Nuuskommentaar: Grond (en ondergrond) en spraakvryheid

Suid-Afrika onder die leierskap van nie-Afrikaners

Drie verwante sake het hulle gister op verskillende plekke in die land afgespeel wat elkeen na fundamentele aspekte van die grondwet verwys, en wat ‘n impak op volgende jaar se verkiesing gaan hê.

Jan-Jan Joubert skryf in ‘n rubriek in Beeld ondermeer: “Dat die ANC in ’n groter mate as ooit tevore sedert die koms van ons demokrasie met die rug teen die muur veg, is ’n feit. Die morele hoë grond, so swaar verwerf in die aanloop tot 1994, is deur kaderontplooiing, onbeholpenheid, korrupsie, wanbestuur en selfverryking verspeel. Dit bestaan nie meer nie. Met Nkandla, handboeklewering en skokkende munisipale wanbestuur, veral as jy dit met die meeste DA-munisipaliteite vergelyk, raak die ANC se geloofwaardige antwoorde op kritiek nou vinnig op. Die party sal iets moet vind waarmee hy tot die aanval kan oorgaan, veral teenoor sy sterkste teenstander, die DA.”

Jan-Jan meen die grondkwessie sal hierdie fokus hê, en hieroor verderaan. Daar moet egter eers ‘n ander saak in plek gekry word, en hiermee word al ‘n ruk lank gewoeker. Dit is ras, of liewer die beklemtoning van ras, en daarmee saam die blamering van apartheid. Hieroor is al ruim, ook op Maroela Media, ontledings gedoen.

Om hierdie ou koei bene te gee moet die inligtingsvloei redelik goed beheer word, en dit word deeglik waargeneem op die wyse waardeur die SABC-TV as “His master’s voice” die nuus aanbied, of liewer plooi.

Maar dit verg ook dat daar ‘n stremming sal wees op ander inligtingsvloei, en dat meningsvryheid op verskillende maniere aan die ban gedoen word. Waar dit nie meer doeltreffend deur “politieke korrektheid” gedoen kan word nie, word ‘n wye netwerk ingespan soos afhanklikheid van poste in die staat, kontrakte, tenders, of dan ‘n enorme slegsê. Die kritiek wat minister Trevor Manuel in eie geledere op die lyf geloop het is ‘n goeie voorbeeld.

1. Spraakvryheid

Die eerste belangrike saak gister het by een van Kovsies se gradeplegtighede gebeur, waar die kanselier, dr. Khotso Mokhele, wat self oor ‘n doktorsgraad in mikrobiologie beskik en ‘n indrukwekkende akademiese loopbaan op sy kerfstok het, en as student op Fort Hare geskors is omdat hy sy mening uitgespreek het, aan die studente gesê het: Julle het egter nie net die reg om jul menings vryelik uit te spreek nie, die rektor, prof. Jonathan Jansen, sal jou waarskynlik nog ‘n drukkie ook daarvoor gee.” Hy het gesê hulle moet hierdie reg gebruik om die agteruitgang wat algemeen om ons voorkom te stuit.

Dit is ‘n gelaaide boodskap. In ‘n paar sinne het hy dit duidelik gemaak dinge gaan agteruit, dat dit openlik uitgewys moet word, en geïmpliseer dat hy hierin prof. Jansen se steun het.

2. Grondbesit

Jan-Jan se artikel handel oor die “debat”  gister in Kaapstad waar die 100-jarige herdenking van die Wet op Naturellegrond aan die bod gekom het. Die volgende sinne kontrasteer skerp met dr. Mokhele se woorde: “Onder die charismatiese, maar taamlik onbeteuelde leiding van Stone Sizani, voormalige Oos-Kaapse ANC-leier, het die regerende party se aanslag uit die voorsitterstoel gekom en die een ANC-lid ná die ander onbeperkte ruimte gegee om hul eie verhaal van verlies te vertel… (Die DA se Anchen Dreyer) kon nie meer as drie sinne sê sonder dat Sizani of ’n ander ANC-LP haar op die mees onfatsoenlike wyse doodgepraat het nie. Sizani het haar male sonder tal onderbreek om haar woordryk te verseker hy sal haar reg om te praat beskerm en in die proses het hy haar natuurlik presies deur daardie handeling daardie reg ontneem, op ’n siniese manier wat hy dalk as slim en uitgeslape beskou het.”

Die meeste lesers sal die skrobbering onthou wat dr. Pieter Mulder uit talle oorde gekry het toe hy verlede jaar dit gewaag het om ‘n meer objektiewe geskiedenisles oor die historiese grondbesit aan die parlement voor te hou. Ook die DA het ‘n verklaring uitgereik om hom te betig. Toe pres. Zuma onlangs in ‘n toespraak meld dat tradisionele swart grond hoofsaaklik in die land se droër dele geleë is, wat louter bollie is as dit met die reënvalisotopekaart vergelyk word, het kwalik ‘n haan daarna gekraai. Is politieke korrektheid afgestof of het die waagmoed om darem net ook die waarheid iewers te laat voorkom voor die intimidasie geswig?

3. Mineraleregte

In die lig van die onlangse debakel oor die regterlik Dienskommissie en die aanstelling van regters, wat ook die aansien van hoofregter Mogoeng Mogoeng geknou het, het die uitspraak van die Grondwetlik Hof die vraagtekens oor sommige regters se bekwaamheid en objektiwiteit, reg of verkeerd, net verdiep.

Beeld haal dr. Theo de Jager van Agri SA soos volg oor die kwessie aan: “Die deur is nou oopgemaak. Wat gaan volgende weggevat word sonder vergoeding? Grondeienaars se water? Hul grond? En daarna huise in stede?”

Mnr. Willie Spies, regverteenwoordiger van AfriForum, stel dit so: ““Veral in die lig van konsepwette oor grondhervorming voorspel hierdie uitspraak niks goeds vir grondeienaars nie.”

Ds. Theunis Botha van die CDP wys onder meer op die implikasies van die hof se stelling, dat soos Beeld dit stel: “Boonop stel die wet die posisie reg wat in die apartheidsera gegeld het toe bitter min swart mense grondeienaars (en dus houers van mineraalregte) kon wees, volgens die regters.”

Watter ander fundamentele regte kan nog opgeoffer word om persepsies (getoets of ongetoets) oor die verlede “reg te stel?

Met die oorgang na die nuwe bedeling het verskeie politieke wetenskaplikes van statuur daarop gewys dat die tipiese patroon sou wees, soos ook in Zimbabwe gebeur het, dat die nuwe regering vir twee verkiesings daarmee sal kan wegkom om alles wat verkeerd gaan op die vorige bedeling se brood te smeer. Omdat die derde verkiesing aan die einde van die tien jaar grasie plaasvind, het die regering in wese 15 jaar in die stoel so reeds gereserveer. Daarna raak die storie afgesaag, en die bevolking sluk dit nie meer so maklik nie. Dan word na ander populistiese sake gewend, soos grondgryp (weer eens met Zimbabwe as voorbeeld).

In Suid-Afrika het politieke wetenskaplikes intussen ander verklarings vir die ANC se verkiesingsvolhoubaarheid begin soek, onder meer aangevuur deur staatsregslui se blinde geloof dat die grondwet danksy ‘n ordentlike regbank intak is.

Vir die persoon wat ten duurste vir sy grondjie met ‘n soutpan op betaal het is daar nou weinig troos – as die minister die mineraleregte aan iemand anders toeken (wat wel gebeur – ook in sake waar korrupsie bewys is) sit hy met ‘n waardelose stukkie grond en sy belegging is saam met die vermoë om vir hom en sy gesin te sorg daarmee heen. Die Grondwetlike Hof ontken nie dat die wet die grondeienaar van ‘n reg ontneem is, maar dat dit nie op ‘n reg neerkom waarvoor op vergoeding geregtig is nie. Dit sal ‘n goeie advokaat verg om ‘n soutboer te oortuig hy het nie ‘n baie ernstige kort lootjie getrek nie.

Die onus is nou op die regbank en die regters om die vertroue in die regbank te herstel. Die regbank is die laaste loopgraaf nadat die grondwet nie kon verseker dat die ander wigte en teenwigte hul funksies doeltreffend kon uitvoer nie.

En nog meer stemme soos dié van dr. Mokhele is nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae