Nuuskommentaar: Hoes of betaal is die wet wat nie faal

Die beslissing van die Grondwetlike Hof dat die vakbond, Satawu, vir die skade verantwoordelik gehou word wat sy lede tydens ‘n optog in Kaapstad aangerig het, sal ‘n baie versoberende uitwerking op die karakter van stakings in Suid-Afrika hê.

Die ontduiking van verantwoordbaarheid in Suid-Afrika is ‘n groot probleem en maak dikwels van demokratiese konvensie ‘n gekke klug. Vanoggend meen die meeste koerante in Suid-Afrika dat die jongste kabinetskommeling weinig met beter verantwoordbaarheid te make het, en meer met ‘n konsolidasie van steun vir pres. Jacob Zuma. As tipiese voorbeeld word daarop gewys dat die spartelende Tina Joemat-Pettersson nie die trekpas gekry het nie.

Onbekwame ontplooide kaders oorleef gewoon die jaarlikse verdoemende verslae van die Ouditeur-generaal, in der mate dat die OG nou ook al sy onvergenoegdheid hiermee hardop uitgespreek het. Nou het die grondwetlik hof ‘n belangrike beginsel neergelê. Die vakbond kan weer die skade wat hy weens eise op die lyf geloop het van die lede wat amok gemaak het verhaal. Die hof meen die vakbond is veel beter in staat om die skuldiges te identifiseer en aan die pen te laat ry as die slagoffers.

Satawu het van die Hooggeregshof na die Appèlhof en toe na die Grondwetlike Hof geappelleer en elke keer die kous oor die kop gekry.

Wat die publiek gelees en gehoor het oor hoekom Satawu so geappelleer het, is dat die verantwoordbaarheid wat op vakbonde geplaas word, protesoptogte effektief onmoontlik maak. Dit is ‘n belediging vir vakbondwese in die algemeen. In die meeste politieke kommentare word daarop gewys dat hierdie uitspraak vir Cosatu, by wie Satawu geaffilieer is, ‘n slag sal wees. Cosatu is egter nie al vakbondrolspeler nie, en sy vernaamste vakbond, NUM, word op die oomblik geërodeer deur radikaler vakbonde binne en buite Cosatu. Iemand hoef maar bloot kennis te neem oor die wilde uitsprake van NUMSA se grootbaas, Irvin Jim, om te besef waartoe radikale vakbondwese kan neig as daar nie brieke is nie. Die ontstellendste is seker die oproerplanne om wysigings aan die grondwet te laat aanbring. Die beoogde metodes laat nie veel aan die verbeelding oor nie.

Heel aan die ander kant is daar Solidariteit met sy wortels in die Christelike vakbondwese, vir wie molesmaak, vandalisme en geweld ondenkbaar is.

Dit is nie asof vakbonde nie dikwels ‘n goeie saak het nie. Die loongapings in bedrywe soos munisipale strukture oorskry dikwels die sneller van rewolusie op die grafiek van relatiewe deprivasie loshande, en vergroot jaarliks ten spyte van waarskuwings dat die onbekwame grootbase nie net reuse verhoging en bonus op reuse verhoging en bonus kan kry, en die werkers ‘n toe hand, sonder dat die bottel gaan bars nie.

Wanneer ‘n staking begin, het die breë publiek dikwels baie simpatie met die werkers, maar kort voor lank word vullisdromme in die strate omgekeer, geparkeerde motors verniel, winkels beskadig en joernaliste onder klippe gesteek. Die simpatie verdamp. Dit is ondenkbaar dat Satawu sou kon aanvoer dat hy nie vir die skade verantwoordelik gehou kan word nie, en dat die hofuitspraak ongrondwetlik sou kon wees nie. Geen reg, soos die reg op optogte, is onbeperk nie, en die aanrig van skade is nie deel daarvan nie. Grondwetlike demokrasie is nie sinoniem met anargie nie.

Behalwe dat belastingbetalers, voor die uitspraak gewoonlik pa en ma moes staan vir skade, rig dit oneindige skade aan die ekonomie aan. Watter belegger sou met vrymoedigheid in ‘n land belê wat op die wêreldvredesindeks agteruit boer, en nou reeds die 127de posisie uit 158 lande beklee? Twee buurlande, Botswana in die 31ste posisie en Namibië in die 49ste laat Suid-Afrika sleg lyk.

Terwyl die land op die stakingseisoen afstuur, meen kenners daar het die afgelope ruk tussen twee en drie diensleweringsproteste per week voorgekom. Dit gaan ook dikwels met vandalisme gepaard, en doen die land geen guns nie.

Maar soveel hiervan kom voorkom gewees het as daar van die laagste tot die hoogste vlak ‘n kultuur van verantwoordbaarheid was. As daar nie ‘n soustrein met ‘n stropersmentaliteit was nie… as korrupsie nie, aldus prof. André Duvenhage en ander nie endemies was nie… Nou word darem iewers briek aangedraai.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae