit bied kwalik ‘n omgewing waar maatskappye boikotaksies kan bekostig en dit deur lomp openbare beeldpoetspogings vererger. In die privaatsektor sal Woolworths waarskynlik ervaar dat hy nie vriende het nie, net mededingers wat sal skep terwyl dit pap reën.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae