Nuuskommentaar: Grondwetregters aangekla

Luisteraars na RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, het waarskynlik onthuts regop gaan sit toe een van die deelnemers, dr. Piet Croucamp, gesê het dit is geen uitgemaakte saak dat die grondwetlike hof die omstrede inligtingswetsontwerp as ongrondwetlik sal verwerp nie.

Die rede vir sy stelling is onheilspellend. Met die saak van die Skerpioene was die verdeling tussen die regters 5 – 4. Van die regters neig om politieke beslissings eerder as grondwetlik-juridiese beslissings te maak. As die president die twee vakatures met ja-broers vul, kan die wet die toets van grondwetlikheid slaag?

Die implikasies is legio. Die howe, met die grondwetlike hof as finale instelling, word wyd voorgehou as die laaste bastion van die wigte en teenwigte wat die grondwet moes verskans.

Dit is nog meer ontstellend dat die FW de Klerkstigting die ANC daarvan beskuldig dat dié party op 5 Maart vanjaar laat blyk het dat dit die nasionale akkoord waarop die grondwet geskoei is, is of minstens dele daarvan, nie meer as bindend beskou nie.

Voorts is daar ʼn veldtog teen die oppergesag van die grondwet, wat deur die president self gelei word, terwyl van sy ministers dit duidelik maak dat die Vryheidsmanifes, beter bekend as die Freedom Charter, swaarder weeg as die grondwet.

Hoe geldig is die kommer oor die grondwetlike hof? Vroeër het die FW de Klerkstigting in ʼn verklaring enkele sake genoem wat die stigting meen, waarin die grondwetlike hof in sy uitsprake gefouteer het. Daar is ander tekens – soos die minderheidsuitspraak in ʼn regterspaneel van twee regters, deur regter Kate O’Regan oor die onteiening van padreserwes.

Een van die vroeë gevaartekens was die bekende uitspraak van City Council of Pretoria v Walker, in 1998. In hierdie saak het die meerderheid regters beslis dat plaaslike owerhede wat blanke inwoners gemeterde tariewe, en swart inwoners in die townships vaste tariewe laat opdok, ongrondwetlik optree. Die saak het gevolg na ʼn aantal blankes juis die grondwet se verbod op onbillike diskriminasie gebruik het om ook die Wet van Transvaal deur vaste tariewe na te kom.

Regter Albie Sachs het egter ʼn minderheidsuitspraak gelewer, wat ook sou kwalifiseer as ʼn ANC-politiek-korrekte uitspraak. Hierdie uitspraak word in daardie kringe steeds as ʼn model-uitspraak voorgehou en dikwels word verswyg dat dit ʼn minderheidsuitspraak is. Die saak kan hier gelees word

Van regter Sachs moet egter ook gesê word dat hy nie net op die Walker-saak beoordeel kan word nie. Sy bydraes tot regstellende geregtigheid in die Ubuntu-konteks word as beduidend beskou en die beginsel van natuurlike geregtigheid het by hom baie swaar geweeg. Hy het ʼn dinamiese konsekwentheid hiermee deur sy uitsprake aan die dag gelê. Sy fokus op ras eerder as die individuele omstandighede het egter sy werk beïnvloed en word nou erg gemanipuleer om ʼn pseudo-jutdiese regverdiging vir die regering se neo-apartheid aan te bied.

Of Croucamp wolf-wolf skree is te vroeg om te sê. Die grondwetlike hof hét al indrukwekkende uitsprake gelewer, waarvan baie, soos die bekende Modderklipsaak, die regering met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Rigtinggewende sake wat die publiek se oog tref, moet nog volg na regter Magoeng Mogoeng as hoofregter aangestel is.

Sou die grondwetlike hof ʼn politieke rubberstempel word, tuimel die laaste wig van die wigte en teenwigte wat opnuut die feit onderstreep dat wanneer ʼn grondwet geskryf word, dit behoorlik gedoen moet word. Prof. Marinus Wiechers, een van die argitekte van die huidige grondwetlike bedeling, het pas in ʼn onderhoud die volgende te sê gehad: “Die huidige Grondwet kon doelmatiger gewees het. Eerstens kon taalregte doeltreffender verskans gewees het. In die Interim-Grondwet was daar ’n klousule dat die tale se bestaande status nie mag verander nie. Dis toe uitgehaal.”

ʼn Doelmatiger grondwet is ʼn swakheid as die grondwetlike hof deur goeie, onafhanklike regters oorheers word. Politieke aanstellings verongeluk daardie luukse. Sou Croucamp reg wees, is Suid-Afrika nie uniek nie. Die VSA se geskiedenis is bevlek hiermee, waar konserwatiewe regters in die Supreme Court konserwatiewe presidente volg en liberale regters weer liberale presidente. Hoogstens is daar ʼn sleureffek ingebou, sodat George W. Bush waarskynlik stilweg verlig is dat hy nie genoeg tyd gehad het om die hof met regters te laai wat die Wade v Roe-saak kon omkeer nie. Met daardie uitspraak is aborsies op aanvraag gewettig en het dié saak sedertdien die fokus van pro-lewe lobbies.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae