Nuuskommentaar: Hil spêling is frôt, mar hil somme frôtir

Taalpuriste het al dikwels geskryf dat Afrikaans se grootste bedreiging nie die eietydse Milneriste is nie, maar die entoesiastiese gebruikers van die taal.

Nie almal eis die stram en onbuigsame besiging van die taal op nie, sommiges is baie entoesiasties oor ‘n vernuwende taal wat rats oor die uitdagings huppel, ‘n taal wat systap, swaar bagasie wegbêre en improviseer om nuwighede baas te raak.

In die breë Afrikaanse raamwerk is daar plek vir Kaaps, lekkersleur deur die Namakwaland, dit kry ‘n eiesoortige klankie innie Boland in, dit word in die Swartland en Overberg gebgy, en in die ooste van Pretoria gaan pô en mô ‘n bietjie in die stôtsteater uithang.

Maar om Engels as buurman te hê kom teen ‘n prys – sal ‘n Vrystaatse skoolhoof in sy nuusbrief sy mond uitspoel oor die papiertjies wat op die skoolgronde rondwaai, en hy skryf die nuusbrief in sy kantoor neffens die koperplaatjie wat aandui dat daardie vertrek die rekenaar kamer huisves.

Dosente het gou vasgeskop toe kansvatterstudente hul vraestelle in SMS-taal probeer beantwoord het.

Terwyl daar groot opgewondenheid is oor die groei in Afrikaanse boeke, terwyl maar ‘n klein persentasie van die aanbod boonop die drukpers haal – iets wat deels deur die opkoms van e-boeke verstel word – is dit eenvoudig firskriklik om na veral die spelling van Afrikaans op webwerwe te kyk, ook op webwerwe wat hulle vir Afrikaans, die Afrikaner en selfs Boere Afrikaner (sic) beywer. Die skrywers het dikwels duidelik geen benul van die reëls, soos oorgeneem uit Nederlands, van wat vas, en wat los geskryf moet word nie.

Kappies en deeltekens op klinkers val dikwels weg danksy rekenaars wat dit nie maklik maak om dit aan te bring nie, wat dikwels nog oorgesien kan word, maar wanneer ‘n dominee ‘n bydrae van sy jeugwerker, ‘n teologiese student, vir die nuusbrief so kry dat die plaaslike hoërskool vir meisies die deelteken makeer, raak dit darem bietjie rof.

Dit alles geskied teen ‘n tragiese agtergrond. Die taalvaardigheid van leerlinge in graad 9 vir hul eerste bykomende taal staan gemiddeld op 35 persent.

Vir wiskunde lyk dit nog slegter, naamlik 12,7 persent.

Die Business Day wys daarop dat Suid-Afrika op vanjaar se Mededingsindeks uit 142 lande, 133ste geplaas is vir die gehalte van onderrig. Wat wiskunde- en wetenskaponderrig betref, het Suid-Afrika net Jemen uitgestof.

Jemen kan enige oomblik die terreur wat in die land plaasvind opgelos kry, en sy olierykdomme kan weer ongesaboteer die terminusse haal, wat beteken dat van Suid-Afrika se voorste onderwysers wat hier sukkel om poste te kry, ook daar vir goeie geld kan gaan klasgee.

Om te keer om laaste te kom sal Suid-Afrika sy sokkies moet optrek. In baie gevalle gaan dit om gesindhede, en dit is al dikwels gesê Suid-Afrika se grootste vyand is Sadou.

In die VSA spandeer die staat gemiddeld $10 615 per leerling per jaar in openbare skole. In ‘n insiggewende artikel deur Nic Spaull in PoliticsWb meld hy dat dit in Suid-Afrika op $1 225 neerkom, agtien keer meer per leerling as Uganda, maar dat die land min of meer dieselfde uitkoms in geletterdheid onder graad 6 leerders behaal.

Iets anders as net geld speel dus ‘n rol. Selfs die VSA is ‘n voorbeeld daarvan dat geld nie alles regmaak wat krom is nie. Uit elf lande wat gemeet is, het die VSA die meeste per leerling spandeer, maar negende in wetenskap, en tiende in wiskunde gekom.

Suid-Afrika spandeer ongeveer agtien persent van sy BNP op leerlinge – effens meer per hoërskoolleerling as vir die pikkies in die laerskool. Baie hiervan kom regstreeks uit ouers se sakke, waar ‘n wye gevoel heers dat hoe minder sê die staat, en hoe meer die ouers via beheerliggame het, hoe beter vir die leerlinge.

Met skoolboeke wat eers na verskeie hofaansoeke afgelewer is, is dit duidelik dat die korrupsieplaag wat die land beet het, die land se kosbaarste belegging in die toekoms, die jeug, ook bedreig. En dis uncool.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae