Nuuskommentaar: Gelyk en ongelyk tegelyk

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma se vergissing oor die aard van demokrasie maak steeds opslae op sosiale netwerke.

Uit die ANC se intelligentsia se geledere is in die verlede gesê, en as voorbeelde van demokratiese deug voorgehou, dat meerderheidsoorheersing net so verkeerd is as minderheidsoorheersing. Waarom nou die mistasting?

Dit is ‘n gevoelige saak dat Zuma nie werklik formele skoolonderrig deurloop het nie. Dit is egter ook so dat hy redelik geleer lees en skryf het, en daarin kon slaag om sonder werklik die hupstoot van tradisionele leierskap hom op te werk as die leier van die grootste politieke beweging in die land. In die proses het hy hooggeskooldes die loef afgesteek, juis in ‘n organisasies waar die akademiese opleiding van die vorige leiers nou met die ANC se eeufeesvieringe besing word.

‘n Foutiewe begrip oor wat “onafhanklikheid van die regbank,” die skeiding tussen party en regering, die trias politica, grondwetlike demokrasie en demokratiese oorsig beteken, is dus verstaanbaar hoewel nie heeltemal verskoonbaar nie.

Die volgende stelling van Zuma in die parlement is baie ontstellend: “Jy het meer regte, want jy is ‘n meerderheid, jy het minder regte, want jy is ‘n minderheid. Dit is hoe demokrasie werk.”

Dit is nog meer ontstellend dat dit nog minder is hoe ‘n grondwetlike demokrasie werk. Dit is selfs nog meer ontstellend dat Zuma in hierdie onkunde nie alleen staan nie. Met die onlangse groot Kliptown-beraad het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se onkunde ook erg uitgehang toe sy vra waarom die minderheid nie bloot by die meerderheid assimileer nie. Daar is ‘n kruiwavrag vol internasionale ooreenkomste en ander bepalings van die internasionale reg, en bepalings in Suid-Afrika se eie grondwet, wat veronderstel is om minderhede te beskerm teen wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van die meerderheid bekend staan.

Gewoonlik neem heterogene lande ‘n tipe federale of korporatiewe karakter aan juis om meerderheidsdominansie uit te skakel. Dit is ook al ruim op Maroela Media bespreek, onder meer hier. 

Maar selfs in ‘n homogene land word meerderheidsregering beperk. Trouens, daar is in lande soos Australië en die VSA debatte oor die wenslikheid al dan nie van grondwetlike demokrasie, omdat, soos dit gestel word, regters wat nie demokraties verkies is nie, die mag het om die meerderheidswil ongedaan te maak. Dit impliseer dat die meerderheid noodwendig die beste sal weet.

Ook hier te lande het Zuma en ander ANC-ministers soortgelyke frustrasies uitgespreek. Dié kwessie behoort egter nie eens oop vir debat te wees nie selfs al sou dit meriete hê, aangesien die Suid-Afrikaanse grondwet die produk van ‘n vredesooreenkoms en onderhandelde skikking is. Die FW de Klerkstigting het egter ook reeds swaarde met die ANC gekruis na ANC-woordvoerders die geldigheid van die skikking bevraagteken het, of gesuggereer het dat dele daarvan uitgefaseer moet word.

Maar selfs al was daar nie sprake van minderheidsregte nie, sou Zuma se standpunt ongeldig wees. Die grondwet se handves van menseregte se eerste bepaling is gelykheid, soos om as gelykes voor die reg te staan, en om gelyke regte te geniet. Die grondwet het nie ‘n bepaling wat Zuma of enigeen magtig om daardie reg op te hef nie.

Zuma het wel sy opmerkings in die konteks van Suid-Afrika se problematiese arbeidswetgewing gemaak. Volgens die handves van menseregte se bepaling oor arbeidsregte mag daar oënskynlik ‘n “ongelykheid” in die behandeling van vakbonde intree, maar onderhewig aan ‘n kwalifikasie wat bepaal dat dié beperkings versoenbaar moet wees met die beginsels van gelykheid, menswaardigheid en vryheid.

Dit is so dat AMCU en die NUM in ‘n stryd gewikkel is om as “verteenwoordigende vakbond” met die voordele wat dit inhou, verklaar te word. Juis hierom is die posisie plofbaar terwyl die verifikasieproses sloer, en die steun boonop erg vloeibaar is. Om eng wetties te raak in ‘n omgewing waar die arbeidsreg elemente van die gemenereg oorhou, en die algemene grondwetlike en administratiefregtelike beginsels van natuurlike geregtigheid voorrang bo die arbeidsreg het, is juridiese akrobasie om politieke agendas te dien nie wys nie.

Die kort en die lank is, is dat die NUM die ruggraat van Cosatu vorm, en dat Cosatu ‘n alliansievennoot van die ANC is. Die periskope sal dus ver uitsteek om te probeer kyk waar die NUM bo AMNCU bevoordeel word, en daar is nou te ene male ook so iets soos dom en gevaarlike politiek. Die staatkunde en arbeidsverhoudinge speel immers op veel meer terreine as die juridiese af, en om die juridiese te verabsoluteer is soos om ‘n wet te maak wat mense van verskillende bevolkingsgroepe verplig om nie vir mekaar kwaad te wees nie. Dit word gesê teen die agtergrond dat AMCU geen engeltjies is nie, en erg moeilike kalante kan wees as hulle die kort lootjies trek.

Sosioloë waarsku egter ook dat de-institusionalisering aan die plaasvind is – m.a.w. al meer werkers het nie meer ooghare vir enige van  die twee vakbonde nie, en maak nou van ander metodes gebruik om kollektief te beding. Zuma en die regering sal die land geen guns bewys nie deur dié faktor buite rekening te laat bloot omdat dié groep dalk nog ‘n “minderheid” is.

Dat Zuma in die 21ste eeu oor hierdie begrippe struikel is baie sleg vir demokrasie en die land se internasionale aansien.

In die internasionale politiek word die stelling gereeld gemaak dat lande gelyk en ongelyk is tegelyk. Staatkundig is lande gelyk, maar in die praktyk is die VSA en Swaziland nie gelykes nie.

Dieselfde geld wat individue betref. Die gelykheidsbeginsel word formeel gedwarsboom, soos deur die ANC se formele beleid van kaderontpolooiing. Dit sal waarskynlik net deur toetsing en ‘n bevinding daarteen in die grondwethof laat vaar word, ‘n bevinding wat die hof waarskynlik sal maak omdat die grondwet verskeie bepalings bevat dat die land doeltreffend regeer moet word.

Op die informele skaal kan daar ook nie werklik sprake wees tussen ‘n ryk en arm persoon wat voor die hof gedaag word nie. Die ryk persoon span ‘n gerekende advokaat in die arm man waarskynlik nie. Dié probleem verdiep namate die inkomstegaping van ‘n land vergroot – iets wat nou na amper ‘n dekade wat Suid-Afrika met waarskynlik die grootste welvaartsgaping ter wêreld sit akuut waargeneem en erken word.

Omdat die individu, veral die individu van ‘n minderheid, dit moeilik vind om gelyk beregtig en behandel te word, vorm die burgerlike instellings ‘n uiters belangrike rol. Minderhede in Suid-Afrika, of hulle dit wil weet of nie, se posisie sou baie swakker gewees het as dit nie vir die Solidariteitbeweging en AfriForum was nie. Die huidige Woolworths-veldtog, en nou die veldtog oor die Bloeddiens, is voorbeelde van kollektiewe saamspan om onregte te probeer voorkom. ‘n Gebrekkige demokrasie waarborg immers nie dat die grondwetlike meganismes behoorlik funksioneer nie. ‘n Burgerlike instelling wat volgens die grondwetlike voorskrifte tot stand gekom het, moes hom immers nou tot die Openbare Beskermer wend om ‘n ander grondwetlike liggaam te gaan verkla, naamlik die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe.

‘n Ongebalanseerde waardebepaling oor grondwetlike regte werk ook ongelykheid in die hand. Hoewel die Handves van Menseregte gelykheid eerste stel, gevolg deur menswaardigheid, word vryheid van uitdrukking in veral die liberale denke tot effektief die hoogste reg verhef (juis omdat dit ‘n belangrike rat in funksionele demokrasie is). Met die Julius Malema-haatspraakverhoor is egter gesien hoe mense en groepe uit die liberale dampkring Malema se meningsvryheid hoër geag het as die slagoffers se reg op waardigheid om onder meer nie die slagoffers van haatspraak te wees nie. Godsdiensgroepe loop ook gereeld onder hierdie “vryheid van uitdrukking” deur, soos die derderangse filmpie wat nou veral fundamentalistiese Moslems in oproer het.

Om mense, ook minderhede, goed te behandel het moeisaam oor baie eeue ontwikkel, maar kon net so maklik nooit ontwikkel het nie as kulture wat nié die inslag gehad het nie dominant was nie. Onlangs is die vertaling van ‘n antieke inskripsie wat in 2008 in die ruïnes van ‘n stad suidwes van Jerusalem gevind is, en klaarblyklik sowat tien eeue voor Christus geskryf is, gepubliseer. ‘n Deel daarvan lees: “Gee regte aan slawe en weduwees! Gee regte aan die wese en buitelanders! Beskerm die regte van die armes en beskerm die regte van minderjariges!”

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan is ‘n Mayateater ontdek wat skynbaar spesiaal ingerig is waar lede van minderhede verneder, gemartel en uiteindelik doodgemaak is om daardie minderhede op hul plek te hou.

Word na die internasionale reg gekyk, is dit baie duidelik dat dit ‘n voortsetting is van die Jerussalem-voorbeeld.

Word na gevallestudies gekyk, is daar egter talle voorbeelde waar minderhede bykans identies met die Mayavoorbeeld hanteer word. Van die voorbeelde wat op die UNPO se webwerf aan die groot klok gehang word klink of dit uit die duim gesuig moet word – massateregstellings van lede van die Wes-Balochistan-minderheid in Iran, waaronder kinders na skynverhore, die oes van organe van Turkmene in China … en die lysie gaan aan en aan. (lees dit gerus hier)

Die feit is egter dat die onderdrukking of selfs mishandeling van minderhede voor die deur van bekende muishondlande gelê word.

En dit is seker nie hoe Suid-Afrika beskou wil word nie. Of hoe, president?

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae