Nuuskommentaar: Gemeenskappe haal hande uit die moue

Die gemeenskap van Buffelsdrift noord van Pretoria staan saam met die AfriForumtak om wildstropery hok te slaan.

Die regering moet sorg… Ja, maar in ‘n burgerlike samelewing het die individu en gemeenskap ook ‘n rol. Gemeenskapsbetrokkenheid was nog nooit ‘n ondeug nie.

Gister het Maroela Media berig oor verskeie gevalle waar gemeenskappe self die moue opgerol het om belangrike sake aan te spreek. Onder hulle tel twee mooi verhale van burgerlike betrokkenheid en een liederlike.

Die twee mooi verhale handel oor die boeregemeenskap by Modimole wat vlae veldbrande wat deur beweerde brandstigting ontstaan het deur flink saamspan gou onder beheer gekry het en skade beperk het. Die kan hier gelees word.

Die tweede handel oor die gemeenskap van Buffelsdrift noord van Pretoria wat saam met die AfriForumtak saamspan om wildstropery hok te slaan. Dit kan hier gelees word.

Die derde handel oor ‘n ou moeilikheidmaker wat deur die gemeenskap doodgemaak is na hy sy eie ma se huis afgebrand het. Lees dit hier.

‘n Grondwetlike demokrasie begin en eindig nie by ‘n staat wat ‘n grondwet het en gereeld verkiesings hou nie. Om ‘n werklike regstaat te wees kan dit nie deur die grondwet en demokrasie ‘n diktatuur van die meerderheid wees nie, want dit behels ook die toepassing van individuele en minderheidsregte, en die afwesigheid van behoorlike burgerlike strukture verlam die doeltreffende funksionering van demokrasie. Persvryheid word as die vierde, weliswaar nie-amptelike been van die demokrasie beskou.

Hoewel die burgerlike strukture ‘n belangrike rol speel om magsvergrype aan te spreek, is die doel nie uitsluitlik om in te tree waar die owerheid sy burgers, of bepaalde minderhede, faal nie. Maar in hoe ‘n mate kan ‘n gemeenskap hul plaaslike polisie verkwalik as die GPF swak of glad nie ondersteun word nie?

Daar is twee kante van die munt. Onlangs het Vrystaat Landbou gekla omdat die Landelike Beveiligingsplan met groot fanfare in Bethlehem aangekondig is, maar meer as ‘n jaar en verskeie plaasmoorde later is daar nog geen behoorlike implementering nie. Dit moet voorts in gedagte gehou word dat Vrystaat Landbou reeds die staat hof toe gesleep het om sy plig oor die beveiliging van sy burgers na te kom.

Dit het ook aan die lig gekom dat die Erfenisstigting ‘n deel van die fondse wat bewillig is om NALN op dreef te kry, nie meer gaan aanwend nie omdat die Vrystaatse provinsiale regering struikelblokke in die pas plaas.

Dit is belangrik dat burgerlike instellings vanuit die staanspoor die staat met die wetlike meganismes tot verantwoording hou, wat ook veel doeltreffender werk as mediavryheid vry van politieke korrektheid behoorlik dié aksies ondersteun, wat nie noodwendig onkrities hoef te wees nie. Op die oomblik rugsteun AfriForum die lot van Zimbabwiese boere wie se grond deur die Zimbabwiese regering gesteel is in ‘n hofsaak in die appèlhof, deels om te keer dat die probleem na Suid-Afrika oorspoel.

As die owerheid sy burgers of minderhede faal, is die uiteinde dikwels geweld. Diensleweringsbetogings het na berig word die afgelope drie jaar skerp toegeneem, en pas is berig dat die 67-jarige mev. Isabel Hugo kritiek beseer is toe sy en haar dogter onderweg dorp toe deur ‘n skare by Marquard omsingel en sy met ‘n klip teen die kop getref is. Dit is nie aanvaarbare burgerlike optrede nie.

Die grens tussen aanvaarbare optrede en onaanvaarbaar is nie altyd duidelik nie, veral omdat die regsopsies duur kan wees en ‘n gemeenskap nie noodwendig oor die fondse beskik nie. Wat staan ‘n arm gemeenskap te doen as taxi’s en ander jaers ‘n gevaar vir hul kinders inhou, en daar selfs ongevalle is, maar die owerheid hou hom doof vir versoeke vir spoedwalle?

Presies hoe gefrustreerd moes ‘n afgetrede professor wat nog nooit ‘n vlieg skade aangedoen het nie wees om sy vullis in die Bloemfonteinse glaspaleis te gaan omkeer nie?

Nie almal het die fondse tot hul beskikking, soos Outa, om ‘n kwessie soos e-tol in die howe aan te spreek nie.

Verlede jaar het ‘n burgerlike instansie volgens grondwetlike bepalings onder meer uit die Nasionale Belastingbetalersunie voortgespruit wat deur bestaande kundigheid munisipaliteite wou help om hul sake reg te ruk. Van dié goeie voornemens het so ver bekend, soos soortgelyke aksies, dadels gekom, en het munisipaliteite weer soos vlieë die OG-eksamen gedruip.

Geweld is nie ‘n aanvaarbare opsie nie, maar as geweld, soos by Marikana uitbreek, hoe reageer die staat en die burgerlike samelewing daarop?

Ook hierdie vraag is nie altyd duidelik nie.

Onlangs is berig dat Nigerië met die Boko Haram gaan onderhandel, na baie mense reeds in wrede terreuraanvalle dood is.

Nou blyk dit dat Colombia na 50 jaar met die FARC begin onderhandel het. Die FARC het van ‘n Marxistiese boere-organisasie so met die dwelmbedryf verweef geraak dat dit nie werklik van die dwelmkartel te onderskei is nie.

Of hierdie doktrine groepe wêreldwyd, wat verontreg voel, gaan inspireer om die geweldsopsie te gebruik om ‘n oor te kry wat luister, moet nog gesien word. Wêreldwyd is letterlik honderde minderhede wat vreedsame metodes gebruik, maar as ‘n ongerieflike waarheid deur die wêreld geïgnoreer word.

Diegene wat geïgnoreer word sien hoe die Koerdiese PPK, ‘n internasionaal verklaarde terreurorganisasie, wêreldwyd nuusdekking kry vir hul terreurdade.

Die Tamiltiere het die Tamils se lot in Sri Lanka in die oë van die wêreld gehou.

Min mense weet nie wat Hamas is nie.

Maar van ‘n baie langer lys van groepe wat vreedsame metodes gebruik weet die wêreld niks.

Wat steeds nie beteken geweld is nodig om die onreg aan te spreek nie. Gaan na die Tibettane en word wys …

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae