Nuuskommentaar: Goudstandaard op die agenda en impak op SA

Met Suid-Afrika wat steeds ‘n groot deel van die wêreld se goudproduksie lewer, al het dit tot ongeveer tien persent gedaal, en na berig word oor 50 persent van die wêreld se goudreserwes beskik, is dit te verstane dat die ekonome die ore sal spits dat die VSA se moontlike hertoetrede tot die goudstandaard op die agenda is.

Hertoetrede tot die goudstandaard as manier om die VSA uit sy ekonomiese krisis te stuur is al ‘n ruk groot nuus in die VSA, en het nou sy weg gevind na die agenda van die Republikeinse Party se groot konvensie wat in Tampa, Florida plaasvind.

Die kwessie is basies deur die verslane presidentskandidaat, Ron Paul, op die agenda afgedwing. Paul is ‘n gunsteling van die Tea Party, maar ‘n peiling enkele maande gelede het getoon dat hy toe ook die enigste Republikeinse kandidaat was wat ‘n kans sou staan om Barack Obama in die presidentsverkiesing te klop.

En Paul, met baie onkonvensionele idees oor die ekonomie, is ‘n groot voorstander van die goudstandaard.

Op die oog af lyk dit of die bespreking van die goudstandaard meer met verkiesingstrategie te make het as werklike oortuiging dat dit die beste sal wees.

Die internet het begin wemel van bewerings dat die Republikeine se vise-presidentskanditaat, Paul Ryan, ook ‘n groot voorstander van die goudstandaard is. Ryan is wel as ekonomiese denker bekend, gerugsteun deur die feit dat hy voorsitter van die Amerikaanse kongres se begrotingskomitee is, maar die opvatting dat hy ‘n voorstander van die terugkeer na die goudstandaard is, is waarskynlik misplaas. Wat wel waar is, is dat hy ‘n voorstander van iets naby verwant is, naamlik dat die dollar aan ‘n mandjie van kommoditeite veranker moet wees. Ryan se mentor, Jack Kemp, was wel ‘n voorstander van die goudstandaard.

Te veel kopbrekery oor hoe die Amerikaanse verwikkelinge die goudprys en dus Suid-Afrika se welvaart kan raak, is voortydig.

Wat nou op die Republikeine se agenda is, is dat ‘n kommissie aangestel word om na die wenslikheid van hertoetrede tot die goudstandaard te kyk, en gekoppel hiermee, om die Federale Reserwebank te laat oudit. Die Fed word wyd geblameer vir die finansiële tameletjie waarin die VSA hom bevind.

Sou so ‘n kommissie van ondersoek uiteindelik realiseer, gaan hy hom in gesaghebbende standpunte van beide uiterstes en talle tussenin vasloop.

Onder die felste kritici van die idee van terugkeer na die goudstandaard, is die Nobelpryswenner vir ekonomie, Paul Krugman. Hy meen so ‘n “amper komiese” idee sal die reeds kreupel ekonomie verwoes.

Ander wys daarop dat die Amerikaanse groeikoers tussen 1790 en 1973 gemiddeld 3,97 persent was, en na die afstap daarna gemiddeld 2,55 persent was. Hieruit word afgelei dat die VSA se BNP nou 66 % groter sou wees as nooit van die goudstandaard afgestap is nie. Krugman reageer hierop deur te meld dat die groot depressie ook tydens die goudstandaard gewoed het.

Die voorstanders van die goudstandaard beskryf die VSA se huidige ekonomiese bestel met ‘n “casino-ekonomie” en haal die groot ekonoom, John Maynard Keynes aan wat onder meer wisselvallige rentekoerse se impak op die verhouding tussen leners en uitleners met ‘n dobbelekonomie vergelyk het.

Hoewel die waarde van die intensiewe debat wat nou gevoer word oor die goudstandaard meer politieke as onmiddellike ekonomiese realiteite inhou, sal dit tog interessant wees om te sien wat kenners meen die regte goudprys vir hertoetrede tot die goudstandaard moet wees. Dit sal immers ‘n groot impak op Suid-Afrika hê.

‘n Te lae prys gaan boemerang. Toe Brittanje na die tweede Wêreldoorlog tot die goudstandaard teruggekeer het, is die goudprys te laag gestel, en het dit ‘n groot deflasionistiese impak op die ekonomie gehad.

Toe die amptelike goudprys in 1973 afgeskaf is, was die prys daarvan $35 per fyn ons. Tot in daardie stadium moes die Fed goudreserwes teen daardie prys hou as waarborg vir geld in omloop.

Sou die goudprys nou weer na die krag, of gebrek aan krag, van die  Amerikaanse ekonomie herlei word, sou die goudprys se waarde nou op $225 staan. Ekonome besef dit is onrealisties, en sommiges beraam dat goud se “realistiese, bestendige” waarde op sowat $800 per fyn ons bereken moet word, en ander dat dit teen $1 600 bereken moet word. Met die skryf hiervan het die goudprys op $1 664 gestaan. Die afgelope jaar het die goudprys egter tussen sowat $1 200 en $1 900 gewissel.

Hoewel die wêreld se ekonomieë van die goudstandaard afgestap het, het banke en lande steeds oor die algemeen goud as waardeverskansers in reserwe. Die monetêre waarde van goud onderskei dit steeds van platinum, wat platinum meer aan prysdruk weens oorproduksie blootstel.

Teen die middel van Julie vanjaar het die Oostenrykse Erste Bank die mening uitgespreek dat die goudprys volgende jaar tot $2 000 per fyn ons styg, en aan die einde van die jaar daarna tot $2 300. Toe is die moontlike hertoetrede van die VSA tot die goudstanbdaard glad nie verreken nie. Die bank verskaf ‘n wye reeks redes vir die voorsiene styging in die goudprys, waaronder die Federale Reserwebank se beleid van zero-rente tot ten minste 2014. Baie lande probeer ook hul “verslawing” aan die dollar afskud, aldus ‘n ontleder vir die bank, Ronald Stöferle.

Hy wys voorts daarop dat 70 % van die wêreld se vraag na goud in 1980 uit die VSA en Europa gekom het, terwyl dit nou net 20 % is. Die opkomende markte se groei plaas opwaartse druk op die goudprys en die afgelope vyf jaar het die aanvraag na goud uit die opkomende ekonomië tot 70 % gestyg. Hiervan is die helfte uit China en Indië.

“So lank as wat rente laag bly en inkomstes in China en Indië bly styg, sal die aanvraag na goud bly styg,“ het Stöferle gesê.

Of terugkeer na die goudstandaard die Amerikaanse vraag na goud gaan verhoog en opwaartse druk op die ekonomie gaan plaas, hang ook deels af van die variasie van die goudstandaard wat geïmplementeer sou word.

Die huidige denke onder die voorstanders is dat ‘n reëlsgebaseerde stelsel ontwikkel word, en dat die goudprys dan deur markkragte sy plek vind.

In dié stadium kan niemand met veiligheid die kristalbal raadpleeg nie. Wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat die Amerikaners nou keelvol is vir die geploeter om die land uit die ekonomiese put te gesleep te kry, en bereid is om ou en nuwe denke weer op die agenda te plaas.

Sinici meen dit is handig dat die Fed die rol van die stiefma opneem. Dit neem die aandag weg van die gedagtes wat wêreldwyd gekoester word as uitvloeisel van die Wall Steert-protes, naamlik dat inhaligheid van bankbase en groot ondernemings, saam met soustreine vir politici, vir die ekonomiese rampspoed gesorg het.

In die Amerikaanse verkiesing is dit immers net die rykes wat dit as presidentskandidate kan maak, en presidentskandidate wie se welvaart deel van die probleem is, is nie goeie politiek nie. Vir dié politici is dit dan goed om die kiesers een gemeenskaplike vyand, die Fed, voor te hou, en die huidige opvattings oor waar die ekonomiese probleme lê, na intensiewe teorieë te verplaas.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae