Nuuskommentaar: Godsdiens en politiek

Die onmin oor kerkleiers wat kort voor die ANC se nasionale kongres in ‘n brief die party en leiers vermaan het, dui daarop dat ‘n rou wond oopgesteek is.

Dr. Leopold Scholtz bied in sy rubriek in Die Burger, Kerke móét die stem dik maak, waardevolle insigte in hierdie eeue-oue kwessie. Aan die een kant word Jesus se woorde, Gee aan die keiser wat die keiser toekom, misbruik om die regering in wese buite perke vir die kerk te stel. Aan die ander kant is daar ‘n lang lys profete, en uiteindelik ook Johannes die Doper, wat Goddelike vermanings gebring het. Profete is dikwels hieroor vervolg. In ander gevalle het konings dikwels profete geraadpleeg.

Terwyl die staat van die middele voorsien moet word om die land te bestuur en ontwikkel, en om armes se lot te verbeter, gee dit die owerheid nie die gesag om die inkomstes te misbruik nie. Kerke bestaan uit Christene, en Christene het bepaalde Bybelse opdragte. ‘n Christen is immers nie net in die kerk ‘n Christen nie, hy is ook in sy gesin, by sy werk, in sy huwelik en in sy politieke party ‘n Christen. Of veronderstel om te wees.

Ons ken hulle almal – daardie persoon wat in die kerkraad eintlik sy stem moduleer om te demonstreer hoe “heilig” hy is, maar net na die erediens sy vrou en kinders ten aanhore van geskokte kerkgangers met gekruide taal invlieg – ‘n soort geestelike skisofrenie.

‘n Soortgelyke skisofrenie word aangetref waar mense lidmate van kerke is wat sekere kwessies soos dobbel en aborsie ten sterkste as onbybels afkeur, maar aan politieke partye behoort wat dit juis voorstaan. Die vraag is nie of die kerk sy profetiese stem, ook waar nodig in die politiek, moet laat hoor nie, maar of die uitsprake en vermanings geregverdig is, of dit te spaarsamig gebruik.

Daar is een aspek waarvoor Christene, kerke en Christen-demokratiese partye op die hoede moet wees. Die Christen is ‘n instrument van God, nie God ‘n instrument van die mens en sy politieke oogmerke nie. Na afloop van die onlangse Nederlandse algemene verkiesing waartydens die eens groot en regerende Christen-Demokratiese Appèl erg agteruit geboer het, is die vraag wyd gevra of die party nie maar die “Christen” uit sy naam moet weglaat nie. In die verkiesing is die Evangelies-gedrewe leiers, soos Marja van Bijsterveldt, immers op die agtergrond gedwing en het die party die verkiesing as sekulêre party aangedurf.

Die stembusslagting in Nederland het die Vlaamse CD & V, ‘n susterparty, regop laat sit, en terwyl daar ook oor ‘n nuwe aanslag besin is, sommer gou verklaar dat die weglaat van die “C” uit die naam nie sal gebeur nie. Die brief van kerkleiers, waaronder die SARK, aan die ANC-leierskap wat sekretaris-generaal Gwede Mantashe se woede ontlok het, is nie die eerste optrede waar daar vanuit kerklike geledere vermaan is nie. In die aanloop tot die vorige verkiesing is pres. Jacob Zuma en van sy mees lojale ondersteuners dikwels vanuit kerklike geledere aangespreek oor uitlatings soos dat Zuma met Jesus vergelyk kan word. Die vermanings is in die wind geslaan en daar is met die praktyke volgehou, hoofsaaklik omdat daar ook vanuit ander kerke stilswye was, en nog ander openlik ‘n knieval voor Zuma en die ANC en die gedoen het. Zuma het onder meer ere-pastoor geword, en in ‘n ander gehelp poligame huwelike bevestig.

Trouens, die ANC het selfs ‘n spreekbuis met kerke gestig, wat in hoofsaak bestaan uit kerke wat maar te gewillig is om deel van ‘n ANC-spreekbuis te wees. Mantashe se ontsteltenis spruit daaruit dat die kerkleiers wat nou vermaan het, ook kerkleiers insluit wat voorheen opgetree het asof die ANC hulle netjies in die sakkie het. Soos verwag kan word, het daar ‘n teenreaksie op die kerkleiers se skrywe gekom, deurdat die pro-ANC-kerke inderhaas ‘n biduur gereël het om vir die ANC-kongres te bid. In ‘n siek wending het die SAUK in sy nuus breëbors berig dat van sy hoofamptenare ook die biduur bygewoon het.
Wie tree as instrumente van die Here op, en wie span die Here as instrument in?

Dit is miskien nog nie die klippe wat uitroep oor die ANC en die land wat sy morele kompas kwyt is nie, maar ‘n groot segment van die media doen dit wel. In die aanloop tot die kongres het koerante dokumente wat aan hulle gelek is, gepubliseer wat op ‘n erg gehawende morele kompas dui. Een van die brandende kwessies wat gereeld onder die loep geneem word is korrupsie, en ‘n rubriek van Willem Jordaan, Geld wat stom is, skep politici wat krom is, skets die probleem samevattend goed.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae