Nuuskommentaar: “Goeie dag SA, hoe gaan dit vandag?”

Jacob Zuma. Foto: GCIS

Die ou verhaaltjie lui dat as ‘n mens die ou korrelkop sou vra hoe dit gaan, hy antwoord: “Dit hang af.” Om te weet hoe dit gaan moet hy eers die bankbestuurder bel, die weerburo raadpleeg en die dominee opsoek. Hoe gaan dit met die voorsiening van munisipale dienslewering in Suid-Afrika?

Volgens pres. Jacob Zuma kan die ANC trots wees wat dié party die afgelope 17 jaar as regering vermag het.

  • Die getal huishoudings wat in formele huise woon, het van 5,7miljoen tot 10,4miljoen gestyg.
  • Die getal huishoudings met krag het in dieselfde tydperk met 120% gestyg.
  • Die getal huishoudings met toegang tot water het met 70% gestyg.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge sluit hierby aan en sê dat ‘n mite posgevat het dat dienslewering in Suid-Afrika ‘n mislukking is. Maar hoekom dan die gewelddadige proteste oor dienslewering?

Daar is klaarblyklik ‘n groot verskil tussen die blote aanlê van dienste, en die bedryf en instandhouding daarvan. Die instandhouding verg ‘n bepaalde betaalvermoë van die inwoners, wat weer vereis dat mense behoorlike werk moet hê. Dit behels voorts dat die instandhoudingsproses kundige bestuur moet word.

Tesourie het reeds gemaan dat munisipaliteite die betaalvermoë van die publiek oorskat. Tariewe word bloot maar opgesit en opgesit, terwyl die inkomste van die mense wat daarvoor moet betaal nie ooreenkomstig styg nie, of selfs weens dalende rentekoerse afneem. Munisipale skuld aan Eskom beloop astronomiese bedrae. Inwoners skuld miljarde rande aan hul munisipaliteite, maar munisipaliteite het ook ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes van R11 miljard aangegaan. Lees Maroela se bespreking hiervan hier.

Die ouditeur-generaal, Terence Nombembe sê munisipale uitgawes moet tred hou met inwoners se persepsies oor dienslewering. Hy het by ‘n konferensie van die Vereniging van Staatsamptenare gesê die kwessie van mense se verwagtinge word toenemend belangrik. Nombembe sê plaaslike regerings moet wyses kry om saam te werk om skoon regering te verseker. In ‘n onlangse verslag het Nombembe bevind dat slegs 13 van die 343 munisipaliteite in die land in die 2011/2012-geldjaar skoon oudits gekry het, aldus RSG.

Maar is dit werklik net persepsies dat sake haper? As ‘n Johannesburger ‘n munisipale  rekening van meer as ‘n R100 000 kry en die probleem word nie opgelos nie, hoeveel persepsie, en hoeveel werklikheid is daar dat dinge onvars is?

Dat sake by munisipaliteite haper het ook duidelik na vore gekom in AfriForum se konferensie oor plaaslike regering. AfriForum het so ver gegaan as om aan te kondig dat die organisasie aan sy landswye netwerk van takke pro forma beëdigde verklarings en riglyne gestuur het wat gemeenskappe kan gebruik om kriminele klagtes teen munisipale bestuurders te lê indien hulle finansiële bestuurswetgewing oortree.

Die Burger se hoofartikel dra ook ‘n ander persepsie uit, naamlik dat Zuma sy trots in sy sak moet steek en ondubbelsinnig moet verklaar dat politieke aanstellings in poste waar tegnokrate nodig is, nie bekostig kan word nie. ‘n Hele rits probleme word gelys, en kan hier gelees word.

Die boodskap is duidelik dat Zuma, voor hy verwagtinge aanblaas dat dinge voor die wind gaan, tog eers vasstel wat werklik aangaan.

Dat dit veral nou, waar Zuma se kop met die komende leierskapsberaad van die ANC op die blok is, maar moeilik gaan wees om oop kaarte met die publiek te speel, is ongelukkig nou maar ten ene male so.

Volstruispolitiek terwyl die land brand is ook  nie ‘n oplossing nie.

Om alles vir almal te probeer wees, begin nou ook boemerang soos die skapies begin terugkeer kraal toe om hulle by die krip te kom dik vreet. Hoeveel ligjare verwyder is die land nou van die situasie waar Malema, wat nou flink vuur stook, nie gesê het hy sal doodmaak vir Zuma nie? Net so ver verwyder as Zuma se aanwysing van Malema as ‘n toekomstige kroonprins.

Die ou, “maklike” uitweg om die skuld voor die deur van apartheid te plaas, wil ook nie meer so lekker werk nie. Al meer kom die antwoord terug: “Dinge was beter onder apartheid,” of “die onderwys was beter onder apartheid.”

In ‘n demokrasie kry die kiesers die regering wat hulle verdien.

Juis daarom is dit soveel belangriker dat die rol van burgerlike instellings versterk word om dit wat die grondwet bied, soos die howe, te kan benut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

herrie ·

Hallo Kopkrap. Die vrugte van die Heilige Gees soos gelys kom uit die Bybel self. Ook die verbod om ander te oordeel. Verskeie vorige fundamentalistiese beweginngs het al gesneuwel weens hul onverdraagsaamheid, maar onverdraagsaamheid is opmerklik oor die ganse debat in kerkverbande. Hierdie faktore het onder meer daartoe bygedra dat die NG Kerk sy diversiteitsforum moes sluit.
Herman Toerien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.