Nuuskommentaar: Grondgryp en voedselsekuriteit

Terwyl die ANC by sy beleidskongres koppe stamp oor die kwessie van grondhervorming, dwing die kwessie van voedselsekuriteit heelwat Afrikalande om in die teenoorgestelde rigting te werk. Volgens WorldWatch besit buitelanders nou deur die koop of huur van landbougrond in Afrika ‘n oppervlak min of meer so groot soos Turkye of Zambië – ‘n totaal van 702 000 vierkante kilometer.

Die opraap van die grond het in 2009 ‘n hoogtepunt bereik toe ‘n voedselkrisis hard geslaan het, en die prys van landbouprodukte skerp gestyg het. Die meeste van die buitelanders is van Indië, China en Brasilië. Ook die regerings van Suid-Korea, Indonesië en Indië is met landbou anderkant hul landsgrense betrokke, en hiervan is sowat 80 % in Afrika, meestal in Oos-Afrika. Onlangs is berig dat daar tot die owerhede in Zimbabwe se ontsteltenis ontdek is dat die mielies wat uit Zambië ingevoer het, deur van die einste boere geproduseer is wie se grond in Zimbabwe afgevat is.

Pres. Jacob Zuma is in die verlede verskeie kere aangehaal waar hy gesê het grondhervorming is nodig om landelike armoede te bekamp. Hoewel daar suksesvolle swart nuwelingboere is, bereik die oordrag van grond dikwels die teenoorgestelde as wat beoog is, met tot 90 persent mislukkings in sekere dele.

Georganiseerde landbou wys by herhaling daarop dat die stadige pas van grondhervorming aan korrupsie en wanbestuur van die amptenary te wyte is. Die regering hou egter voet by stuk dat die probleem daarby lê dat pryse opgejaag word wanneer dit blyk dat die staat ‘n plaas wil aanskaf. Die landbou verskil sterk hiervan. ‘n Groot deel van die kommer is intussen, voorlopig altans, uit die weg geruim toe pres. Jacob Zuma in sy openingsrede van die ANC se beleidskongres wat nou plaasvind, gesê het die grondwet sal nie gewysig word om grondhervorming te versnel nie. Maar dit is die einste Zuma wat groot argwaan uit die landbou ontlok het toe hy tydens sy begrotingsrede die boere daarvan beskuldig het dat hulle hul grond en strukture laat verwaarloos wanneer die staat die grond wil aankoop, en dit as ‘n rede vir die baie mislukkings voorgehou het.

‘n Deel van die probleem is dat daar geen behoorlike rekord is van hoeveel landbougrond nou in wit, en hoeveel in swart, bruin en Indiërbesit is nie. In die Vrystaat nader ‘n ouditproses waarby Vrystaat Landbou nou betrokke is, sy finale fase nadat die spertyd vir die voorsiening van die data aan dié organisasie onlangs verstryk het. Dit is egter nie net swart beginnerboere wat onderdeur spring nie. Die aantal kommersiële boere neem ook jaarliks af, met suksesvolle boere wat meestal die grond opkoop. Soos gevestigde kommersiële boere, loop die nuwelingsboere ook onder veediefstal – en heel dikwels die roof van hele kuddes, droogtes, eskalerende kostes soos elektrisiteit en brandstof, en stormskade deur.

Die vermoede is dat die grondkwessie meer met kiesersteun verband hou. In die meestersverhandeling van die Matie Charl Swart word daarop gewys dat 80 % van alle swart mense in 2007 geglo het, of sterk geglo het, dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. Dit is ‘n persentasie wat styg en heelwat meer as 80 % van die swart bevolking sal dit nou waarskynlik glo. In dieselfde jaar het slegs nege persent van die blankes dieselfde mening gehuldig, ook ‘n persentasie wat styg. Ongeveer 46 persent van die bruin mense en Indiërs meen ook blankes het hul grond deur diefstal bekom. Dit is ‘n hoogs emosionele kwessie, en met sulke uiteenlopende menings oor dieselfde saak is polarisasie bykans onafwendbaar.

Verskeie Afrikalande het reeds die lesse geleer wat Suid-Afrika nog moet leer – wat gebeur as die mense honger is en die eens produktiewe landerye staan onbenut. Suid-Afrika is ‘n marginale landbouland, met slegs klein hoë reënvalgebiede waarvan die reënval met die wêreldgemiddeld ooreenstem. Boonop dui verskeie projeksies op warmer en droër klimaat aan die land se westekant. Om grond aan onkundiges oor te dra, skep armoede – dit verlig nie landelike armoede nie. En ‘n honger kieser kry nie sy kinders se magies met beloftes vol nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.