Nuuskommentaar: Het kabinet ‘n boerestaatsgreep uitgevoer?

Tydens sy staatsrede vroeër vanjaar het pres. Jacob Zuma gesê dat die kabinet die groenskrif oor grondhervorming goedgekeur het.

Op 28 Maart reageer mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, met teleurstelling op ‘n aankondiging van  die minister van Arbeid, Mildred Oliphant  dat wysigings op die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes deur Kabinet goedgekeur is. Möller gaan verder: “Dit is uiters frustrerend dat die kabinet ingrypende wysigings aan arbeidswetgewing goedgekeur het ten spyte van onvoltooide onderhandelings wat die afgelope jaar in Nedlac daaroor gevoer is. Terwyl Agri SA as deel van die sakegemeenskap in goedertrou aan die proses deelgeneem het om werkbare oplossings vir hoogs komplekse kwessies te vind, blyk dit uit die gepubliseerde konsepwetgewing dat hierdie insette vanweë politieke oorwegings bloot van die tafel gevee was.”

Intussen is ‘n swartbemagtigingskode vir die landbou in die staatskoerant gepubliseer, na jare se onderhandelings. Landbou-organisasies het nou 60 dae tyd om die konsep-wetgwing te bestudeer en daarop kommentaar te lewer.

In werklikheid kry beleidsvoorstelle eers beslag na ‘n groenskrif aan ‘n redelike lang proses in ‘n witskrif gegiet is, en eintlik wanneer wetgewing deurgevoer is om die witskrif te implementeer. Grondhervoring in Suid-Afrika is tot dusver gedryf deur die Witskrif hieroor van 1996, wat sedert 2009 ook ‘n gedeelte oor landelike ontwikkeling bevat.

Die ontsteltenis dat die kabinet ‘n groenskrif oor grondhervorming goedgekeur het, gaan dus eerder oor die inhoud wat min tekens van kundige raadpleging insluit, as kommer dat die proses om die bestaande witskrif te vervang, ondergrawe is. Maar die wyse waarop Lethuli-huis die gewraakte inligtingswet deur die Nasionale Vergadering gedryf het, laat nogtans kommer ontstaan oor die relevansie van die parlement. Dit is veral kommerwekkend as in ag geneem word dat Cosatu, die ANC se vernaamste alliansievennoot, bereid is om die regering oor die inligtingswet voor die grondwetlike hof te sleep.

Wat landboubeleid en toepassing betref, is dit te betwyfel of die ANC uit daardie oord teenspoed kan verwag.

Toe die georganiseerde landbou in 2010 ontsteltenis uitgespreek het oor nuus wat in die groenskrif oor grondhervorming opgeneem sou word, het die minister aan Agri SA die versekering gegee dat dit nog net beleidsvoorstele is, Zuma se aankondiging dat die kabinet die groenskrif reeds goedgekeur het, is dus met die verwagte ontsteltenis begroet.

By Vrystaat Landbou se kongres verlede jaar het ‘n inligtingstuk, opgestel deur Agri SA se regsadviseur Annalise Crosby, gedien. Hierin skryf Crosby onder meer: “Nadat die Groenskrif amptelik verskyn het, moet daar nog oor die voorstelle gekonsulteer word en dan sal ‘n Witskrif volg wat die amptelike beleidsdokument sal wees.  Uit die witskrif sal dan nuwe wetgewing volg.  Dit is dus ‘n redelike lang proses van die verskyning van die groenskrif tot by die implementering van wetgewing en daar behoort heelwat geleentheid vir insette en kommentaar te wees.”

Dit, so wil dit al meer lyk, blyk die teorie te wees.

In die groenskrif oor toerisme vir die Wes-Kaap wat deur die Wes-Kaapse regering in 1999 bekend gestel is, is die volgende verduideliking van die proses vervat: “Die Groenskrif oor Toerisme in die Wes-Kaap van Oktober 1999 is gepubliseer en omvattend hersien na wisselwerking tussen die provinsiale regering en belanghebbendes van toerismebemarkings-organisasies, sakeverenigings, opleidings- en  onderwysinstellings, gasvryheidskorporasies, plaaslike regerings en die burgerlike samelewing. In sy hersiene vorm is die Groenskrif deur meer as 200 verteenwoordigers van die toerismebedryf bespreek. Hierdie (konsep-) witskrif bied nou ‘n ooreengekome beleidsraamwerk en riglyne vir die ontwikkeling en bevordering van toerisme in die Wes-Kaap. Kommentaar op hierdie (konsep-) witskrif sal opgeneem word en die witskrif sal aan die kabinet voorgelê word vir formele goedkeuring. Nadat die wetsontwerp om die nodige raamwerk vir implementering daar te stel aangeneem is, sal ‘n raamwerk vir strategiese implementering gepubliseer word.”

In die meeste lande wat eens deel van die Britse koloniale ryk was is dit duidelik dat ‘n beleidsdokument eers die status van ‘n witskrif kry na dit deur die parlement goedgekeur is. Openbare insette word ernstig opgeneem as metode om kundige insette in te win, en die “van die tafel vee ter wille van politieke oorwegings” druis teen konvensie in. Bloed word immers uit ‘n klip getap soos belastingbetalers vir hierdie konsultasieprosse moet opdok, en om dit as oëverblindery toe te pas druis in teen die gees van die regering se sosiale kontrak met die burgery, asook fiskale verantwoordbaarheid.

Die grondwet maak dit immers duidelik dat die president en sy kabinet, as uitvoerende gesag, wetgewing wat deur die parlement goedgekeur is, moet uitvoer. Dit kan ook wetgewing inisieer en voorberei.

As oorsigliggaam oor die kabinet en as wetgewer sal die parlement versuim as dit sy eie funksies aan die kabinet oorlaat, of bloot as rubberstempel van die kabinet, en dus Lethulihuis,  begin optree.

Die wyse waarop die kommersiële landbou in Suid-Afrika voortdurend moet vind dat hul insette oor beleid en wetgewing in die stof byt, is ontstemmend. Pas het dit aan die lig gekom dat die probleem met die toepassing van bestaande arbeidswetgewing nie so seer by die kommersiële boere lê nie; slegs 38 % van die bemagtingingsboere in die Wes-Kaap wat deel van ‘n prestige-ontwikkelingsprogram uitmaak, voldoen aan die vereistes van arbeidswetgewing. Dit is onwaarskynlik dat dit elders in die land beter gaan. Gegewe die groot persentasie mislukte vestiging van opkomende boere dwars oor die land is dit duidelik dat retoriek nie die regering by sy doelwit van die uitskakeling van landelike ontwikkeling gaan uitbring nie – dit gaan eerder armoede skep.

Landbou is ‘n veels te komplekse bedryf om ideologies bedryf te word – ‘n veel meer tegnokratiese benadering is wat kos op die tafel plaas, wat aan sowat ‘n miljoen mense werk verskaf, en ook aan hulle en hul gesinne huisvesting en skoolgeboue voorsien.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae